Monday, March 15, 2010

Alex Omega

Is dit kuns of is dit kak? 'n Outjie wat tuisopnames maak van homself en sy kitaar en woordryke mymeringe oor fok weet wat en nie altyd die tradisionele melodie ding doen nie en wie se kitaarspeeltegniek amper klink soos iemand wat verlede week begin leer het en nie kan wag om na homself te luister nie. Die ding is: nie net neem Alex Omega homself op nie, maar hy stel sy musiek beskikbaar aan algar op CD-R en doen die vreeslike moeite om elke CD in 'n unieke, individueel handversierde verpakking vry te stel sodat elke 'album' as't ware 'n kunsprojek is. Weereesn word die vraag gevra: waar is die skeidslyn tussen ongekunstelde primitiwiteit en ongeletterde argwaan, of te wel, hoekom wil ons na hierdie tuisproduksies luister en het hulle meer langdurige, standhoudende waarde as net egostreling?

Flip Swiegers, wat op Stellenbosch woon en sy vingers meer op die daardie dorp se kulturele pols het as ek en heelwat van die musikante, digters, skrywers en kunstenaars op die dorp ken, het nou die dag kom kuier en 'n handvol CD-Rs saamgebring van ene Alex Omega wat sy musiek in sy spreekwoordelike slaapkamer opneem en eiehandig versprei in verpakkings wat eiesoortig en uniek is, soos die musiek.

Die 3 versamelings waarna ek luister is Mathilda Stapp 'n Kortetjie, Goovy en Ode Aan 'n Kettingsaag. Die eerste twee bevat normaal lengte liedjies en die derde versameling het 41 snitte waarvan die oorgrootte meerderheid skaars 30 sekondes lank is en bloot klanksnitte is.

Omega klink soos 'n digter wat ook liedjies skryf, soos Andre le Toit eens op 'n tyd was, en 'n lekker rekenaarprogram het waarmee hy beats en blips kan maak wanneer hy nie op sy akoestiese kitaar tokkel nie. Die kitaar begeleiding klink meestal soos iemand wat 'n soort van reggae effek wil bewerkstellig en soos ek van Flip verstaan, is Alex nie noodwendig baie tegnies vaardig nie, maar speel hoofsaaklik op gevoel af. Soms is die ritmes interessant aweregs, half soos 'n per ongeluk gelukkie wat die man getref het met sy akkoorde, en soms klink dit soos dieselfde ding oor en oor.

Hier en daar is daar elektriese kitaar wat deur woeste effekte gesit word, soos 'n echo delay unit en fuzz, wat 'n heeltemal meer psigedeliese effek gee. Alex het ook 'm trommasjien wat hy ongelukkig nie met soveel verbeedling gebruik nie. Die ding gaan gewoonlik net doef, doef, doef, sonder om 'n werklike dansvloereffek te gee. Dis een ding om met jou voet op 'n plank te stamp, soos john Lee Hooker, en dis 'n ander ding om meganiese ritmes aan te wend sonder veel meer punt as om die perkussie effek te gee.

Ek neem aan die liedjies is almal veronderstel om in hul finale vorm te wees, maar soms mis mens meer beats en soms klink die musiek soos demos wat nog iewers in die toekoms uitgebrei en gepoleer gaan word. Mens wonder of Alex Omega die liedjies opmaak soos hy hulle opneem en of hy hulle reeds ingeoefen het voor hy hulle opneem.

Die man is klaarblyklik besonder geinspireer om sy musiek te maak en op te neem en te versprei, en dit is die huidige ideaal en praktyk dat enige voornemende musikant bloot die nodige, en redelik eenvoudige, rekenaartoerusting tuis moet hê om in staat te wees om hul musiek te verewig en te versprei, hetsy via die Internet (wat die maklikste en goedkoopste metode is) of via CD-R. Mens kan waarskynlik 'n geldjie hieruit maak al gaan jy nie ryk word nie aangesien daar 'n groot gemeenskap daarbuite is wat in die alternatiewe sy van die kultuur belangstel.

Daar is egter gans te veel musiek tans beskikbaar, van die eerste musiek wat ooit opgeneem is tot die heel nuutste. Die Internet het dit juis moontlik gemaak dat mens allerhande produk so te sê kosteloos kan versprei bloot omdat jy dit skep, en onafgesien van enige kommersiële waarde wat dit sou hê as jy dit in Musica se rakke pak. Alex Omega kan slagoffer word van hierdie massa kultuur oordosis effek, aangesien nie alles wat hy opneem noodwendig 'n werk van uitsonderliek genialiteit is nie en oor die lengte van meer as een versameling liedjes raak sy musiek effens eentonig.

Ode Aan 'n Kettingsaag is 'n beter konsep omdat dit soveel kort stukkies bevat dat mens se belangstelling deurentyd gaande bly omdat die verskeidenheid so groot is en mens dan gedurig wil weet wat volgende gaan kom. Met sommige van die stukkies wens 'n mens ook dat dit heelwat langer kon gewees het en ek wonder hoe dit sou wees as hy langer stukke elektroniese musiek aanmekaar kan sit, iets soos 'n ambient of cool out elektroniese album aangesien hy nie heeltemal disco musiek maak nie.

Ten minste maak Alex Omega nie nie agtergrondmusiek nie. Meeste van sy liedjies verg aandag, anders put mens geen sin of genot daaruit nie. Dis nie asof hy wesenlike lewenswaarhede of waardevolle filsosofiese insigte het nie, maar die woorde is interessant en soms so vreemd in gedagtegang dat mens ingesleep word in 'n alternatiewe wêreld wat boeiend is en nie heeltemal ons wêreld is nie.

Die punk werskprogram was om drie kitaar akkoorde te leer an dan liedjies te skryf. Moontlik ken Mnr Omega die hele akkoordboek se drukke en is sy onortodokse aanslaag bloot die bewys van sy verwaande sofistikasie. Moontlik het ny geen boodskap. Kosmoes of kosmpolitaans, vir ons nie. Moontlik amuseer hy homself bloot in sy vrye tyd met die konsep van vryskepping wat op een of ander manier tog 'n gehoor gaan trek en mobiliseer as hy net sy musiek kan versrpei, al is dit via profete soos Flip Swiegers. Word of mouth is waarskynlik die beste advertensie medium vir die musikale nutsman, veral as hy sodoende onafhanklik, vreemd en half misterieus kan bly voortbestaan.

Ek kan amper net hoop dat Alex Omega eendag bloot Mega gaan wees en kan spog dat ek sy musiek geken het toe dit nog in die kombuisindusriefase was.

0 Comments:

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home