Tuesday, August 30, 2005

BLUES NOORD EN SUID


KAAL, Dorpstraatteater, Stellenbosch, 20 Desember 2003
DAN PATLANSKY & THE MISSISSIPPI MUTHERS, The Blues Room, Sandton, 8 Januarie 2004

Ek het Swartseun se euforiese hosannah oor die Mississippi Muthers se oujaarsaand optrede (SA Klank # 19) met belangstelling gelees, en weer gelees, en gewonder of hierdie persoon werklik enigiets van die diep blues weet, en of hy nie bloot vol nuwejaarsdrank was ten tye van die optrede nie. Swartseun dink blykbaar dat sy cliché-gebaseerde hiperboliese orgasme oor die gewaande aard van die blues ons moet beindruk. Mense moet begin besef blues is nie ‘n mistieke ervaring nie, dit is musiek, en dit is ‘n onding om sulke absurde talismaniese waarde daaraan te heg. Ek meen, asseblief!

Ewenwel, een ding wat nie te betwyfel is nie, is dat Dan Patlansky ‘n tegniese bedrewe en moontlik selfs inherente talentvolle kitaarspeler is. Hy kan ‘n stel kitaarsnare looi dat ‘n mens jou hande saamslaan in bewondering vir die ontstuimige vaardigheid, maar ek is bevrees dat, op die getuienis van die Mississippi Muthers se onlangse optrede by die Blues Room, daar nie veel was van die aard van die blues waaroor Swartseun so histeries raak nie.

Die Blues Room was moontlik kwartvol, ‘n paar tafels met eters, ‘n klompie mense wat op die rand uithang, en by tye het dit voorgekom asof Patlansky se sending is om die vertrek met sy opruiende akkoorde en note te vul om op te maak vir die gebrek aan siele. Ons was te laat om van die begin af daar te wees en het ingestap tydens die laaste gedeelte van “Sweet Sixteen,” en hier het Patlansky alreeds al sy toertjies uitgehaal: die afwisselende kragakkoord ritmes, die skreeuende, rollende nootstortvloede, die vurige, woeste regterhandaksie, en al daardie tegniese dinge wat sy lewendige spel so opwindend laat klink. Probleem was, die volgende nommertjie was ‘n lang weergawe van “Chitlins Con Carne,” met ‘n tweede skeppie van dieselfde soort van spel en truuks as in die vorige nommer. En so was dit heelaand. Om dit so te stel: as jy een uitspattige Patlansky kitaarsolo gehoor het, het jy ‘n goeie idee van hoe die res gaan klink. Die detail mag verander, maar die geheelindruk bly dat Patlansky ‘n one trick pony is. Nog erger, daar is geen aanduiding van die melodieuse subtiliteit wat nog op die Standing at The Station CD te bespeur is nie, en hy dring daarop aan om n solo op elke nommertjie te speel. Nee, dis nie reg nie, elke nommer is hoofsaalik net die stormende Patlansky kitaarklank met ritme begeleiding. Hy sing bloot omdat daar lirieke is, maar doen dit so vinnig moontlik, met geen gevoel, sodat hy weer met so min oponthoud as moontlik kan lostrek met daai stortvloed. Dis harde blues-rock, dis waar, maar waar is daardie rou opwinding van die blues? Waar is al daardie kenmerke waaroor Swartseun so gaande was? Nie hier, broer, nie hier nie.

Die enigste wesenlike nuutjie word aangebied in die vorm twee glykitaarnommers. Die eerste een het geen woorde nie en toon dat Patlansky ook hier n vindingryke, eiesoortige glykitaartegniek ontwikkel het – vir ‘n slag klink hy soos niemand anders nie – en al maak hy gebruik van so te sê dieselfde speelstyl as met die gewone enkelsnaarmetode, klink dit radikaal anders en ‘n mens begin dink dat hy iets beet het, so waar ‘n eie stem. Ongelukkig maak hy direk daarna droog met die afskuwelikste weergawe van “Red House” wat ek al ooit gehoor het. Die enigste pluspunt is dat dit ‘n glykitaar weergawe is – uniek genoeg, maar met die standaard onsubtiele meer-note-is-beter-as-minder-note aanval en afjaag van lirieke. Wat is die punt?

Ons het nie die moeite gedoen om tot aan die einde van die laaste nommertjie te bly nie – Patlansky het niks meer gehad om ons mee te verras nie.

Die tragiek is dat die liedjies op die album getuienis lewer van ‘n kitaarspeler wat subtiel kan wees, met gevoel kan speel en moeite kan doen om nie elke nommertjie soos elke ander nommertjie te laat klink nie. Ek sou sê Patlansky moet ontspan op die verhoog, liedjies speel en behoorlik sing en nie bloot elke nommer gebruik as n ekskuus vir laaaang kitaarsolos nie. Dit is verbasend hoe treffend dit kan wees wanneer ‘n bluesman sy hart en siel in die uitvoering van die liedjie sit – na alles, die woorde is nogal belangrik – en sy virtuositeit soms in toom hou, veral as die styl so oordonderend is en op die langtermyn so min afwisseling toon. Patlanksy hoef nie elke nommer op nommer tien intensiteit te speel nie; hy moet ‘n bietjie ontspan en die liedjie voorop plaas, veral as hy homself as bluesman wil sien. Tans, op die verhoog, is hy bloot ‘n vurige rocker wat op die blues steun. Sound and fury signifying nothing (but itself.)

Net so toevallig as wat ek by die Blues Room opgedaag het, stap ek in laat Desember by die Dorpstraatteater verby, sien ‘n biljet wat Kaal adverteer (“Hmmm, …) en nog meer misterieus, daar is melding van “Blues t’oppie been” en alhoewel dit vir my bietjie te pretensieus klink, het ek gaan ondersoek instel. Die plek was omtrent net so leeg soos die Blues Room later, maar soos dit mettertyd blyk, is die teenwoordiges meestal vriende en familie van Carl du Preez, die hoof Kaal-man, en hulle is entoesiasties genoeg om ‘n mens van die skamele getalle te laat vergeet.

Die groep agter Du Ptreez is vol: baskitaar, tromme, klawerborde en mooie meisie op bluesviool. Hyself speel kitaar en sing sy eie liedjies, ja, almal syne, Afrikaans en Engels, wat op blues gebaseer is, alhoewel n mens ook Amerikaanse roots rock invloed bespeur, asook n snars reggae. Die belangrike ding is dat die man goeie deuntjies kan skryf. Elke liedjie het ‘n rotsvaste refrein en ‘n gawe aantal van hulle het agterna in my kop vasgesteek, onder ander ook omdat Du Preez kan sing, en die musikante agter hom kan speel. Uitstekende kombinasie sou ek sê, onopgesmukte maar sterk melodie, eenvoudige dog effektiewe musiek en ‘n stem wat met oorgawe kan sing.

Du Preez is klaarblyklik nie so ‘n tegnies vaardige kitaarspeler soos Patlansky nie – definitief nie nog ‘n Stevie Ray Vaughan namaaksel nie -- en sy ritmespel is hoofsaaklik basies blues-skuifelritmes – daai lekker gatskop riffs wat al van Chuck Berry se dae die hart en siel van kroegrock is -- en wanneer hy leads speel, is hulle eenvoudig, weereens melodieus en dien bloot om die liedjie te ondersteun, nie om ‘n doel opsigself te wees nie.

Die eerste stel is akoesties – ten minste Du Preez sit en speel n akoestiese kitaar – en die tweede stel is elektries, maar die liedjies is dieselfde. Veral met die akoestiese weergawes is die tromme en baskitaar op die voorfront met sulke aweregse neo-funk ritmes wat ‘n ander soort van dans is as die boogie van die elektriese stel en ‘n moderne Afrika geur aan die Kaal blues gee.

Dit is wanneer Du Preez sy rooi Strat oor sy skouer hang dat die partytjie begin warm raak en die musikante maak presies die soort van baldadige, loslyf dansrockmusiek wat in kroeë gehoor moet word – die Dorpstraatteater gehoor sit rustig – deur dronk mense wat wil dans en die refreine saam wil sing. Du Preez skryf musiek wat klink soos iets wat n mens al voorheen gehoor het, maar dit is nie ‘n slegte ding nie – dit is slegs die getuienis van hoe goed Du Preez is. Hoeveel ander Suid Afrikaanse liedjieskrywers kan sulke ooombliklik aantreklike musiek skryf? Elke nuwe liedjie bring ‘n nuwe plesier. Ek kon voel hoe ek grinnik van die lekkerte; my regtervoet het wulps saam tydgehou. Die manne, en dame, het wyd en diep gegooi en vir twee uur of wat n mens laat dink jy is in n padkafee iewers suid van die Mason Dixon lyn.

Kaal het ook ‘n CD (Blues To The Bone) wat in Vishoek (geen drankwinkels of kroeë!) van alle plekke opgeneem is en dit klink stukke beter as die Mississipi Muthers se album. Daar is meer en beter musikante en die produksieleiding is uit die hoogste rakke. Ek het vlugtig met die Muthers se baskitaarspeler gepraat en hy het vertel dat hulle R22 000 betaal het vir opnames wat soos demo opnames klink, wat nogal ‘n jammerte is vir ‘n groep met so ‘n hoë Gauteng profiel en wie se lewendige optredes omtrent niks klink soos die album nie. Die groter jammerte is dat Patlansky nie die subtiliteit van sy ateljeespel op die verhoog kan weergee nie. Ek verstaan van Carl du Preez dat Kaal n konsertopname album beplan en ek sien uit daarna. Die CD is goed, volgeprop met dieselfde wonderlike blues ritmes en saam-sing deuntjies en sielsbevredigende spel, maar Kaal se musiek is ook bedoel vir die kroeg en ek sal graag ‘n rekord van daardie energie wil hê. Kannie sê dat ek ‘n opname wil hê van Patlansky by die Blues Room nie.

Blues moenie ‘n kultus word van tegniesvaardige kitaarspel nie, veral nie as die gewaande siel van die blues ontbreek nie. Patlansky probeer stap in die voetspore van allerlei Wit blueskitaarhelde voor hom, maar hy is nog te jonk en te verslaaf aan sy eie vaardigheid en dit is daarom dat sy musiek nie sielsbevredigend is nie. Du Preez, aan die ander kant, is in die eerste plek n man wat n goeie liedjie kan skryf, nie omgee om pop invloede in sy blues te gebruik nie en, soos dit vir my voorkom, nie pretensies het oor die blues nie. Hy hou daarvan, dit gee hom genot om blues te speel en hy ag die uitvoering van die liedjie belangriker as sy eie ego as kitaartowernaar.

Kaal is glad nie die naakte keiser nie. Die Mississippi Muthers het nog steeds niks met die Mississippi Delta te doen nie. Dit is my saak.







1 Comments:

At 12:13 AM , Blogger Unknown said...

danksy sy inligting. groete blogger

 

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home