Kombuistaal: Koos Kombuis se Niemandsland
Die kreatiewe entiteit bekend as André le Toit het nooit juis diep onder my vel ingekruip nie. Ek het André le Roux du Toit se Huisgenoot kortverhale in die vroeë Tagtigerjare nogal geniet omdat hulle buite die norm geval het met aweregse en amusante stories. Ek onthou steeds die storie oor 'n gefrustreerde huisvrou wat 'n stuk aangehad het met haar Duitse herdershond, in die tuin nogal, omdat dit so nie die tipiese Huisgenoot verhaal was nie. Dit was egter die laaste wat ek die man se geskrewe werke waardeer het.
Mettertyd het ek afgekom op sy twee digbundels, wat ek in die J S Gericke biblioteek van die Universiteit van Stellenbosch gelees het, en gewonder hoe die man dit reggekry het om uitgewer te oortuig om die gedigte daarin te publiseer. Dat André le (Roux du) Toit goed was met woorde, was nie te betwyfel nie en dit was verfrissend om weereens iemand te lees wat in werklike spreektaal skryf, soos die Genootskap van Regte Afrikaners van ouds, en sy vindingryke gebruik van Engelse woorde om sy ryme te vorm, was bewonderingswaardig, maar daar was min of geen diepte in die woorde of emosies nie. Die gedigte het gelees soos oefeninge in woordgebruik, eerder as poësie. Hierdie man het sy emosies op sy mou gedra omdat daar niks daar diep binne was wat hy wou of kon ten toon stel nie.
Selfs later, toe ek circa 1989 André le Toit se tweede roman gelees het, het ek steeds die opinie gehuldig dat ons hier te doen het met iemand wat nooit meer as 'n voetnota sou wees in enige Afrikaanse literatuurgeskiedenis nie. 'n Mens kon maar net hoop dat hy betaal ontvang het vir sy prosa; dit is nie asof daar literêre diepte of impak was nie.
Met iets soos Piekniek by Dingaan het ek vir die eerste keer tot die gevolgtrekking gekom dat die man veel beter sou doen as 'n liriekskrywer. Om 'n "rock poet" te wees, werk beter vir sy soort van slimmigheid met woorde. Dit was egter vir my moeilik om uit te werk wie se werk in die verhoogstuk, wat ek, soos so baie Kapenaars, by die Baxter gaan kyk het, waarskynlik omdat die Nico se bestuur nie sulke aanvalle op die sosio-politieke kultuur van die tyd wou ondersteun nie, die meeste gewig gedra het. Dit het definitief gelyk asof Johannes Kerkorrel die man was, en Le Toit slegs die effense fôkop van 'n byspeler.
Iemand het Eet Kreef beskryf as die belangrikste Afrikaanse album ooit, maar ek dink Niemandsland ...en Beyond verdien daardie prys. By die Baxter was Piekniek by Dingaan kabaret op die groot verhoog en op die keper beskou, was die Gereformeerde Blues Band se optredes op die Voëlvry toere ook slegs maar kabaret op die groot verhoog. Dit was Koos Kombuis en sy eerste rock album wat die werklike deurbraak gemaak het, en myns insiens die eerste werklike Afrikaanse rock album gemaak het.
Ek het die Ver Van Die Ou Kalahari kasset gekoop en was nie besonder beïndruk daarmee nie, veral nie met wat ek beskou het as 'n gedwepery met Afrikanerwees soos 'Boer in Beton' nie, en omdat sulke eenvoudige akoestiese musiek nie my koppie tee was nie, en ek ook die kits mitevervaardiging van die kasset verafsku het. Nogtans was ek by die Jazz Den in Soutrivier vir die amptelike vrystellingspartytjie van die album, maar het net gebly tot aan die einde van Le Toit se eerste set. Ek was nie lus om langer daar rond te hang nie as hy maar net eenvoudig in lewende lywe dieselfde liedjies op die dieselfde manier gaan sing en speel as op die kasset wat ek reeds het. Die ander lede van die gehoor was totale vreemdelinge en ek kon myself nie vereenselwig met die tipe selftevrede Afrikaanssprekendes wat ek daardie aand in die Jazz Den gesien en gehoor het nie. Moontlik word die aand in die populêre kultuur geskiedenis van alternatiewe Afrikaanse musiek geloof as die begin van iets groots, miskien is dit een van daardie mitologiese gebeurtenisse waar die beweerde teenwoordiges so baie is dat hulle Nuweland sou kon vul, maar as ek dit gemis het, is dit maar daarnatoe. Ek het nie van die musiek of die vibe gehou nie. Ek is in die eerste plek soontoe omdat ek 'n passievolle ondersteuner van plaaslike Kaapstad-gebaseerde musiek was en omtrent alles bygewoon het wat in daardie jare aangebied is, en omdat ek altyd belanggestel het in iets nuuts en gewonder het of daar wel 'n nuwe Afrikaanse gees gaan posvat, en of Afrikaanse musiek moontlik nou hip gaan wees. My teleurstelling was groot.
Ewenwel, ek en Le Toit het 'n gemeenskaplike vriend gehad, wat self 'n musikant was, en saam met die boys uitgehang het, maar nooit deel was van die binnekring of self 'n musiek loopbaan in die alternatiewe Afrikaanse sfeer nagestreef het nie. My vriend het 'n paar keer gesê hy sal my aan Le Toit voorstel (ek dink Le Toit het in daardie jare in 'n verlepte gebou in Muizenberg gewoon, in die donker jare voor die Muizenberg Renaissance op soveel mense se lippe was), maar dit het nooit gebeur nie. Ons drie (en natuurlik vele ander) was almal in die saal by die Three Arts teater toe die Voëlvry toer daar opgetree het, maar ek was in die gehoor en my vriend het agter die verhoog dronk geword saam met sy vrinne. Hy het nie geweet ek is iewers in die skare nie, al het ek in die gang gestaan toe 'n uiters dronk Piet Pers amper oor my voete geval het.
Dit was in die Bakoven in Stellenbosch dat ek een dag die sotlike moed bymekaargeskraap het om vir André le Toit, of moontlik was hy toe reeds amptelik Koos Kombuis, te gaan steur terwyl hy sy koffie gedrink het en die koerant gelees het. Ek was in Stellenbosch vir 'n hofsaak wat afgestaan het,of afgehandel was, en omdat ek tyd gehad het nie my nie wou terug haas na Kaapstad nie, het ek by Bakoven gaan koffie drink. Le Toit/Kombuis het na my ingekom en by 'n tafel in die teenoorgestelde hoek gaan sit. Op daardie stadium het ek onder die indruk verkeer dat dit bloot 'n kwessie van tyd sou wees voor ons gemeenskaplike vriend ons aan mekaar sou voorstel en om een of ander duistere rede het ek gedink dat dit dom sou wees om daar te sit en die man te ignoreer (daar was maar min mense in die koffiewinkel), om dan iewers in die nabye toekoms te moet verduidelik hoekom ek in die Bakoven nie sy bestaan wou erken nie. Ek het natuurlik nie rekening gehou met die waarskynlikheid dat hy my nie sou onthou nie, en ook nie met die waarskynlikheid dat hy nie deur vreemdelinge, veral nie 'n vreemdelinge in 'n liggrys pinstripe pak, gesteur wou word nie. Hoe dit ook al sy: ek het opgestaan, na die man gestap, en gaan hallo sê en een of ander iets gemompel het oor ons gemeenskaplike vriend. Dit was vir my 'n groot verligting dat hy bloot hoflik terug gegroet het, en my nie afgejak het nie. Ongelukkig het ek nie geweet wat om vir hom te sê nie – ek het vermoed dat hy nie belang gaan stel in 'n bespreking van my opinie oor sy werk nie, en dit het nie gelyk asof hy die gemeenskaplike vriend onthou nie – en het gou weer teruggekeer na my tafel, en ons het mekaar verder geignoreer.
Ek het Le Toit/Kombuis ook verskeie kere gemerk by die Spur in die Gardens Centre, in die goeie ou dae, veral op Sondagaande wanneer ek volgens gewoonte daar 'n wafel gaan eet het, maar hy het my of nie gesien nie of bloot geignoreer.
Daar was dus nooit enige vorm van vriendskap tussen ons nie.
Soos so baie jong(erige) Afrikaanssprekendes (en blykbaar ook Engelssprekendes) in die laat Tagtigs, het ek 'n intense belangstelling in die hele Voëlvry fenomeen gehad. Soos ek gesê het: ek het in elk geval baie moeite gemaak om plaaslike musikante te ondersteun, en hierdie nuwe Afrikaanse ding was uiters interessant as sosio-politieke verskynsel en die musiek het op eerste aanhoor geklink soos werklike rock musiek, en boonop musiek van die soort waarvan ek gehou het.
Ek het Ver Van Die Ou Kalahari gekoop, asook The Voice Of Nooit kasset van Corporal Punishment/The Banned waarop die eerste weergawe van 'Hou My Vas Korporaal'
was; ek het Vula! tydskrif gekoop en gelees oor Bernoldus Niemand, The Kêrels en The Genuines; en ek die Kaapstad optredes van die laaste twee groepe bygewoon, en ek het hulle plate gekoop (al moet mens byvoeg dat nie een van hulle primêr as Afrikaanse groepe bekend gestaan het nie; hulle het bloot hier en daar 'n Afrikaanse liedjie gedoen), en ook sommer op die koop toe ook Shifty Records se Voëlvry album wat myns insiens 'n groot gekullery was as hulle daarmee wou aandui dat die plaat die bewys was van 'n groot, aardskuddende verandering in die plaaslike musiek. Al wat Shifty mooi netjies gedoen het was om in die meeste gevalle die enkele Afrikaanse liedjie wat verskeie van sy kunstenaars opgeneem het, op een plek by mekaar te sit en voor te gee dat ons hier 'n nuwe beweging het.
Verder het ek die twee Kaapse Voëlvry konserte van 1989, by die Drie Gewels Hotel buitekant Stellenbosch en by die Three Arts teater in Dieprivier, bygewoon. Koos Kombuis het beide konserte geopen as solo-kunstenaar: net hy en sy kitaar en sy stem. By die Drie Gewels het dit vir my geklink of hy ook 'n beat box tipe van ding gebruik het om bietjie meer lyf aan sy klank te gee, en wat sy musiek wel die groter diepte en kleur gegee het wat daardie optrede vir my 'n hoogteput gemaak het.
By die Three Arts, was dit net die man en sy kitaar en dit het nie gewerk nie. Kombuis se beste werk daardie aand was sy vele skalkse verwysings na al sy ex-girlfriends in die gehoor, wat die gehoor baie geniet het. Dit was tydelik dat hy 'n rapport met die saal vol mense gehad het, maar die optrede was temerig en lusteloos, in skrille kontras met die goedgeoefende en luide Gereformeerde Blues Band wat die sterre van die aand was, met hul Eet Kreef album om te bemark. Koos Kombuis was miskien meer die man vir die volk op die aand, maar hy was vir my half soos die verstandelik vertraagde jonger broertjie wat 'n kans gegee word om hom gelukkig te hou en omdat hy die sentimentele gunsteling van die gehoor is, maar wat andersins bloot getolereer word totdat dit tyd word vir die grootmense om te speel. Okay, die dinamika mag heel anders gewees het onder die mense agter die verhoog. Ek was nie daar nie en ek was nie deel van die binnekring nie. Dit was bloot my observasie en ek het bloot gewonder wat die man daar soek. Dit was nie asof hy met 'n deurbraak optrede voor die dag gekom het nie. Going through the motions was meer die werklikheid.
In nabetragting was Kombuis se uiterste eenvoud moontlik meer die ware Jakob as Johannes Kerkorrel se ingeoefende, slick kabaret rock vertoning wat absoluut meesterlik en vermaaklik was, maar veral teen 1990 en Voëlvry II sy glans verloor het en net so vervelig en sprankelloos was as Kombuis se solo optrede die vorige jaar. Wat die kontras nog meer skril gemaak het, was die verskyning van Niemandsland ... en Beyond waar Koos Kombuis 'n ware Afrikaanse rock album gemaak het, sonder die kabaretstyl emosionele manipulasie van Kerkorrel, en met musiek uit die boonste rakke wat inderdaad hard gerock het. Koos Kombuis het met een reuse sprong wegbeweeg van 'n bywoner op die plaas van alternatiewe Afrikaanse musiek tot eienaar van 'n reuse eiesoortige plaas van sy eie.
Daar is diegene, en dit lyk vir my of daar 'n groot menigte van hulle is, wat dink James Phillips is, of was, die koning van die plaaslike musikante van die Tagtigs en vroeë Negentigs en dat hy een of ander verskyningvorm van musikale genie was. Na my mening is al hierdie mense verkeerd. Dit is nie te betwyfel dat Phillips 'n belangrike rol gespeel het in Suid-Afrikaanse musiek in die Tagtigs, en dat hy nou 'n mitiese figuur is (hoofsaaklik vanweë sy onverwagse vroeë afsterwe), maar as mens kyk na sy nalatenskap van vrygestelde musiek, is dit eintlik net Wie Is Bernoldus Niemand? wat 'n ongekwalifiseerde sukses is en die lofuitinge verdien waarmee Phillips oor die algemeen so ryklik geseën word. The Cherryfaced Lurchers se Live At Jameson's is losweg die swakste plaaslike rock album wat ek besit (ek kan nou nog nie glo dat ek betaal het vir die stuk drek nie) en Sunny Skies is 'n goeie voorbeeld van produksiewaardes en goeie bedoelings wat aangewend om pretensieuse tjol te kamoefleer en te vergoelik. Ja, ek glo nie in die James Phillips mite nie.
Die ding is: as ondersteunende musikant vir Koos Kombuis was hy onverbeterlik, en dit is Phillips en die res van die Shifty Records musikant mafia van die Tagtigerjare wat maak dat Niemandsland so goed is, so vars bly na al die jare en verdien om aangemerk te word as die Jaar Zero dokument van Afrikaanse rock.
Ek moet beken dat ek nooit destyds die Niemandsland langspeelplaat gekoop het nie, ten spyte daarvan dat ek omtrent al die Kaapse optredes van die Niemandsland bemarkingsveldtog bygewoon het. Daar is geen goeie rede nie; moontlik kon ek die ding nie opspoor in enige van die platewinkels waar ek uitgehang het nie en as dit by die optredes te koop aangebied was, het ek moontlik nie kennis geneem daarvan nie of ek wou nie 'n plaat by so 'n geleentheid koop nie omdat ek geen vertroue in die kwaliteit van plaaslike platevervaardiging gehad het nie. Wie weet. Ek het die CD weergawe van die album eers in 2004 gekoop en onmiddelik die nostalgiese ritteltits gekry om terug te dink aan die glorie dae van die eerste koms van Koos Kombuis as rocker.
Daar was die naamsverandering – hy wou blykbaar terugbeweeg na die Kombuis waarnatoe die Engelse in die Kaapkolonie die nuutgevonde Afrikaanse taal wou verban in die 19de eeu – en daar was 'n image van 'n witman met 'n Rasta pruik en 'n vreemde swart, groen en goud uitrusting waarmee Meneer Kombuis wou wys dat hy homself vereenselwig met die Afrisentrisme wat stadig maar seker begin posvat het in die gees van die komende bevryding en wat sy hoogtepunt bereik het in die sogenaamde Madiba hemde waarvoor ons eerste demokratiese verkose president so lief is. Op 'n manier was dit ook 'n ironiese verwysing na, of moontlik 'n huldeblyk aan, die Kaapse Klopse. Ek het gedink die kleredrag was effens pretensieus, half soos die naamsverandering, maar die musiek was so gatswaai lekker dat ek verby die verhooguniform gekyk het, en die spektakel met onbevange hart geniet het. Dit was inderdaad 'n bevange spektakel.
Ek was verskeie kere by die Café Royal hotel in Kerkstraat, en ten minste een keer by The Master Mariner's Club in Kortmarkstraat, en moontlik ook by die Brass Bell, of waarookal die Koos Kombuis ervaring opgetree het in daardie tyd, en ek het elke vertoning terdeë geniet en gewonder hoekom alle Afrikaanse musiek nie so opbeurend kon wees nie. Koos en vriende het natuurlik elke keer vir 'n gehoor vol bekeerdes gespeel en dit het gehelp om elke optrede in 'n fees te omskep.
Tot en met die koms van Niemandsland was die standaard alternatiewe groep in Kaapstad 'n klomp musikante vir wie professionalisme nie noodwendig die belangrikste aspek van hul bestaan was nie, so lank as daar grondige politieke beweegredes was en drank en dwelms 'n rol gespeel het. Al was die lede van die groep, of dan sommige van hulle, Afrikaanssprekend, was Engels die taal van die lirieke en die Engelse weergawe van hip die enigste aanvaarbare weergawe van hip. Met Koos Kombuis en Niemandsland was daar vir die eerste keer 'n samekoms, op meer as bloot die spesiale geleentheid van iets soos Voëlvry, van hip jong Afrikaanssprekendes wat nou nie meer skaam was om Afrikaanse musiek te geniet nie, veral omdat die musiek nie as rock hoef terug te staan vir enigiets anders wat plaaslike groepe aangebied het nie, en heel dikwels stukke beter was.
Die kenmerkende karaktertrek van Afrikaanse musiek, van enige betekenisvolle aard, is dat die liriekskrywers daarvan hou om stories te vertel en karakters te skep en hul karakters in 'n bekende milieu, een of ander deel van Suid-Afrika, te plaas, terwyl die algemene Engelse liriekskrywer poog om universele situasies en emosies te beskryf sonder dat mens ooit weet waarvandaan die skrywer kom, hoofsaaklik, so lyk dit vir my, sodat enige iemand dwars oor die wêreld met die veralgemenings kan identifiseer en die musiek dus nie so parogiaal is dat potensiële kopers in vreemde streke die musiek sal vermy bloot omdat hulle nie weet waaroor dit gaan nie. Dit is seker nie 'n verkeerde benadering nie, maar dit maak die produk dikwels heelwat vlakker as wat dit sou wees as die skrywer sy/haar liedjies kontekstualiseer in die werklikheid van sy/haar omgewing, soos wat so baie Afrikaanse liedjieskrywers doen. Die Afrikaanse liedjieskrywer wil oorwegend wortels ten toon stel; die Engelse liedjieskrywer wil ten alle koste wortels vermy as dit enigsins Suid-Afrikaans is.
Die goeie Afrikaansprekende liriekskrywers is hoofsaaklik direk en saaklik betreffende sy of haar herkoms en burgerskap en is nie skaam om aan te dui dat hulle van hier af is nie. Koos Kombuis is nie die eerste Afrikaanse musikant wat dit gedoen het nie – Anton Goosen het dit op 'n effens kitsch manier gedoen, en David Kramer het dit met humor en sielvolheid gedoen – maar hy was waarskynlik die eerste een wat dit gedoen het vir en met 'n gehoor wat nie belang gestel het in luisterliedjies, Afrikaanse pop, of neo-volksmusiek nie. Hulle wou musiek hê waarna hul ouers nie sou wou luister nie en nie sou verstaan nie. Hulle wou rebelse musiek in hul eie taal hoor. Hulle wou in Afrikaans rock met al die bykomstighede wat rock musiek beloof aan sy praktisyns en aanhangers. Hulle wou absoluut hê dat Afrikaanse musiek hip moet wees en dat die hip musiek nie net 'n ironies grappie sou wees nie, maar net so ernstig en net so geldig as enigiets wat die Engelssprekende alternatiewes al die jare hul eie gemaak het.
Koos was die man en Niemandsland was die album wat dit reggekry het om gestalte te gee aan die versugting vir hip Afrikaanse musiek.

0 Comments:
Post a Comment
Subscribe to Post Comments [Atom]
<< Home