Wednesday, January 06, 2010

Bacchus Nel

Het Mnr Nel se ouers hom so gedoop of is dit 'n tong in die kies verwysing na sy drinkgewoontes en plesiersoekery? Wie weet. Ek weet nie veel meer van die man nie behalwe dat hy deel is of was van die Afrikaanse musiektoneeel in Gauteng en dat hy circa 2003/2004 'n meeloper was van die meer suksesvolle en bekende Jan Blohm, maar ook 'n debuut album vrygestel het, genaamd In Die Arms Van Die Nag wat myns insiens een van die beste Afrikaanse albums is wat oor die afgelope 10 jaar vrygestel is.

Nel klink soos 'n digter musikant, ietwat na die styl van Gert Vlok Nel, vir wie die stories wat hy vertel die belangrikste ding is en die melodieë bloot diens moet doen om die luisteraar in te sleep, maar, soos Nel, is die melodie dikwels iets amper teen jou sin in jou brein bly vassteek.

Dit is altyd interessant hoeveel Afrikaanse liedjieskrywers daarvan hou om hulself in 'n tyd en plek te plaas in die lirieke sodat daar geen twyfel is nie dat ons met iets eg Suid-Afrikaans te doen het. Of Nel se mymeringe wel outobiografies is of nie, maak seker nie saak nie, aangesien die woorde ook as kortverhale suksesvol kan wees en mens steeds 'n soort van insig gee in die lewens en omstandighede van die tipe mense met wie Nel meng en die omgewing waarin hy leef. Daardie omgewing is gesetel in die meer hip en cool dele van Johannesburg, soos Melville, waar stedelinge nog met vrymoedigheid veelrassig kan meng en die jong Afrikaanssprekendes hul kan uitleef in 'n meer moderne, moeitevrye weergawe van die boheemse fantasie lewe waarvan die oudstryders soos Koos Kombuis die pioniers was.

Ek is nie 'n deskundige op die situasie in Johannesburg nie, maar ek verstaan dat min witmense, en selfs min plaaslike mense van enige aarde, deesdae in Hillbrow of Rockeystraat jol en dat daardie dele van die stad die onbetwiste terrein is waar allerlei immigrantenasies hulself gevestig het. Die kicks wat die jong boere nou soek, moet gevind word in Melville of Hatfield in Pretoria, of iewers buite die sentrale sakekern van Johannesburg waar die demografie lank nie meer local is lekker weerspieël nie. Andersins is die jol in die buitenste wyke waar omheinde woonbuurte aan die orde van die dag is en groot winkelsentrums die sentrale saamkomplekke is.

Wanneer Bacchus Nel dus liries raak oor sy stadslewe, wonder ek tot watter mate dit wel so waar is of enigsins haalbaar is. Aan die ander kant is ek ook nie meer so jonk dat ek sou weet hoe die twintigjariges hulself deesdae vermaak nie, en of dit hoegenaamd anders is, gegewe veranderde tye, as in my eie jeug.

Die musiek is melodiese rock met die aksent op wat mens heupswaai sou noem eerder as harde rock riffs en die musikante is waarskynlik deel van die gekonfyte groep jong Turke in die Noorde wat Afrikaanse musiek verder poog neem eerder as net Boere country of die nuwe styl van Afrikaanse emo punk rock waarvoor ons Fokofpolisiekar en hul nasate te danke het en dit is gaaf dat die roots rock genre hier kan gedy saam met hierdie tipe van verromantisering van die nuwe millennium se lewenservarings, eerder as die argetipiese Musiek & Liriek hooge kultuurmusiek met akoestiese instrumente en duisende strykers. Daar is vele plaaslike liedjieskrywers wat hou daarvan om na Koos du Plessis te verwys as een of ander oer-digtermusikant wat die fontein is van al wat goed en gaaf is in huidige woordkunsternary gekoppel aan deuntjies, maar sy gedurige verdoemde uitkyk op die lewe en die manier waarop die verwerkings van sy musiek dit eintlik in kitsch omskep, stuit my teen die bors. Behalwe dat Theuns Jordaan soms nie heeltmeal emosionele diepte aan sy vertolking van die lirieke kan gee nie, is sy Kouevuur album waarskynlik 'n beter blootstelling aan die Du Plessis songbook as Koos se eie plate. Die kans is goed dat niemand ooit enige van Bacchas Nel se liedjies gaan opneem nie, of ten minste nie 'n hele album as huldeblyk daaraan toewy nie. Dit is ook goed. As mens so eiesoortig is, dat jy die enigste persoon is wat jou eie skeppinge behoorlik kan vertolk, dan moet jy maar werk met wat jy het en vergeet van die geld wat kan inrol omdat so baie kunstenaars jou musiek opneem. As die liedjies in elk geval so goed is as die voorbeelde op Mnr nel se album, is die uniekheid ook 'n mate van beskerming teen die filistyne wat andersins jou kinders kan vermink. Nie alle interpretasies verbeter nie en nie alle huldeblyke eer werklik nie.

Soms wens mens dat musikante soos Bacchus Nel nooit meer as net die een debuutalbum vrystel nie, sodat die indrukke wat daardeur geskep is, nooit afgewater kan word of selfs heeltemal gekelder word deur latere skeppings wat eenvoudig net nie so goed is nie of soveel meer van dieslelfde ding is dat mens verveeld raak daarmee. Aan die ander kant wil''n mens ook weet of die man meer as net 'n handvol liedjies in hom het en as die talent groots blyk te wees, wil 'n mens die heerlikheid daarvan weer en weer ervaar en hoop dat daar gedurige vernuwing en verbetering sal wees.

Dus hoop ek om binnekort weer van die man te hoor. Ek is nou heerlik knus In Die Arms Van Die Nag, maar verwag ook soentjies en verdere liefkosing.