DELTA BLUE INBLUESSTATION (Merchant Records, 2003)
“I WANT YOUR SOUL, MAN”
Delta Blue het in 1999 met die voortvarende bravade van die prille jeug hul debuut album met hul weergawe van die diep blues opgeneem in die Klein Libertasteater, Stellenbosch, daar diep in die Eersterivier delta. Die ietwat komieklike aanmatiging van die albumnotas ten spyt, was dit duidelik dat die groep die ou tradisie nuwe lewe wou gee met 'n klaarblyklike diepgewortelde liefde vir die musiek wat hulle so doelgerig nageboots het. Live was 'n belowende dog gebrekkige debuut – iets soos die Blues Broers met 'n beter sanger.
Die jaar daarna het die ateljee-opnames van die Turn mini-album gevolg en dit was voorwaar 'n aangename skok vir die stelsel. Die studentikose is vermy, die musikante het die grootoog blues entoesiasme en na-apery agtergelaat en musiek geskep wat deurspek was van subtiele, elastiese ritmes en melodie en Gerald Clark se stem het tot sy reg gekom het nadat hy die innerlike soul man 'n kans gegee het om te jubel terwyl hy sy blues sing. Turn is daardie rariteit in musiek: 'n album wat te kort is. 'n Verstommende ommekeer in prestasie.
In 2003, drie jaar na die vernuwing van Turn, verskyn die logiese voortsetting wat Inbluesstation is, waar die groep daardie belangrike verskil tussen loslit en losgat onderstreep met melodieë, verwerkings en soepel spel vol pure plesier. Terloops, Delta Blue het ook intussen ontwikkel tot die mees simpatieke en bestendige van ondersteunende musikante op ander mense se albums – soos byvoorbeeld op Alta Joubert se debuutalbum, Warrelwinde.
Om die punchline nie verder uit te rek nie: met Inbluesstation het Delta Blue sonder twyfel die plaaslike meesterstuk in soulblues rock geskep.
Die produksie is puik en stem en instrumente is klokhelder en dit is waar die subtiele vindingrykheid van die verwerkings en die musikante se bevange spel 'n mens keer op keer tref – en, ja, dit is 'n album wat 'n mens op endless repeat wil sit. Hoeveel keer kom 'n mens af op musiek wat keer op keer daardie selfde endorfien rush gee?
Die album begin en eindig met twee bona fide blues nommertjies, asof Delta Blue se bedoeling is om die volgorde van die snitte half soos 'n goed uitgewerkte lewendige optrede te laat lyk.
Die Little Walter standard “My Babe” skop die partytjie af en al is die bekfluitjiespeler nie Walter nie, het hierdie musiek 'n wip en 'n soepelheid wat onmiddellik 'n grinnik op my gevreet laat verskyn. Dit is blues om 'n mens goed te laat voel en dit laat my goed voel.
“Milk Cow Blues” volg hierna, maar dit is nie die ou-bekende blues van Kokomo Arnold nie. Die blouerige begin met akoestiese kitaar, klavier en gloeiende glykitaar ontwikkel stadig maar seker van lirieke oor kosmiese reise via 'n aanhaling uit die oorspronklike blues liedjie tot die uitbundige gospel refrein van “I want your soul, man” (haai, ek hoop nie dis Satan by die kruispad teen middernag nie!) en dit wil my voorkom dat Delta Blue ons hiermee wil toets, bietjie met ons koppe wil smokkel, gegewe dat daar enersyds die skalkse verwysing is na hul blues invloede en andersyds die uitdruklike beleidsstelling dat hulle ver weg beweeg het van downhome en dat die gees van die ekstatiese gospel oorgeneem het.
Dit is die wonderlike verrassing. Delta Blue se konsep van musikale vooruitgang is om puristiese blues vir eers daar te laat en liewer te gaan soek na die geheiligde Southern gospel soul waarby Clark se stem so goed inpas, met soul musiek se sterk afhanklikheid van die hartstog van daardie charismatiese kerkliedere wat God ekstaties aanprys. Delta Blue het meesters geword van die musikale aanslag waar die liedjie en die uitvoering daarvan die belangrike faktore is en nie meer die blote afwyserige baasskap op hul instrumente wat so baie moderne blues ontsier nie. Natuurlik is elke Delta Bluespersoon 'n uitstekende musikant, maar daar is genoeg selfvertroue om te besef dat almal wen as almal saamwerk om die beste uitvoering van die liedjie te gee en te vergeet van individuele ego’s. Ensemblespel op sy beste.
“Hazel Street” is funkier, met bekfluitjie en saxofoon op die refrein en 'n stukkie jazz in die middel tussen die twee kitaarsolo’s – “I’m gonna play that funky music ‘till I die.” Nog 'n uitbreiding op die credo.
Die liedjie gerig aan die dame genaamd Miss Glory Be is die stadige bluesnommer en Gerald Clark graaf diep in sy emosies terwyl Henry Steele die pyn besweer met vlymskerp kitaarspel wat elke noot maak tel en nie in oormatige nootoorskotte verval in die waan dat dit die blues meer effektief maak nie.
Met “Ain’t No Tellin” is daar 'n blaaskansie: Net Clark en 'n huppelende akoestiese kitaar en die mees tradisionele blues lirieke op die album. Die stiller oomblik word gevolg deur die soulblues rock van “Muddy Water Blues” wat 'n gerieflike halfpadpunt op die album vorm.
Die tweede helfte skop af met bekfluitjie en blaasinstrumente en 'n uiters weemoedige melodie en Clark op sy mees introspektiewe (“gonna make my way back to the world / if it means I gotta pray / I swear I will”) omdat die blues hom begin onderkry, en dan halfpad deur die liedjie versnel die tempo en word dringender en Clark beloof meer en meer hartstogtelik dat hy sal bid om net weer sy voete veilig terug op die grond te kry. Dit is “Troublesome” en dit is 'n hoogtepunt van musikale en verbale dinamika en naas “Milk Cow Blues” die mees fyn uitgewerkte musiek op die album. Dit is hier waar 'n mens agterkom hoe hard die groep gewerk het om vernuwing te bring aan 'n geykte genre.
Al klink die titel soos Jimi Hendrix ontmoet Andrés Segovia is “Super Flamenco Voodoo Child” bloot 'n aangename dog effe liggewig viering van een van God se meer wonderbaarlike vroulike skepsels. “Poor Man Blues” is luimige jazzerige blues met 'n swewende saxofoonsolo. “Gangsta” is 'n kort, funky instrumentele ding met jazz elemente en “Inbluesstation” bou tematies daarop voort om ons 'n verdere aanduiding van Delta Blue se toekomsvisie te gee (“I’m a rolling steam train”).
Die tweede laaste snit, “Boogie Chillen”, is glad nie die John Lee Hooker oer-boogie nie en alhoewel dit heel hups boogie laat dit my wonder hoekom hulle so 'n beroemde titel gebruik as dit nie eers hulde bring aan die oorlede Boogieman nie.
Die groep roep ons vaarwel toe met Lightnin’ Hopkins se “Mojo Hand,” ’n variasie op die tema van die meer bekende “Got My Mojo Workin“, gewoonlik die laaste nommer van 'n Muddy Waters optrede. Die subtiele plesier vir my – ek bedoel nou bo en behalwe die gatskop musiek -- is dat ek 'n rare intelligensie hier bespeur wat die minder bekende liedjie kies en dit gebruik om hul program mee af te sluit en om die stempel te wees op die plesierighede wat dit voorafgegaan het. Die klavier speel 'n guitige boogie woogie en die tromme galop en hoof- en glykitaat gooi woes en ek kan voor my geestesoog sien hoe die groep in die ateljee gedans het ter viering van 'n taak welgedaan.
Na Inbluesstation kan Delta Blue enige tyd my siel kry.

0 Comments:
Post a Comment
Subscribe to Post Comments [Atom]
<< Home