HOE BLOU IS MY BLUES
Musiek is ‘n baie belangrike komponent in my lewe. Ek luister na ‘n groot verskeidenheid musiek en ek maak ‘n punt daarvan om sover ek kan op hoogte te bly met wat aangaan in die popmusiek wêreld. My vriende dink aan my as 'n wandelende ensiklopedie van nuttelose feite oor populêre musiek en musikante. My smaak is eklekties en katoliek; daar is min tipes musiek waarvan ek nie hou nie. Oor die algemeen verkies ek rou, eenvoudige, ongesofistikeerde musiek wat tot my hart en voete spreek, musiek wat ongekunsteld is, alhoewel ook vindingryk, en met 'n moerse beat en verkieslik 'n wysie wat ek binne sekondes kan bemeester as ek wil saamsing.
Die eerste groep wat ek op my eie ontdek het, 'n groep waarvan die “hip” kader by my skool niks geweet het nie en wat my vertroetelde geheim gebly het, is Dr Feelgood met hul Malpractice album wat twee jaar voor punk 'n basiese, rou, energiebelaaide R & B bevat het wat my oorstelp het tot die mate dat ek amper die groewe op die plaat glad gespeel het. Daarna was dit Cream se Cream’s Cream: Greatest Hits Live met van Eric Clapton se beste blues geïnspireerde psigedeliese kitaarspel – die solo op “Sleepy Time Time” is 'n lang, uitgerekte, liefkosende, trance-melodieuse euforiese stuk kitaarspel wat 'n mens kan leer om te sing – en daarvandaan het ek afgepyl op die regte blues en dit was weereens, as tienderjarige, 'n musiek wat net my eie geheim was en waarvan my eweknieë niks geweet het nie.
Ek het gelees oor blues en die name soos Muddy Waters, Howlin’ Wolf, Sonny Boy Williamson II, Little Walter, ensovoorts, was al geheimsinnig en esoteries genoeg om my te bekoor, maar ek het tot finale oortuiging en bekering gekom toe ek John Lee Hooker’s Greatest Hits (Vee Jay) gekoop het en na die eerste snit geluister het, “Boogie Chillen,” wat net 'n elektriese kitaar is met die eenvoudigste, dodelikste, absoluut hipnotiserende agterentjeukerige boogie beat, 'n stampende voet en 'n diep donker Delta blues stem wat 'n eenvoudige verhaal vertel van John Lee se aankoms in Detroit, hoe hy in Hastings Street afgeloop het, na Henry’s Swing Club verwys is, binnegegaan het en waargeneem het hoe die skare hulself moeg dans. “When I got there that night they were really having a ball. I said ‘yeah, people’…” 'n Paar skerp, stotterende kitaar note. Stilte, Spanning. Boem! Die meedoënlose boogie spring weer uit … “Boogie Chillen!” Absolute perfekte voorbeeld van “tension and release.” Dieselfde album bevat ook John Lee se hipnotiese, seksuele voodoo weergawe van “Crawling Kingsnake” wat enige vrou uitdaag om hom te weerstaan (“I rules my den”) en enige man waarsku “Don’t want you around my mate, wanna use her for myself,” en daar is ook die eweneens bronstige “I’m In The Mood” – moenie eers vra waarvoor hy lus is nie -- en as John Lee in die bui is, aanvaar hy nie 'n hoofpyn as 'n verskoning nie.
Daarna was daar geen keer aan my nie. Ek het Kaapstad platgeloop op soek na blues plate en was gelukkig genoeg om baie vinnig 'n groot versameling op te bou omdat soveel van hulle op uitverkopings of in the “reduced” rak beland het. Dit was asof die Groot Kleinhandelaar Daarbo spesiaal vir my blues honger gesorg het. Vanaf 1990 het ek CDs begin koop en die wonderbaarlike ontdekking gemaak dat daar meer veel blues albums op CD beskikbaar is was wat ek ooit sou kon bekostig.
Aanvanklik het ek net belanggestel in die elektriese downhome klank van Chicago na die Tweede Wêreldoorlog, d.w.s. die musiek van Muddy Waters, Howlin’ Wolf, Elmore James, Little Walter, en andere. Later het Albert en BB King bygekom en ook Buddy Guy en diegene, en nog veel later akoestiese Delta blues – alhoewel ek al in die vroeë Tagtigerjare die twee Robert Johnson King Of The Delta Blues Singers plate aangeskaf het. Tans koop ek omtrent enige tipe blues album wat interessant lyk – dis verbasend hoeveel sulke CDs by Cash Crusaders of Converters winkels beland.
Sover dit my aangaan is blues doodgewoon lekker musiek wat omtrent altyd 'n aanklank vind by my. Baie blues is opgewekte partytjie musiek, seksuele musiek – die boogie in beide betekenisse -- en ek het nog nooit daarna geluister omdat en/of wanneer ek terneergedruk voel nie. Muddy Waters se funky, dansende, swewende slide riff op “I Can’t Be Satisfied” is soos 'n skoot Red Bull. Wanneer ek depressief voel, luister ek na heavy metal.
Omdat musiek oor die algemeen so 'n belangrike rol in my daaglikse bestaan speel, het ek al tot die punt gevorder waar menige situasies opgesom of verklaar word deur 'n snarsie liriek, 'n toepaslike frase of koeplet uit een of ander liedjie. Sommige daarvan is blues. Byvoorbeeld, Fleetwood Mac (met Peter Green) se weergawe van “I Need Your Love So Bad” -- “when the lights are low & it’s time to go, I need your love so bad”; “I need someone to stand up & tell me when I’m lying”; “give it up, bring it home to me / write it on a piece of paper, baby, so it can be read to me” -- moet een van die hartverskeurendste liefdesverlange liedjies ooit wees. Dan is daar 'n country blues liedjie wat in my besondere geval reuse resonansie gehad het: “Ain’t it lonely to be sleeping by yourself when the woman you love is loving someone else.” Of wat van Muddy Waters se “Honeybee” waarin hy haar aanmoedig “sail on my little honeybee, sail on.” Cleo Gibson se “I’ve Got Ford Engine Movements In My Hips” (“ten thousand miles guarantee”.) Wat van die guitige “stoop down, baby, let your daddy see / you’ve got something down there, worrying the hell out of me.”
As ek na die meeste van hierdie musiek luister, hoor ek net bloot 'n ander soort van popmusiek en die clichés van die blues (die hartseer, die onreg en verdrukking, ensovoorts) is nie altyd van toepassing nie. Die oorspronklike blues musikante het blues gespeel om hul gehoor te vermaak en om 'n nege tot vyf werk te vermy; hulle het by danspartytjies gespeel, house parties, fish fries, juke joints. Die idee was om mense te vermaak, aan te spoor om te drink, om gatte van stoele af te lig en voete te laat stamp of skuifel op 'n stowwerige houtvloer tot die vroeë oggendure.
Een van die redes hoekom ek so baie van elektriese downhome blues hou, is dat dit hoofsaaklik ensemble spel is, roep & antwoord tussen kitaar (slide of gewone enkelsnaar), klavier en bekfluitjie. Gewoonlik is die bekfluitjie die hoof solo instrument en die kitaarspeler speel bloot akkoord begeleiding of “fills” rondom die ander instrumente. In die Southside Chicago klank is dit belangriker vir die instrumentalis om sy mede musikante te ondersteun en die liedjie te dien, as om die aandag net op hom te trek. Dit was eers later, na die beïnvloeding van T Bone Walker, deur B B en Albert King, dat die West Side styl van musikante soos Magic Sam, Buddy Guy en Otis Rush, en ook 'n elektriese Texas styl, buitengewone prominensie begin verkry het, veral toe wit musikante dit aangegryp het. In Brittanje het die eerste vlaag van blues groepe (waaronder die Rolling Stones) die South Side klank probeer naboots, en die tweede vlaag (vanaf die Yardbirds en veral die John Mayall groep met Eric Clapton) die West Side klank wat min of meer gebaseer was op 'n kitaarspeler met geweldige virtuositeit en die tegniese vaardighede wat die downhome spelers nie besit het of nodig gehad het in die ensemble nie. 'n Paar spronge verder en ons het Jimi Hendrix, Johnny Winter en Stevie Ray Vaughan wat elkeen verstommende vloeibare, virtuose kitaar kon (en in Winter se geval, steeds kan) speel. Clapton was waarskynlik die eerste Wit blues geïnspireerde kitaarspeler wat vreeslik uitgerekte solo’s kon speel – sy werk op voormelde “Sleepy Time Time” en “Crossroads” byvoorbeeld – maar wat tog steeds 'n sin van ekonomie, dinamika en melodie kon behou. Michael Bloomfield, wat so te sê in die Southside grootgeword het, en Peter Green, was twee ander blues kitaarspelers wat die tegniek gehad het, maar ook die egte gevoel en ook nie dit gedurig nodig geag het om vir hul gehore te bewys hoe vinnig of hoe lank hulle kon spel nie. Hendrix het die rigting aangewys na die tegniese supervaardige “shredders” van die laat Tagtigerjare wat bewys het dat tegniese vaardigheid eintlik geen punt het nie, behalwe as jy 'n ander kitaarspeler is wat deur sulke twak hoogs beïndruk word. Daar was geen siel in die spel nie; alles was leë tegniese vertoon.
Die twee grootste invloede vir plaaslike blues kitaarspelers blyk ZZ Top en Stevie Ray Vaughan te wees, met waarskynlik Hendrix daarby as die opper guru van enige soort van kitaarspeler, en moontlik ook Jimmy Page, Eric Clapton en, na sy blues fase, Gary Moore. Die plaaslike spelers het geen eerstehandse kennis van lewendige blues nie. Hulle luister na albums, neem lesse, leer “licks” uit kitaarhandleidings, gaan luister na ander plaaslike blues spelers. Die cliché is dat blues eenvoudig is, maar moeilik is om reg te speel omdat dit 90% gevoel is en 10% tegniek of vaardigheid. Die plaaslike ouens het dit gewoonlik anders om: hulle het 90% tegniek en 10% gevoel omdat hulle in elk geval nie grootword in 'n terneergedrukte, subekonomiese situasie waar daai gevoel sou kan posvat nie. Hoeveel Swart blues spelers is daar in SA? Hoeveel Wit, middelklas blues spelers is daar?
Die plaaslike kitaarspelers dink blykbaar dat as hulle 'n I, IV, V akkoordprogressie en 'n blues toonleer onder die knie het, “House of The Rising Sun” of 'n paar Stevie Ray Vaughan nommers ken, “La Grange” en “Hoochie Coochie Man” leer speel en vaardig genoeg raak om ellelange solo’s te speel deur op en af op die blues toonleer te hardloop, hulle nou volwaardige bluesmusikante is. Die musiek is gewoonlik net 'n verskoning daarvoor dat die kitaarspeler (gewoonlik sommer ook die hoofsanger) kan afwys hoe fabby dabby hy as kitaarspeler is. Wat my besonder grief is wanneer iemand Howlin’ Wolf se “Who’s Been Talking/Cause Of It All” aankondig as 'n Stevie Ray Vaughan nommer bloot omdat die ou dit van Stevie Ray se album af geleer het. Lees die mense nie die outeurskrediete nie? Het hulle ooit enige konsep van die bestaan van Howlin’ Wolf?
Ek het min benul van watter soort gewaande blues (meestal in elk geval bluesrock) groepe in Gauteng speel. Die Flaming Firestones het in die laat Tagtigerjare in Kaapstad gesorg vir 'n herlewing in belangstelling in die blues. Clayton, wat die leier was, was blykbaar ernstig oor 'n tipe van sending om die Kapenaars op te voed oor blues. Partykeer het sy kitaar aan die rock kant van die straat beweeg, maar die gawe ding was dat Howlin’ Mervyn Woolf 'n uitstekende sanger was – Clayton se weergawe van ”Rock Me, Baby” was gewoonlik ook 'n showstopper – dat Rob Nagel 'n uitstekende blues bekfluitjie- en saxofoonspeler is, en dat hulle keurige materiaal gekies het. By een van hul beste vertonings ooit, by die Brass Bell op 'n lang vergete Saterdagmiddag, het hulle behoorlik die gehoor rasend gehad, die dakplate laat beef en die walvisse laat dink dis weer speelstyd met 'n intense weergawe van “I’ve Got My Mojo Workin’” met Rob op saxofoon en Jannie van der Merwe op tromboon. Ek het omtrent my broek natgemaak van plesier – hulle het ge-”swing” soos moedernaaiers.
Die FF se mantel het geval op die Blues Broers waarin Johnny Frick kitaar gespeel het, Rob Nagel terug was op baskitaar en bekfluitjie. Agent Orange op klawerborde en Frank Frost op tromme. Hierdie weergawe van die Blues Broers was by verre die beste blues groep in Kaapstad, die naaste ding aan 'n regte Southside ensemble wat ek nog plaaslik gesien het. Die meeste ander Kaapse sogenaamde blues groepe was gewoonlik jou basiese blues rock trio. Ongelukkig het Johnny Frick na 'n paar jaar verkas en sy afwesigheid het so 'n leemte gelaat dat hy vervang is deur die goddelike Nico Burger – by verre my gunsteling SA kitaarspeler ooit – wat ongelukkig op daardie stadium al klaar 'n groot drankprobleem gehad het en wie se spel daaronder gely het, en John Mostert. Nico het glad nie gesing nie – was nie lus vir “frontman” speel nie -- en Mostert moes Frick se skoene volstaan. Frick was nie 'n watwonderse sanger nie, maar hy het ten minste probeer en het mettertyd 'n effense gravitas verkry. Mostert is wat my betref die Antichris van blues sangers, 'n man wat nog nooit die blues gehad het nie. Ek was so teleurgesteld met Sharp Street, die Blues Broers se eerste CD, hoofsaaklik vanweë Mostert se kleur- en gevoellose stem, dat ek nooit enige van hul ander CDs wou koop nie. Die musiek was oor die algemeen so vaal, so avontuurloos, so versigtig, dat dit nie eers opgemaak het vir die onheil wat Mostert verrig het nie. Die enigste blink juweel daarop is “Glove” – Agent Orange op lirieke en stem, en Albert Frost op Hubert Sumlin styl kitaar – wat 'n klassieke blues nommer is in enige land of enige taal.
“Glove” is wonderlik omdat die groep 'n klassieke downhome raveup speel wat klink soos 'n langverlore Howlin’ Wolf lied en veral omdat dit 'n oorspronklike, snaakse liriekkonsep is. 'n Outentieke blues uit Suid Afrika.
Dit is die rigting wat Albert Frost moet inslaan as hy werklik 'n blues speler wil wees. Hy moet sy eie liedjies skryf, blues wat op sy lewe raak – nie net 'n klomp tweedehandse nabootsing van iets wat hy nooit ervaar het nie. Dieselfde met Dan Patlansky, as hy dit nie alreeds doen nie. Hoekom op aarde wil hierdie tegnies vaardige musikante nie die moeite doen om hul eie goed te skryf nie? Watter soort van skeppende drang is dit om bloot namaaksels – en ek sal toegee dat die namaaksels moontlik uitstekend kan wees -- voort te bring, na-aping van iemand wat al klaar na-aap. Ten minste is Stevie Ray Vaughan, of Gary Moore, se weergawes van die ou musiek hul eie weergawes en dit is wat die plaaslike ouens soms miskyk. Daar is niks verkeerd met nog 'n weergawe van “Hoochie Coochie Man” nie, mits jou verwerking oorspronklik genoeg is dat jy nie klink soos 'n wannabe nie. Dit is ook belangrik om wyer na te vors en byvoorbeeld te luister na Joe Willie Wilkins as hy Sonny Boy Williamson II begelei, of na Willie Johnson wat in Memphis saam met Howlin’ Wolf gespeel het. Willie Johnson het hierdie vet, overamped, fuzztone wat nooit oordonder nie, altyd die Wolf ondersteun, maar terselfdertyd o-p-w-i-n-d-i-n-g spel, en die hele boksemdaais vorentoe dryf asof hy bang is die duiwel gaan hom gryp as hy een oomblik rus. Dit is nie vir hom nodig om 'n lang kitaarsolo te speel nie.
Verder, as 'n mens in SA woon, hoekom noem jy jou groep die Mississippi Muthas? Wat van die Mamelodi Mamas? Ek twyfel sterk of enige van die lede van die groep uit die staat van Mississippi afkomstig is of dat die musiek enige verband het met die blues wat tans nog in die Mississippi Delta gespeel word – okay, ek gee toe dat ek nog nie die mense ontmoet het of hul musiek gehoor het nie.

0 Comments:
Post a Comment
Subscribe to Post Comments [Atom]
<< Home