Jan Blohm
In 2004 het Carina Laubscher vir my 'n klomp digitale foto's gestuur van verskeie musikante by 'n paar gigs wat sy bygewoon het en onder andere was daar foto's van Jan Blohm wat sy Fender Stratocaster lelik kasty, en sommer ook twee of dre kiekies van Bacchus Nel, wat blykbaar meer van 'n singende digter is, soos Gert Vlok Nel, as die blues geinspireerde Blohm.
Carina het ook in haar nimlike styl baie goeie dinge te sê gehadoor Blohm, sy kitaarspel en sy musiek, wat soos Afrikaanse blues vir my geklink het, altans op papier. Dit was interessant, maar ek het dit daar gelaat. Die man het baie in die Noorde opgetree en as hy ooit in die Kaap was, het ek nie kennis geneem daarvan nie, veral omdat ek nie juis geweet het wat in die Noordelike voorstede se plekke van vermaaklikheid gebeur nie en dit was presies waar ouens soos Blohm optree, in hartland van boere kontrei. In die mddestad van Kaapstad is daar nie veel geleentheid vir selfs iemand soos Jan Blohm nie.
Ewenwel, in die jare na 2004 het ek begin moeite doen om Afrikaanse rock musiek te koop omdat dit nou vir die eerste keer vir my duidelik was dat daar nou plaaslike kunstenaars was wat dir tipe van musiek maak waarvan ek hou en in Afrikaans sing en nie Valiant Swart of Koos Kombuis is nie. So het ek iewers afgekom op Blohm se debuutalbum Melkstraat Confessions, met 'n omslag foto wat dit laat lyk het na 'n diep blues album. Dit was egter nie juis die Blues Broers in Afrikaans nie. Blohm is meer in die tradisie van die boere troebadoer wat, weliswaar met kitaar in die hand en 'n goeie skoot blues invloede, meer waarde heg aan romantiese sielswroeging en die pyn en lyding van verhoudings, as die standaard blues repetorium, en wat rock musiek maak slegs om sy punt oor te dra en dit nie juis op sig self as eindpunt voorhou nie.
Melkstraat Confessions is egter 'n puik album en absoluut die eerste verskyning van 'n groot talent. Dit was my soort van Afrikaans. Daarna het ek ook Bacchus Nel se debuut, In Die Arms Van Die Nag, gekoop, wat 'n ietwat ander soort ding was enop sy manier moontlik selfs beter as Blohm se debuut is, en begin wonder of daar 'n beweging aan die groei is hier. Intelligente Afrikaanse musiek wat nie bloot oorsese rock neigings na-aap nie en nie bloot op vlak kommersialiteit gemik is nie.
Blohm se tweede vrysteling, 'n Stille Runaway, het onverwags in my lewe gekom aangesien ek nie eens geweet het dit bestaan nie. Ek was iewers by een ofander CD winkel en het ydelik gekyk na wat hulle op die rakke het, en toe op die Blohm afgekom en natuurlik onmiddelik gekoop. Hierdie tweede album was klaarblyklik die werk van iemand wat sy eerste adrenalien rush afgewerk het op sy debuut en nou meer introspektief wou raak. Die algemene indruk is van 'n album waar ballades en klavier die oorheersende stemming is. Die liedjies is puik en die klankopnames en produksieleiding is on verbeterlik. Na my mening is Stille Runaway tot op hede Blohm se beste album.
Hierna het ek afgekom op 'n artiekl in Huisgenoot waarin Blohm gebieg het oor sy drank en dwelmprobleme en die beeld geskep het van die tortured artist wat net lewe om sy liedjies te skryf en kitaar te speel, wat baie romanties is, ook omdat hy so maer en blond is en nogal fotogenies, wat nogal raar is in Afrikaanse populêre musiek. Dit was asof Blohm nou werklik homself wou laat identifiseer as 'n rock ster in di eou tradisie van Keith Richard en al diesulkes.
Verder het Blohm ook 'n televisierol losgeslaan, en amper in die voetspore van Valiant Swart gevolg om 'n multi media ster te word. En moontlik ook sommer 'n volksliefling soos Swart of Kombuis, maar ek vermoed Blohm is nog te nat agter die ore en moet waarskynlik ook maar sy paadjie loop, alhoewl mens voel dat die oaadjie heelwat langer was vir Kombuis en Swart omdat hulle die pioniers was.
Verlede jaar het ek Die Groent Trui gekoop, tot dusver, sover ek weet, Blohm se laaste album en weereens is my gevoel dat die kitaar effens weggepak is en die romantiese en / of pynbelaste ballade die pad is na sukses eerder as wilde rock musiek, ten minste in die ateljee. Ek het nog steeds nie die geleentheid gehad om Mnr Blohm se verhoogoptrede te ervaar nie. Sy ballades is wel treffend en die man se skor stem kan allellei emosies in sy woorde ontluik wat hartverskeurend kan wees, maar soms wens ek dat die rocker in die man, soos wat hy beweer hy is, tog moet losbars en die ding ruk tot ek lekkerkry. Neil Young, om maar net een voorbeeld te noem, kry dit reg om aan die een kant akoestiese musiek te maak met van die beste melodieë wat ek al gehoor het en aan die ander kant sy swart Les Paul te gebruik as klankwapen van formaat, en mens kan nie juis werklik bepaal watter weergawe van Young die beste een is nie.
Jan Blohm is jonk en aantreklik genoeg en het soveel talent dat hy nog lank sy musiekloopbaan sal kan volg op 'n vlak waar hy nog die tienergehoor nog die familiegehoor hoef te paai, en kan so eiesoortig wees as wat hy wil. Dog is dit blykbaar so dat hy 'n mediaster wil wees, derhalwe die dramareeks, en moontlik 'n pin up boonop. Dit is altyd goed vir 'n talentvolle kunstenaar in watter genre ook al, om ook aantreklik te wees of dit vir tienermeisies is, ouer dames, gay mans, of wie ook al. Om dan 'n paar nie so geheime skelette in die kas te hê, is natuurlik gewoonlik 'n aanwins as jou aantreklikheid sterk genoeg is om mense jou swakhede le taal vergewe.
Blohm se skor stem gee 'n gewig aan sy diep persoonlike liedjies wat hulle laat klink soos innige getuienis en 'n gebieg oor swakhede of heimwee or wat ook al oor sy siel loop, onafgesien daarvan of hy dit werklik persoonlik bedoel, en mens kan dink dat hy 'n monstertreffer kan hê met die regte lied oor diep liefde of pynlike teleurstelling. Aan die ander kant is hy ook 'n rocker wat sy Stratocaster kan looi. Ietsie vir almal.
Dis Saterdagaand 6 Maart 2010 en die Jan Blohm band speel by Die Boer in Durbanville. Die groep is klein: net Mnr Blohm 'n baskitaarspeler en 'n tromspeler. Martin Labuschagne speel die kerisepienk Fender baskitaar en Jan speel 'n sunburst Stratocaster met tremolo handvatsel en al, en nog so 'n kitaar staan heelaand ongebruik op die rand van die verhoog, voor die klankversterk, waarskynlik die beroemde Vox AC30, of dan 'n moderne nabootsel van die klassieke klankversterker van die Beatles en Rolling Stones en al wat ruk en rol groep was in die Sestigs, voor die dae van die Marshall stack. Die tromspeler is 'n jong outjie genaamd JP en hy speel vanaand sy tweede of derde gig saam met die ander twee. As hy op sy senuwees is, versteek hy dit goed.
Jan Blohm is op sy stukke vanaand. Hy gaan sy kitaar looi, sy volle passie in sy liedjies sit en baie grappies maak, met karakteristieke hand op die heupe houding, en so 'n op sy tone, met bene bymekaar, getrippel wanneer hy die kitaar behoorlik bykom en sulke witwarm blues licks of rowwe ruk en rol akkoorde hamer. Dis 'n man wat alles insit. Martin is self nie lui nie. Op een of twee klimaktiese oomblikke spring hy hoog die lug in en tokkel die baskitaar se snare met geoefende vingers. Hulle is net drie, dog klink soos meer.
Meeste van die repertoire kom van die onlangse 7 Jaar album, wat blykbaar vir 'n SAMA toekenning genomineer is, en hier en daar 'n ouer nommertjie vir die aanhangers wat hom al lank volg. Daar is niks noemenswaardig stadig en diep emosioneel nie. Jan Blohm wil rock and roll en hy wil dit hard, luid en duidelik naak. Hy is nie juis 'n bluesman nie, maar speel tog heelwat blues licks en beweer soort an dat hy van die blues af kom. Dis net nie juis wat uit sy albums blyk nie, maar dan is dit seker so dat die ateljee Blohm en die verhoog Blohm twee verskillende kreature is. Vanaand wil Jan Blohm vermaak, al is daar nie genoeg spasie in Die Boer vir die gehoor om op te spring en te dans nie. Iewers in die agterrond skree 'n skril, dronk jong dame gedurig vir Ek Wens. Die meeste van ons wens sy wil stilbly. Blohm doen glad nie die nommertjie nie. Miskien het hy nie die versoek gehoor nie.
Daar is darem een encore, wat Blohm seker verwag het, en als is oor en verby na omtrent 90 minute en 15 liedjies. Ek het die handgeskrewe set list gegryp as herinnering.
Dit was een van die beste musiekaande wat ek in 'n lang tyd beleef het omdat dit lyk of die mense op die verhoog nie net passie het vir hul musiek nie, maar ook pret het daarmee, al speel hulle waarskynlike heelwat gigs per jaar. As verhoogpersoonlikheid kom Blohm voor as aangenaam, onopgesmuk, die tipiese oulike Vrystaatse seun wat jy graag huistoe sou wou neem. Hy maak heelwat minder of meer versluierde verwysings na sy drankgewoontes, wat moontlik nou iets van die verlede is, en wat waarskynlik deel van die Blohm mite geword het. Hy het gelyk soos 'n gawe seun, het toe geblyk om voete van klei te hê, maar het gebieg, om vergifnis gevra en weer van voor af begin.

0 Comments:
Post a Comment
Subscribe to Post Comments [Atom]
<< Home