Monday, May 05, 2008

Verdunde Bloed: Koos Kombuis se Bloedrivier

In 1987 kon mens die Shifty Records kasset vrystelling Ver Van Die Ou Kalahari net by die Shifty tafeltjie by die Groentemarkplein vlooimark koop en die André Le Toit wat die liedjies geskryf en gesing het was iewers in die skemerdonker, ver van die knetterende kampvuur van die hoofstroom van populêre Afrikaanse kultuur, al het hierdie hoofstroom nie besef dat dit gou deur 'n vloed alternatiewe Afrikaanse musiek weggespoel sou word as nog een verder simptoom van die finale verderf van die Afrikaner ideaal wat kort daarna sou sneuwel.

In Mei 2008 is Koos Kombuis so in die middel van die hoofstroom dat hy koerant rubrieke skryf, op televisie gevra word om sy opinie oor die nuwe oes Afrikaanse musikante en dat hy 'n eie webwerf het, getroud is, gewig aangesit het en in middelklas gemak leef. En verder kan mens sye nuutste vrystelling, Bloedrivier, aanskaf by die Spar in Mosselbaai, waar dit op dieselfde CD uitstalrak aangetref word as Thys die Bosveldklong, Rooies, Ou Toppie Sokkie III, Bles Bridges se grootste treffers, Stoutgat Treffers V, en diesmeer. 'n Mens kan moontlik hieruit aflei dat Koos nou soveel volksbesit is as enige van sy mede musikante in die nuwe bestel wie se gehoor die tipiese familie is van kleuter tot grootouers, wat graag in Kerksaals versamel om hul gunsteling sangers aan te hoor.

Koos tree op in klein teaters, op groot verhoë en in London, orals waar daar 'n gehoor is wat hom nog waardeer vir sy baanbrekerswerk wat hy in die Tagtigs en vroeë Negentigs verrig het. Hy pluk nou die welverdiende vrugte van 'n lang, moeisame loopbaan as voortrekker van die nuwe gees wat onder die jong Afrikaner posgevat het in die laaste doodsnikke van die Nasionalistiese volks-despotisme en wat gelei het tot vernuwing en modernisering wat uiteindelik die hoofstroom in die internasionale sfeer laat tuis voel het, en wat ongelukkig ook gelei het tot 'n stortvloed van nuwe gesigte wat desperaat is om geld te maak uit die musiekding,maak nie saak hoe vlak en vervelig hul produk is nie. Die volk ondersteun nog hul eie mense en is nou trots om te kan sê dat hul eie met kop hoog kan staan op enige internasionale verhoog vol banale popmusiek.

Ewenwel, twintig jaar gelede was André/Koos kwaad vir die regering van die dag en die onderdrukking van gees en skeppende produk wat aan die orde van die dag was. Vandag is hy weer kwaad, maar nou het ons 'n ander regering van die dag en Koos se woede is tipies van die middelklas Wit burgery waarvan hy nou so guitig deel is ten spyte van die seerowerdoek wat hy om sy kop bind vir openbare verskynings. Koos is nou een met die tipe mense wat eens sy teikens was en sy teikens is nou die leiers van die mense met wie hy eens gemene saak gemaak het. Natuurlik is die mense nog steeds goed en dis bloot die politici wat boos is. En die misdadigers wat nou in die regeringskader en op donker strate gevind word. Koos her nou meer as bloot 'n vals kitaar en 'n banksakkie vol zol om te beskerm.

Dit is miskien nie ironies dat die musiek op Bloedrivier ietwat "old skool" rock is nie. Koos het ouer geword en verlang miskien ook terug na die musiek van die Sewentigerjare as medium vir sy boodskap Dit is so dat as mens ouer en meer behoudend word en jy 'n skeppende kunstenaar is, jy oorwegend meer gekonfyt raak in kou kuns en meer gesofistikeerd wil voorkom. Daar moet immers kreatiewe groei wees. Ongelukkig is dit so dat die groei waarvan ons hier praat, die verbeterde tegnieke en diesmeer, nie noodwendig enigsins die impak van die musiek of die boodskap verhoog nie. Tegniese vaardigheid is nie alles nie en dikwels juis die struikelblok. Wil koos nou mik vir die luisterliedjie mark of wil hy op groot verhoë verskyn met groot rock orkeste agter hom? Probeer hy die venynige woorde kamoefleer met musiek wat die ore sus? Moontlik is dit als een slinkse plan om ons mense van voor af agter deur te werk, half soos die kabaret ruk en rol van Johannes Kerkorrel wat soos rebellie en anargie gelyk en gevoel het bloot omdat daar niks anders was om daarmee te vergelyk nie.

Koos se woorde is soos gewoonlik puik, beide rapier skerp en sardonies amusant, en soms net so vindingryk dat mens wonder waar die man die taal gaan haal. Wat hy ons vertel, is dikwels heeltemal waar en akkuraat betreffende die Suid-Afrikaanse Wit zeitgeist circa 2008, soos wat Niemandsland ... en Beyond daardie zeitgeist vasgevang het vir die laaste jare van die Nasionalistiese regering se finale stuiptrekkings. Die perspektief is bloot effens anders.

Niemandsland .. is na my beskeie mening die beset album wat Koos Kombuis ooit gemaak het, die eerste ware Afrikaanse rock album en die beste album wat in die Negentigerjare in Suid-Afrika vrygestel is, en ook die mees betekenisvolle album van die nuwe bevryde era, al was dit voor 1994 die wêreld ingestuur. Koos het verbeter, en meer populêr geword, maar nooit daarop verbeter nie, behalwe miskien in die tegniese sin. Niemandsland ... gee my nog steeds 'n lekker warm gevoel wanneer ek daarna luister. Ek dink nie Bloedrivier is daardie tipe album nie. Dit is lekker om na te luister, dit laat mens weereens dink aan waar ons vandag is en hoe ver die land gevorder het, en some agteruit geboer het, sedert die bevryding, maar dit tref nie werklik daar diep binne waar mens weet jy luister na iets wat nie bloot dokument van sy tyd is nie, en wat selfs oor 10 jaar nog dieselfde impak gaan hê en steeds jou gaan ruk elke keer as jy daarna luister, Bloedrivier is 'n goeie Koos Kombuis produk; dit is nie 'n onverbeterlike Koos Kombuis produk nie. En nie een verder, lang uitgerekte refrein gesing deur 'n koor van dosyne gaan enige jota of titel verskil maak nie.

0 Comments:

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home