Dan Patlansky Op ‘n Stasie
STANDING AT THE STATION (2003)
Hier het ons SA musikante wat blues speel, blues wat hulle op albums gehoor het en nou namaak. Dis gewoonlik nie eers die oer blues nie en soos so vele aspirerende SA blues kitaarspelers, is daar 'n stewige inspuiting Stevie Ray Vaughan in Patlansky se spel, en hy gee ons selfs sy weergawes van "Empty Arms" en "Chitlins Con Carne." Eric Clapton is blykbaar die ander invloed, as 'n mens op weergawes van "Hideawy" en "While My Guitar Gently Weeps" kan peiltrek, alhoewel daar nie veel van Clapton se blues klank te bespeur is nie. "Hideaway" begin as 'n weergawe van 'n weergawe wat ons goed ken en dan later spring die Stevie Ray Vaughan styl sommer rofweg in.
Ek verstaan dat hierdie 'n demo opname is en dit verduidelik miskien die minder lekker klankmeng. Die ietwat stram ritmeseksie, veral die tromme, is te luid, en die orrel gans te sag. Vir hierdie jazz-gebaseerde Texas styl van blues – en vir blues oor die algemeen – moet die ritmeseksie kan "swing" en 'n subtiele agtergrondondersteuning wees, nie die oorwegende teenwoordigheid naas die kitaar nie. Patlansky se spel is van die suiwerste, vloeibare, gevoelvolle blues spel wat ek al in SA gehoor het en al is Vaughan 'n duidelike invloed, het Patlansky nie daardie selfde swaar aanslag op sy kitaarsnare nie. Hy neig tog om netsoveel note te wil speel, die onkeerbare nootstortvloed wat terselfdertyd (veral by Vaughan) indrukwekkend en irriterend kan wees, en dit is wat sy weergawe van "Sweet 16," 'n B B King spesialiteit, interessant en minder geslaagd maak. King speel met 'n styl waar relatief min note gespeel word, en seker gemaak word dat dit die regte note is. Patlansky gee ons die stortvloed wat die impak verdun.
Die kitaarspel is oorwegend 'n plesier, veral op "Mississppi Muther Blues" en "Mongolius' Blue Hanglider" (waar Patlansky klink soos 'n mengsel tussen ZZ Top se "Blue Jean Blues" en Vaughan se weergawe van "Little Wing") en Patlansky gaan 'n monster wees as hy so voortgaan en sy ooglopende beinvloeding kan agter laat, 'n unieke styl ontwikkel en ook leer om minder stokkerig te wees in sy ritmespel. Die grootste nadeel van hierdie liedjies is dat sy stem heeltemal te jonk en te dun is vir die taak. Hy werk hard en dit klink of iets soos "Sweet 16" baie later opgeneem is as, byvoorbeeld "Empty Arms," maar hy is op sy beste met 'n country rock styl liedjie (sterk herinnering aan The Eagles) soos "Standing at The Station" waar die ligheid van die stem nie afbreek doen aan die liedjie nie. Die weergawe van "While My Guitar Gently Weeps", alhoewel 'n aangename, verrassende keuse vir 'n blues album, werk nie, want Patlansky kan glad nie 'n greep op die melodie kry nie en die verwerking van die musiek is halfwas.
Daar is nie baie suiwer blues albums deur SA musikante nie en dus is dit moeilik om presies te sê waar Patlansky inpas, maar ek sou sê dat hy 'n hoë standaard gestel het wat moeilik geklop kan word. Sy taak nou is om sy eie musiek te skryf ("Mongolius" is 'n uitstekende wegwyser na die pad vorentoe), harder te werk aan 'n eiesoortige kitaarstyl en 'n beter, sterker stem te ontwikkel as hy daarop wil aandring om blues te sing. O, en sy ritmeseksie moet ook leer ontspan, meer rustig "swing" agter hom.
Ek kan dit nie nalaat om my irritasie met die tos naam uit te spreek nie. Hierdie mense kom nie uit Mississippi nie en die musiek het so te sê niks met Delta blues te make nie. Dis nog steeds net wit outjies wat ander wit outjies namaak en die styl is Texas blues met 'n goeie skoot rock daarby ingesluit.

0 Comments:
Post a Comment
Subscribe to Post Comments [Atom]
<< Home