Tuesday, August 30, 2005

JOHN MAYALL WORD 70. HET STEEDS DIE BLUES

Ons is iewers in 'n groot tent in Liverpool en die ruimte is gevul met Wit Britte wat hier is om 'n sewentigste verjaarsdag te vier – die verjaarsdag van 'n beroemde Liverpudlian musikant wie se naam John is. Dog nie die meer beroemde en tans oorlede John Lennon nie, maar die “Father of British Blues” hom sigselwers, die nimlike silwerhaarjakkals John Mayall. Hy’t nog al sy hare, met 'n netjiese poniestert, dra 'n swart frokkie en swart jeans en het steeds al die entoesiasme wat hy veertig jaar gelede gehad het toe hy na London getrek het om sy blues kruisvaart te begin.

Die nuutste versameling Bluesbreakers is op die verhoog agter John; nie een van hulle is so beroemd of sal waarskynlik ooit so beroemd wees as sommige van die alumni van die Bluesbreakers “Blues College” nie, maar hulle is professioneel en kan die blues bespeel soos dit hoort in die nuwe millennium en hulle dra die trotse mantel met trots en goeie gemoed.

Heel links is die man op Hammond B3 orrel en met sy ongestruktureerde baadjie-hemp en T-hemp en kleinlens sonbrilletjie en korterige hare en stoklyf lyk hy soos iemand wat 'n ernstige Tagtigerjare retro mode fiksasie het. Hy grinnik permanent, asof net hy die grappie vang. Langs hom is die tromspeler, 'n kaalkop. gryshaar man wat soos 'n goedige Britse apteker lyk. Die baskitaar speler het lang hare en 'n rooi satyn hemp met tierstrepe, soos die uitsmyter by 'n laegraadse nagklub, en lyk eweneens of hy in 'n mode kontinuum vasgekeer is. In sy geval is dit die laat Tagtigs, kort voor grunge die wêreld verower het. Interessant van die man is dat hy 'n vyfsnaar baskitaar speel. Heel regs staan die hoofkitaarspeler, genaamd Buddy, en hy lyk en trek aan soos 'n skuldinvorderaar. Daar is 'n reuse vetrol – 'n myntrekker se binneband -- om sy middellyf en dis maar goed sy arms is lank genoeg om by sy Stratocaster uit te kom.

Tydens “Walking On Sunset” kom 'n drie man bronsblaasinstrument seksie uit, gelei deur trompetspeler Henry Lowther wat saam met saxofoonspeler Dick Heckstall-Smith deel was van die vergrootte Bluesbreakers groep waarin Mick Taylor sy naam gemaak het. Hierdie drie kêrels het bygedra om tot die lyfswaai jazzerigheid van die blues. Geen solo’s nie, net onmiskenbare ondersteuning – die ekstra speserytjie.

John Mayall kies klaarblyklik nie sy musikante vir hul visuele aanloklikheid nie en dat hulle kan speel, is bo twyfel. My enigste klagte sal wees dat die tromme te veel na rock tromme klink. Te hard en te min swaai.

Wat besonder opmerklik is, op hierdie aand waar die blues en Mayall se verjaarsdag herdenk word, is dat daar nie een Swart musikant op die verhoog is nie -- nie eers as spesiale gaskunstenaar nie. Dis Britse blues en dus is die gehoor en die musikante bleekwit, selfs blouwit.

Die eerste drie nommertjies is minder bekende Mayall komposisies, en ek weet nie of hulle gister geskryf is en of hulle tien jaar gelede gedoen is nie. Ongelukkig is John se stem nie meer so sterk nie, die melodieë is nie watwonders nie en die ritmeseksie is te stokkerig alhoewel kragtig. Heelaand wissel Mayall af tussen sing, en bekfluitjie, elektriese klavier (sommer so terselfdertyd) of een van sy tuisgemaakte kitare wat omtrent net 'n Stratocaster nek is op 'n kleinerige blokkie hout. Soos ek het die gehoor effens ongeduldig begin raak -- dis als baie gaaf en die groep het 'n lekker groove, maar waar is die groot helde uit die verlede?

Die eerste een is Mick Taylor, die derde van die mees beroemde kitaarhelde wat deur die Bluesbreakers gegaan het. Taylor het Peter Green vervang wat op sy beurt vir Eric Clapton vervang het. Interessante statistiek is dat beide Clapton en Green slegs op een Bluesbreakers album elk gespeel het terwyl Taylor twee of drie gedoen het. Mick Taylor het daarna by die Rolling Stones aangesluit, en vir jare in die vergetelheid rondgeval nadat hy daardie groep verlaat het en is tans besig met 'n lae profiel loopbaan in blues en jazz gerigte musiek.

Mick Taylor is nie meer die maer, blonde krulkop engelgesiggie van weleer nie. Deesdae is hy geset van middellyf, maar het nog steeds 'n lekker dos lang hare en dis net in sy gesig dat mens sien hy het 'n avontuur of twee gehad op sy lewenspad. Wanneer hy speel dans hy so bietjie op die plek links op die verhoog, reg voor die klawerbordspeler, waar hy heelaand staan. Taylor se kitaar is 'n outentieke antieke Gibson Les Paul kitaar en, verrassing, hy gebruik net sy vingers. Die Les Paul is een van die twee mees cool kitare ooit – die Telecaster is die ander een – en in die hande van 'n meester sing dit soos 'n Lorelei. Beide Clapton en Green het soortgelyke kitare gespeel in hul onderskeie tye met Mayall. Die klank van die Gibson Les Paul was indertyd die klank van die Britse blues.


Tydens sy eerste solo gryp Taylor 'n glasbotteltjie – die veelgeroemde Coricidin bottel? -- om bietjie lawende glykitaar te speel. Oor die algemeen is hy die bedeesde kitaarman van die aand. Subtiel, sensitief en met heelwat jazz in sy akkoordwerk. Ek merk naderhand op dat dit lyk asof Taylor se linker wysvinger 'n pleister om het. Hy speel op sy hardste op “Walking on Sunset” (dis die boulevard in Los Angeles) en “Oh Pretty Woman” en dis veral hier waar Mayall se stem hom in die steek laat. Dit het net nie die krag om die wellustigheid van die woorde gestand te doen nie.

Mick Taylor is 'n subtiele fees en mens kan skaars dink dat hierdie tipe spel tuiste kon vind by die rowwe Keith Richards en kie. Sy vingers vloei en sweef oor die snare en liefkoos die blou note uit die staal en elektrisiteit uit. Op die nabyskote op sy hande kan 'n mens goed sien hoeveel sweet al in die hout van die kitaarnek ingesink het. Op “Blues for the Lost Days” en “Oh Pretty Woman” speel beide Taylor en Buddy twee lang solo’s en dis hier waar mens die verskil sien tussen gevoel en ervaring aan die een kant, en hoofsaaklik tegniese vaardigheid aan die ander kant. Dis nie dat Buddy nie ook gevoelvol kan speel nie, dis dat dit meer klink soos moeite en dat Taylor se spel so moeitevry is.

Om een of ander onverklaarde rede is Peter Green nie deel van die vierings nie. Die tweede groot kitaarspeler is die man wat eiehandig die groot Britse blues boom van die laat Sestigerjare geskep het, die man wat op sy dag as “God” aangespreek is, die man wie se lewe soos die lewe van 'n regte bluesman se lewe klink en wat vandag heelhuids anderkant uitgekom het en waarskynlik een van die mees gerespekteerde en geliefde musikante in die wêreld is – dit is Eric Clapton. Die gehoor het hom verskeie kere staande toegejuig.

As ek John Mayall reg verstaan het, is dit die eerste keer in 38 jaar dat Clapton saam met die Bluesbreakers speel. Eers doen die twee “No Big Hurry” waarin hulle op hul eie is. Mayall op klavier en bekfluitjie en Clapton op kitaar, en dan kom Chris Barber op om dit 'n vreemde verskyningsvorm van jazz trio te maak. Daarna speel Clapton 'n hele paar van die liedjies waaraan hy sy meesterskap verleen het op die John Mayall: Bluesbreakers with Eric Clapton album, soos “Hideaway” – dié toppunt van blueskitaar virtuositeit in London in 1966 -- en hier teen 'n heelwat rustiger tempo, en “All Your Love” en die stadige blues “Have You Heard.” Clapton sing ook twee nommertjies, “Hoochie Coochie Man” en “I’m Tore Down” wat hy op From The Cradle sy eie terug-na-die-blues album uit 1994 opgeneem het.

Alles wat Eric Clapton doen, is ook 'n intense plesier om mee te leef. Niks oordonderende geluid of vinnige vinger vaardighede nie, of enigiets anders as stille selfvertroue en baasskap van die blues nie. In sy eenvoudige donkergrys T-hemp en jeans en bril lyk Eric Clapton soos 'n besondere cool onderwyser. Vir kitaarspelers sal die DVD besonder nuttig wees. Daar is baie nabyskote van vingers wat oor die nekke van kitare bokspring en as 'n aspirerende bluesman nie 'n les of twee in die tegnieke van Clapton of Taylor kan kry hierso nie, weet ek nie so mooi nie.

Clapton speel 'n gekleurde Stratocaster, nie die meer bekende “Blackie” nie, en sy meesterskap is ook absoluut duidelik. Ek het gewonder hoe Buddy moet voel in die geselskap van twee lewende kitaarlegendes en as Buddy effens geintimideerd voel, wys hy dit nie. Inteendeel sy spel raak ook skerper en meer gevoelvol. Daar is 'n paar kere waar 'n mens kan hoor dat Eric Clapton 'n groot invloed was.

Die derde gaskunstenaar van die aand is nie 'n kitaarspeler nie en sover ek weet was hy ook nooit 'n Bluesbreaker nie. Hy is tromboonspeler Chris Barber, die man wat in die 50’s daarvoor verantwoordelik was om die Britse publiek ietsie van die blues te leer en wat daarin kon slaag om bluesmanne van die formaat van Muddy Waters te oorreed om in Brittanje te kom toer. Barber kan waarskynlik nie te veel ouer as Mayall wees nie, maar hy kom voor soos 'n oupa wat per ongeluk op verhoog beland het met sy snaakse blaasinstument en van plan is om 'n geluid te maak, kom wat wil. Tog nie. Die ou toppie het nog vuur en vlam in hom en hy kan blues speel al lyk dit soms of hy nie mooi weet presies waar die mikrofoon is nie. Sy groot nommer is “Please Mr Lofton” wat Mayall se huldeblyk is aan die groot boogie woogie klavierspeler Cripple Clarence Lofton en Mayall doen 'n bietjie boogie van sy eie en Barber pomp daai buis soos in die Kansas City van ouds. Hy het ook nie meer die krag nie; die entoesiasme maak op daarvoor.

Die tweede laaste liedjie op die DVD is nog 'n nommertjie van daardie Bluesbreakers album met Eric Clapton, en dis Little Walter se “It Ain’t Right” waar Mayall 'n groot bekfluitjie solo neem en selfs 'n bietjie ritmiese “human beat box” klanke soos beroemd gemaak in die lang, lewendige weergawe van “Room To Move” op die Turning Point album. Dis die enigste nommer waar die ritmeseksie na iets klink wat in Chicago gehoor kon word. Die tromspeler haal sy metaalborsels uit en speel 'n hupse loslit backbeat en amper dink 'n mens dis soos die ou dae.


Die laaste nommer is die oorlede J B Lenoir se “Talk to Your Daughter” en al die gaste is teenwoordig vir 'n bietjie ensemblespel wat altoos vir my so effens skoolkonsertagtig voorkom. Die musikante grinnik en speel entoesiasties en die gehoor dans by hul sitplekke en sing die refrein hardop. Beide Taylor en Buddy gooi glykitaar – Buddy se glybuis lyk soos 'n bruin bierbottelnek – en Clapton hou by sy gewone enkelsnaarstyl. Mayall en Clapton en Buddy en Barber is almal aan die regterkant van die verhoog en vir een of ander rede bly Mick Taylor daar links, in sy eie spasie voor die klawerbordspeler, asof hy nie regtig tuis voel in die uitgelese geselskap nie. Hoe dit ookal sy, dis 'n fees en die gehoor is onmiddellik op hul voete wanneer die laaste note gespeel word en die Bluesbreakers, oud en huidig, afskeid neem.

Aan die einde van “Have You Heard” roep Mayall uitbundig uit, “The blues does not get better than that” en ek moet sê dat alhoewel die musiek genotvol was en die kitaarspelers 'n mens gedurig hoendervleis gegee het, is dit moeilik om te bepaal of die blues gewen het. Dit was vir my meer die triomf van die showbizz van blues – van grensmusiek tot establishment musiek. Die musikante soos Mayall en Taylor en Clapton het klaarblyklik 'n agting en liefde vir die blues, maar dis baie maklik om te voorsien dat Buddy of die klawerbordspeler, of enige van hulle, net so maklik enige ander musiek sal speel om 'n inkomste te verdien. Die blues het Eric Clapton se lewe gered; die blues is sy nering. Vir Buddy is dit net nog 'n gig. Hy het die tegniek, maar nie die blues nie. John Mayall, sy werkgewer, het nie vreeslike tegniese vaardigheid nie, maar die musiek is in sy siel. Clapton het die blues. Hierdie mense is die laaste generasie van die outentieke blues – as mens vir 'n oomblik sal aanvaar dat Witmense die outentieke ervaring kan meeleef – die res is bloot nabootsers van iets waarvan hulle baie mag hou, dog nooit so sal ervaar nie.



DELTA BLUE INBLUESSTATION (Merchant Records, 2003)


“I WANT YOUR SOUL, MAN”


Delta Blue het in 1999 met die voortvarende bravade van die prille jeug hul debuut album met hul weergawe van die diep blues opgeneem in die Klein Libertasteater, Stellenbosch, daar diep in die Eersterivier delta. Die ietwat komieklike aanmatiging van die albumnotas ten spyt, was dit duidelik dat die groep die ou tradisie nuwe lewe wou gee met 'n klaarblyklike diepgewortelde liefde vir die musiek wat hulle so doelgerig nageboots het. Live was 'n belowende dog gebrekkige debuut – iets soos die Blues Broers met 'n beter sanger.

Die jaar daarna het die ateljee-opnames van die Turn mini-album gevolg en dit was voorwaar 'n aangename skok vir die stelsel. Die studentikose is vermy, die musikante het die grootoog blues entoesiasme en na-apery agtergelaat en musiek geskep wat deurspek was van subtiele, elastiese ritmes en melodie en Gerald Clark se stem het tot sy reg gekom het nadat hy die innerlike soul man 'n kans gegee het om te jubel terwyl hy sy blues sing. Turn is daardie rariteit in musiek: 'n album wat te kort is. 'n Verstommende ommekeer in prestasie.

In 2003, drie jaar na die vernuwing van Turn, verskyn die logiese voortsetting wat Inbluesstation is, waar die groep daardie belangrike verskil tussen loslit en losgat onderstreep met melodieë, verwerkings en soepel spel vol pure plesier. Terloops, Delta Blue het ook intussen ontwikkel tot die mees simpatieke en bestendige van ondersteunende musikante op ander mense se albums – soos byvoorbeeld op Alta Joubert se debuutalbum, Warrelwinde.

Om die punchline nie verder uit te rek nie: met Inbluesstation het Delta Blue sonder twyfel die plaaslike meesterstuk in soulblues rock geskep.

Die produksie is puik en stem en instrumente is klokhelder en dit is waar die subtiele vindingrykheid van die verwerkings en die musikante se bevange spel 'n mens keer op keer tref – en, ja, dit is 'n album wat 'n mens op endless repeat wil sit. Hoeveel keer kom 'n mens af op musiek wat keer op keer daardie selfde endorfien rush gee?

Die album begin en eindig met twee bona fide blues nommertjies, asof Delta Blue se bedoeling is om die volgorde van die snitte half soos 'n goed uitgewerkte lewendige optrede te laat lyk.

Die Little Walter standard “My Babe” skop die partytjie af en al is die bekfluitjiespeler nie Walter nie, het hierdie musiek 'n wip en 'n soepelheid wat onmiddellik 'n grinnik op my gevreet laat verskyn. Dit is blues om 'n mens goed te laat voel en dit laat my goed voel.

“Milk Cow Blues” volg hierna, maar dit is nie die ou-bekende blues van Kokomo Arnold nie. Die blouerige begin met akoestiese kitaar, klavier en gloeiende glykitaar ontwikkel stadig maar seker van lirieke oor kosmiese reise via 'n aanhaling uit die oorspronklike blues liedjie tot die uitbundige gospel refrein van “I want your soul, man” (haai, ek hoop nie dis Satan by die kruispad teen middernag nie!) en dit wil my voorkom dat Delta Blue ons hiermee wil toets, bietjie met ons koppe wil smokkel, gegewe dat daar enersyds die skalkse verwysing is na hul blues invloede en andersyds die uitdruklike beleidsstelling dat hulle ver weg beweeg het van downhome en dat die gees van die ekstatiese gospel oorgeneem het.

Dit is die wonderlike verrassing. Delta Blue se konsep van musikale vooruitgang is om puristiese blues vir eers daar te laat en liewer te gaan soek na die geheiligde Southern gospel soul waarby Clark se stem so goed inpas, met soul musiek se sterk afhanklikheid van die hartstog van daardie charismatiese kerkliedere wat God ekstaties aanprys. Delta Blue het meesters geword van die musikale aanslag waar die liedjie en die uitvoering daarvan die belangrike faktore is en nie meer die blote afwyserige baasskap op hul instrumente wat so baie moderne blues ontsier nie. Natuurlik is elke Delta Bluespersoon 'n uitstekende musikant, maar daar is genoeg selfvertroue om te besef dat almal wen as almal saamwerk om die beste uitvoering van die liedjie te gee en te vergeet van individuele ego’s. Ensemblespel op sy beste.

“Hazel Street” is funkier, met bekfluitjie en saxofoon op die refrein en 'n stukkie jazz in die middel tussen die twee kitaarsolo’s – “I’m gonna play that funky music ‘till I die.” Nog 'n uitbreiding op die credo.

Die liedjie gerig aan die dame genaamd Miss Glory Be is die stadige bluesnommer en Gerald Clark graaf diep in sy emosies terwyl Henry Steele die pyn besweer met vlymskerp kitaarspel wat elke noot maak tel en nie in oormatige nootoorskotte verval in die waan dat dit die blues meer effektief maak nie.

Met “Ain’t No Tellin” is daar 'n blaaskansie: Net Clark en 'n huppelende akoestiese kitaar en die mees tradisionele blues lirieke op die album. Die stiller oomblik word gevolg deur die soulblues rock van “Muddy Water Blues” wat 'n gerieflike halfpadpunt op die album vorm.

Die tweede helfte skop af met bekfluitjie en blaasinstrumente en 'n uiters weemoedige melodie en Clark op sy mees introspektiewe (“gonna make my way back to the world / if it means I gotta pray / I swear I will”) omdat die blues hom begin onderkry, en dan halfpad deur die liedjie versnel die tempo en word dringender en Clark beloof meer en meer hartstogtelik dat hy sal bid om net weer sy voete veilig terug op die grond te kry. Dit is “Troublesome” en dit is 'n hoogtepunt van musikale en verbale dinamika en naas “Milk Cow Blues” die mees fyn uitgewerkte musiek op die album. Dit is hier waar 'n mens agterkom hoe hard die groep gewerk het om vernuwing te bring aan 'n geykte genre.

Al klink die titel soos Jimi Hendrix ontmoet Andrés Segovia is “Super Flamenco Voodoo Child” bloot 'n aangename dog effe liggewig viering van een van God se meer wonderbaarlike vroulike skepsels. “Poor Man Blues” is luimige jazzerige blues met 'n swewende saxofoonsolo. “Gangsta” is 'n kort, funky instrumentele ding met jazz elemente en “Inbluesstation” bou tematies daarop voort om ons 'n verdere aanduiding van Delta Blue se toekomsvisie te gee (“I’m a rolling steam train”).

Die tweede laaste snit, “Boogie Chillen”, is glad nie die John Lee Hooker oer-boogie nie en alhoewel dit heel hups boogie laat dit my wonder hoekom hulle so 'n beroemde titel gebruik as dit nie eers hulde bring aan die oorlede Boogieman nie.

Die groep roep ons vaarwel toe met Lightnin’ Hopkins se “Mojo Hand,” ’n variasie op die tema van die meer bekende “Got My Mojo Workin“, gewoonlik die laaste nommer van 'n Muddy Waters optrede. Die subtiele plesier vir my – ek bedoel nou bo en behalwe die gatskop musiek -- is dat ek 'n rare intelligensie hier bespeur wat die minder bekende liedjie kies en dit gebruik om hul program mee af te sluit en om die stempel te wees op die plesierighede wat dit voorafgegaan het. Die klavier speel 'n guitige boogie woogie en die tromme galop en hoof- en glykitaat gooi woes en ek kan voor my geestesoog sien hoe die groep in die ateljee gedans het ter viering van 'n taak welgedaan.

Na Inbluesstation kan Delta Blue enige tyd my siel kry.

'n HANDVOL SUID AFRIKAANSE CD’s WAT TEL


BERNOLDUS NIEMAND Wie is Bernoldus Niemand?
Shifty Records 1986 (Tic Tic Bang - Bang CD 007)

James Phillips se beste album …ooit. Die eerste aanduiding dat iets in die jong Afrikaanse wêreld roer wat nie die Establishment se goedkeuring sou wegdra nie. Die “alternatiewe Afrikaner” en “Voëlvry beweging” het hier begin kop uitsteek. En die man was nie eers Afrikaanssprekend nie.



BILLYGOAT Drawl
(Trippy Grape Records, 1997)

Gloeiende glykitaar, rowwe ritme-kitaar en liedjies oor drank, moeilike vrouens en die lang pad. Ruk en rol wat ruk en ruk – gatjeuk en voetestamp musiek soos wat min mense in hierdie land doen. Onpretensieuse “roots rock’n’roll” met blues insetsels. Bevat die oorspronklike weergawes van “Bring vir Elvis Terug” en “Vassit Op Die Vlaktes” (as geheime snitte) wat later in 'n volledige album ontwikkel is deur SAM.



PIET BOTHA 'n Suitcase Vol Winter
Wildebeest Records 1997

Piet Botha se eerste Afrikaanse album. Liedjies wat hulself stadig in jou psige tuismaak en dan nooit laat los nie. Swakste snit is die Koos Kombuis liedjie wat die stemming van die res gruwelik breek.


BROLLOX & BITTERGAL Doolhof
1997

Afrikaanse prog-rock. Driestuks uit Stellenbosch (dink ek) met groot kitaarmusiek en bittersoet melodieë. Uit die niet verskyn, in die niet verdwyn. Skande.


DELTA BLUE Turn
Afrimusik 2000

Tweede album. Als hul eie musiek. Ses skittersnitte wat die rigting wys na die Inbluesstation album. 'n Absolute wesenlike deel van jou CD versameling as jy van Delta Blue hou.


FORTUNE COOKIES, THE Ordinary Day
(Musketeer Records, 2002)

Klassieke kitaarpop bestanddele: kraakvars klank in 'n empatiese produksieleiding waar elke element helder en duidelik gehoor word, met 'n soet en sensuele vrouestem en melodieë wat na twee of drie keer se luister vassteek soos nete. Goeie dinge kom in klein pakkies – die album is onder 40 minute lank. Absoluut die beste album wat in 2002 in Suid Afrika vrygestel is. (Okay, een van die top drie.)


JACK HAMMER Ghosts On The Wind
Inhouse Records 1994

Eerste CD album. Patetiese produksieleiding wat al die oemf uit die musiek vat. Die kitare klink soos koue noedels, die tromme klink soos nat vadoeke. En die mikrofoon was in die gebou langsaan. 'n Misdaad teen die mensdom.


JACK HAMMER Death Of A Gypsy
Wildebeest Records 1995

Tweede CD album. Naas Piet Botha bly slegs Lowell Jeffery op baskitaar oor van die vorige album af. Lani van der Walt speel kitaar. Die produksieleiding is beter, dog die musiek plof nog steeds, voel versmoor. Hoekom het moes ons tot 2004 wag vir die klokhelder en kragtige klank van The Pilgrim en die lewendige album?


MAGIC CACTUS Things
(1997)

Mbaqanga, reggae, jazz, folk, rock – die geheel is wel groter as die bestanddele. Ernstige onderwerpe word aangeraak, maar die musiek is opgewek en ophelderend en dansbaar. Betowerend. Omtrent elke liedjie skitter. Hierdie album is waarlik 'n verlore skat


OTIS WAYGOOD BLUES BAND Otis Waygood Blues Band
RetroFresh Music 2000

Absoluut die beste Suid Afrikaanse bluesrock album voor Inbluesstation, alhoewel hierdie kêrels minder soul doen en meer die progressiewe blues en vroeg 70’s rock ding doen. Goeie klank, uitbundige musiek – alles spel plesier. Jammer van die 3 bygelaste snitte van hul laaste album wat die atmosfeer ruïneer met lomp, ongeinspireerde “heavy” musiek.


RADIO RATS Into The Night We Slide
One World Entertainment 1993 (oorspronklik 1978)

“ZX Dan” was 'n briesie vars lug op SA Radio in die laat Sewentigs, met 'n kitaarmelodie wat jou gemoed tot in die stratosfeer laat sweef het. Min of meer kontemporêr met die 70’s punk ontploffing, dog meer gewortel in die oorspronklike punk van middel-Amerika van die middel Sestigerjare. Guitige kitaar rock en 'n sin van humor.


SHARKBROTHER TajMahala
(2000)

Bietjie Leonard Cohen, bietjie Nick Cave, baie elektronika en 'n groot skep intrige en hipnotiese melodie. Musiek vir kerslig en goed wat jou rustig laat voel. Musiek wat sonder haas benader en beluister moet word. Min tromme.



SKALLABRAK Musiek Vir My Spaceship

Country punk, of so-iets. Kletterende tromme en raserige kitare. Hul bevange weergawe van Koos Kombuis se “Kytie” is so te sê alleen die dwingende rede om die CD te besit – dis in die hande van ander musikante waar 'n mens werklik hoor hoe goed Kombuis is as liedjieskrywer. Skallabrak doen ook 'n puik “Verslaaf.” Andersins is hul eie harmonieë en melodieë ook verslawend.



TRANSFORMERS Transformers
Wildebeest Records 1997

Twee wit outjies op kitaar en stem, 'n swart ritmeseksie en twee vroue wat ook sing. Mbaqanga en 'n bietjie reggae. Afrikaanse en Engelse woorde. Slim woorde boonop. En melodieë. Dis 'n skande dat hierdie mense nie steeds musiek maak nie. Hulle musiek was, werklik, alternatief.


VIA AFRIKA Via Afrika
RetroFresh Music 2000 (oorspronklik 1983)

Die beste, vreemdste, mees oorspronklike Suid Afrikaanse musiek in die Tagtigs. Mbaqanga ritmes, bevange baskitaar en meesleurende melodieë. Niemand het toe so geklink nie en niemand het ooit weer so geklink nie. “Via Afrika” en “Hey Boy” was groot klubtreffers; beide dansbaar en soortvan polities subversief.

DELTA BLUE / DAN PATLANSKY
The Hidden Cellar, 11 September 2004


Net na 22h00 het die Delta Bluesmanne op die verhoog opgestap, instrumente opgeneem en begin speel Die eerste nommer is iets nuuts genaamd “I feel good” – lekker soul rock groove wat Gerald Clarke kans bied om sy passievolle stem tot die uiterste te beproef. Clarke se afro is al weer aan die groei en in sy wit T-hemp en jeans lyk hy vreeslik jonk, dog sy bewegings en stem laat my dink aan 'n mengsel van Joe Cocker en Van Morrison. Hy reik na diep in sy hart en siel om daai emosie vry te stel en sing so bevange en onbeteueld dat mens hom net as 'n natuurlike ster kan ervaar. Baie sex appeal.

Die musikante is soos 'n geoliede groove masjien wat hard en tight speel, soos ervare musiekkrygers. Daar is 'n nuwe outjie op elektriese klavier en orrel en jy maak gedurig interessante bydraes met 'n jazzerige klavierklank en dreunende orrel akkoorde. Die klank is suiwer en helder, lirieke duidelik, en vul die vertrek. Delta Blue kan gooi en met gemaklike selfvertroue boonop. Al is die tweede nommer van die aand “I ain’t superstitious” is dit nie 'n vreeslike blues set nie. Ja, Delta Blue speel heelwat blues in die set, meer as hul eie komposisies, maar dit is die blues van die Britse R & B blomtydperk van die laat Sewentigs,met groepe soos Dr Feelgood. Die eerste van hul eie werk is 'n saamvlegsel van “Milk Cow Blues” en “Boogie Chillen” van Inbluesstation af. Baie lekker maar nog steeds te vinnig en te hups na my smaak. “Milk Cow Blues” sal gans beter werk as dit teen 'n stadiger pas gevat word en meer klink soos die opgeneemde weergawe.

Daar sit 'n kring jong dames op die vloer voor die verhoog. Clarke verwys twee keer na hulle. Die eerste sardoniese opmerking is dat hulle klaarblyklik reeds moeg gedans moet wees. 'n Bietjie later sê hy dat die kring waarin hulle sit waarskynlik bedoel is as landingsplek vir 'n UFO. Beide keer lag die gehoor saam met die ironie. Halfpad deur die stel storm 'n jong lat na vore en begin wild dans met bene wat soos 'n wafferse spastiese cheerleader in die lug geskop word. Ek is bang hy gaan Clarke se mikrofoon wegskop. Dan kom 'n ouer, plankdun man in tweed baadjie en losbol lang grys hare by en doen die kopskud dans, en dan is die vloer skielik vol jong meisies en hulle kêrels.

Die enigste ander nommer van die Inbluesstation album af is 'n lang, bevange, intense weergawe van “Glory Be” waar Henry Steele twee lang solo’s neem en die vertrek moer-toe blaas. Krag en finesse en melodie. Meeste van die liedjies is ou bekende blues nommers soos “Blues before sunrise” en “I’m tore down” (beide a la Eric Clapton op From The Cradle) en “Hoochie Coochie Man”. Ons het al die goed voorheen gehoor, maar die Delta manne blaas nuwe lewe in elkeen. Die laaste nommer van die Delta Blue set is “Voodoo Chile (Slight Return)” wat meer ‘n gospel nommer word as die bluesrock weergawe van Hendrix of Stevie Ray Vaughan. Dan is dit oor en die manne verlaat die verhoog.

Dan Patlansky is hier met sy Mississippi Muthers trio. Dit is die eerste keer dat ek ‘n goeie kans kry om te sien hoe hy lyk en ek is verbaas oor hoe klein hy vertoon, in sy swart klere,en met die rooi Stratocaster wat te groot vir hom lyk. Die musiek is die standaard power trio Stevie Ray Vaughan nabootsings wat met groot entoesiasme en energie en tegniese vaardigheid aangepak word. Die gehoor is mal daaroor en die dansers is vinniger voor die verhoog aan die skoffel as met Delta Blue. Ek herken baie min van die oorspronklike nommers. Slegs “Mississippi Muthers Blues” bly oor van die debuutalbum af en daar is drie glykitaarnommers waar die man met meer behoudendheid speel as andersins, soos sy rotsvaste weergawe van “Hoochie Coochie Man.”

Met baie van die nommers begin Patlansky melodieus en subtiel en dan gaan hy mal in die solo met al daai dinge wat hy solo na solo saambring en wat veroorsaak dat elke nommer naderhand begin klink soos elke ander een. Dis hoekom die glykitaarpogings so verfrissend is – minder note per sekonde. Patlansky doen “Got My Geetar” en “Mow De Lawn” en ander komposisies van sy nuwe album en omdat die klank so goed is, kan ‘n mens duidelik hoor wat hy sing en al is Dan Patlansky nie so ‘n vindingryke lirikus soos Gerald Clarke nie, is die nuwe liedjies vars en interessant en aangrypende vernuwings in ‘n ou genre.

Patlansky se weergawe van “I ain’t superstitious” is veel stadiger as dié van Delta Blue. Die beste kontras is sy weergawe van “Voodoo Chile (Slight return)” – waar Delta Blue die gospel konsep bring, doen Patlansky dit as ‘n psigedeliese instrumentele nommertjie wat ook ‘n dieper dimensie daaraan gee en vir ‘n slag minder vol foefies is. Dit is die laaste nommer van die gewone stel. Die gehoor vra luidrugtig om meer te hoor en Patlansky roep vir Clarke terug. Met Clarke op bekfluitjie en stem spring hulle weg met “Mannish Boy” totdat Clarke besef en erken dat hy nie die woorde ken nie. Gelukkig het “Mannish Boy” omtrent dieselfde stoptime ritme as “Hoochie Coochie Man” en die musikant glip met gemak in die tweede nommer in en jam al te lekker. Die skare het steeds nie genoeg gehad nie en skreeu en fluit en stamp hul voete totdat Dan Patlansky en vriende terugkom en “Travelling Riverside Blues” doen en die laaste bietjie sweet uit die dansers tap.

Dan is besig om sy kitaar te ontkoppel toe ek daarop aandring om ‘n album te koop en hy hou onmiddellik op waarmee hy besig was om ‘n karton iewers onder ‘n apparaat uit te haal met etlike dosyn CD’s in. “Thank you, man,” sê vir my, maar voordat ek iets meer kan sê, word hy oorval deur twee ouens wat blykbaar ou vriende is en ek blaas die aftog met my nuwe Patlansky album.

Gepraat na die album. Ek dink Patlansky sal moet probeer werk maak daarvan om met meer musikante op die verhoog te speel. Dit is waarskynlik finansieel gesproke meer sinvol om so in as moontlik mense in die groep te hê op die verhoog, maar een van die dae gaan die gehoor ongelukkig begin raak omdat hulle nie die musiek op die album kry as hulle die Patlansky verhoogoptredes bywoon nie. Dit is letterlik asof daar twee Patlansky’s is: die bronstige, vinnigevinger kitaartowenaar op die verhoog, en die subtiele, meer vindingryke kitaarmeester in die ateljee.

Maart 1997
GERT VLOK NEL

Ons was vroeg al by die Baxter-teater, seker so agtuur se kant. Die vertoning was geskeduleer vir 08h15. Daar was alreeds ‘n hele klomp mense wat in verskeie groepies met mekaar staan en gesels, ‘n wesenlike aantal van hulle het saamgedrom om die twee tafels waar onderskeidelik die toebroodjies uitgestal was en die wyn bedien is. Ons het gewonder hoeveel van die ou bekende Afrikaanse gesigte daar sou wees, mense uit Stellenbosch se dae, al het heelwat van hulle al hulself in Kaapstad ingeburger. Ek moet bieg dat ek vooraf niemand herken het nie, maar na die einde van die vertoning het ek wel hier en daar ‘n ou bekende gesig gesien.

Een van die Baxter se “kliëntedienste” is om luidsprekeraankondigings te maak oor die aand se vermaak in die verskillende teaters van die kompleks, soos om die naam van die vermaaklikheid te noem, die spesifieke teater aan te wys en dan die begintyd te gee. Die aankondigings is gewoonlik uitsluitlik in Engels. By hierdie geleentheid het die jong dametjie wat die aankondigings voorlees ‘n brawe poging aangewend om Afrikaans te lees en het hakkelende en stortende deur haar woorde geworstel. Dit was so ‘n halwe verleentheid, alhoewel sy seker applous moet kry vir haar poging, maar die hoogtepunt was toe sy na die ster van die aand, en die rede vir my teenwoordigheid by diee Baxter-teater, verwys het as “Geld Vlok Nel.” Ek dink nie sy was ‘n Japannees nie, alhoewel Afrikaans duidelik nie haar moedertaal is nie. Miskien was die glipsie onbewustelik profeties bedoel. Miskien het die Baxterbestuur die mening gehuldig dat slegs Afrikaanssprekendes hierdie vertoning sou kom bywoon en dat ‘n mens nie van hulle kon verwag om selfs ‘n eenvoudige aankondiging in Engels te volg of te verstaan nie.

Ewenwel, by hierdie gala geleentheid van verlede Vrydagaand, 20 Junie 1997, die Kaapstadse verhoogdebuut van Gert Vlok Nel, het ek skielik heimwee gekry vir die wonderlike dae van die laat Tagtigerjare: die dae van die Nuwe Afrikaner (ook bekend as die Altennatiewe Afrikaner) en Casper de Vries se “Goeiemôre Suid Afrika/Good Morning South Africa” revue, “Piekniek by Dingaan” (die samewerking tussen Johannes Kerkorrel en Andre Le Toit) en selfs die 1989 “Voëlvrytoer” met Die Gereformeerde Blues Band en ondersteunende artieste.

Hoekom die nostalgie? Wel, die eerste twee van bogenoemde “nuwe/alternatiewe Afrikaner” kulturele gebeurtenisse het hul Kaapstadspeelvakke in die Baxter Teater gehad. en verlede Vrydagaand het nog ‘n splinternuwe Afrikaanse kulturele fenomeen ‘n optrede (hy sou dit seker ‘n “performance” noem) by die Baxter gelewer: Gert Vlok Nel: digter, liedjieskrywer, sanger, kitaarspeler en bekfluitjiespeler.

‘n Mens moet hier in gedagte hou dat die Baxter eintlik die bastion is van Kaapstad se Engelssprekende kultuurlewe, en voorheen die “struggle” teen die Afrikaneronderdrukkers. Weliswaar vereis die Baxter se handves sekerlik nie ‘n eksklusiewe Engelstalige teaterinstansie nie, maar dit is sterk verbonde aan Universiteit van Kaapstad en die tipe teater wat daar opgevoer is in die verlede, en wat definitief in die toekoms gaan volg, was sover my wete strek uitsluitlik in Engels. In die “struggle” jare was ‘n betekenisvolle aantal van die opvoerings boonop ook nog gemik teen die Afrikaner Broederbondregering.

Amper aan die ander kant van die stad, in die middestad op die strandgebied, staan die groot Afrikaner kulturele bastion, die Nico Malan-teater, of pleinweg Nico soos hy deesdae, in die nuwe demokrasie, genoem word om te ontsnap van die meer blatante en tans onsmaaklike politieke aspekte en ondertone van die volle naam. Die Nico is die tuiste van KRUIK wat nie per se ‘n politieke organisasie is of was ne en nie ‘n ooglopende politieke agenda gehad het nie, maar die burokrate in beheer daarvan was seker nie onbekend in Broederbond en ander regeringskringe nie en het ten minste hul bes gedoen om skadelose teater te pleeg.

Die Nico Malan-teater het ‘n groot kulturele sendingsfunksie gehad, naamlik om die kunste vir die “volk” toeganklik te maak en om die “volk” op te voed. In hierdie rol en met hierdie doelwit is vele “klassieke” toneelstukke in beide landstale opgevoer, baie dikwels in totale verontagsaming van die politieke en sosiale werklikhede van Suid Afrika. KRUIK het regeringsgeld ontvang en moes derhalwe tot daardie mate katvoet loop en nie problme veroorsaak nie. “Struggle” teater, teater wat ge-”workshop” is, het nie juis ‘n plek in die Nico Malan gehad nie.

Daardie plek was die Baxter wat onder andere kommersieel gemotiveerd was, en nie bloot deur ‘n groot kulturele sending besiel was nie, altans nie soos deur die Establishment gedefinieer nie. Die Baxter het ook sy oog op die “townships” gehad..

“Goeie Môre Suid Afrika” en “Piekniek By Dingaan” het gespruit uit die laat Tagtigerjare se “Alternatiewe Afrikaner” beweging: (meestal) jong Afrikaanssprekendes wat die onaangename, onaanvaarbare politieke komponent van Afrikanerwees en die Afrikaanse taal wou besweer; hulle wou bewys dat selfs wit Afrikaanssprekendes nie noodwendig met die regering van die dag saamstem nie en net so krities daarteenoor staan soos hulle Swart broers en Engelssprekende medeburgers. Hierdie Nuwe Afrikaners wou bewys dat Afrikaans instaat was om ‘n positiewe politieke of sosiologiese komponent te hê. Hulle wou die punt maak dat Afrikaans nie meer ge-identifiseer of verwar moet word met apartheid of the Nasionale Party-regering nie; hulle wou aantoon dat hulle netsoveel onder die onderdruktes tel as hul Swart broers en susters.

Die teater van Casper de Vries en veral Johannes Kerkorrel was so krities, met volop satiriese humor, van die heilige koeie van Afrikaner kultuur en politiek dat hulle nie verwelkom is deur die Afrikaner, Broederbond Establishment nie en glad nie ‘n tuiste kon kry in die Nico nie -- die Voëlvrytoer is selfs toegang tot Afrikaanse universiteitskampusse geweier. So, groot ironie, De Vries en “Piekniek by Dingaan” het groot en entoesiastiese gehore getrek by die Baxter Teater.

Ekself was destyds daar. En ek het gewonder watter persentasie van die gehoor Afrikaanssprekend was en of daar ook ‘n betekenisvolle aantal Engelssprekendes was, wat of bloot gedink het dat die Alternatiewe Afrikaner “in” is en derhalwe ondersteun moet word, of miskien was hulle maar net nuuskierig om te sien presies hoe krities en “akternatief” die Nuwe Afrikaner in werklikheid was. Ek vertrou dat die Engelssprekendes wat wel daar was darem Afrikaans goed genoeg magtig was om al die blitssnelle, subtiele en slinkse Afrikaanse kwinkslae te kon snap.

Gert Vlok Nel se “performance” verlede Vrydagaand was in die sogenaamde “Studio,” kleinste van die drie teaters in die Baxter kompleks. ‘n Gehoor van omtrent so 150 siele, waarvan omtrent 20 blykbaar gratis kaartjies gekry het. Weliswaar nie ‘n allesoorwinnende en plattrappende triomftog nie, maar dit was ‘n begin vir hom, en selfs ‘n nuwe begin vir ‘n Afrikaanse taalbeweging in Kaapstad. Die organiseerders het doelbewus net twee optredes gereël, een op Vrydagaand en een op die daaropvolgende Saterdagaand. omdat hulle onseker was oor die impak wat Gert Vlok Nel sou maak; hulle het nie die vaagste benul gehad of hy enige beduidende gehoor in Kaapstad sou trek nie al was hy blykbaar ‘n treffer by die mees onlangse Klein Karoo Kunstefees.

Die titel waaronder Gett Vlok Nel opgetree het, was “Om Beaufort Wes se Beautiful Woorde te Verlaat” synde “ ‘n nostalgiese reis met woorde, foto’s en ‘songs.’ ”

En dit, min of meer, is wat dit was. Gert Vlok Nel het ‘n paar van sy liedjies gesing, begelei deur sy eie kitaar- en bekfluitjiespel met die ondersteuning van ‘n tweede kitaarspeler, en grepe uit sy digbundel voorgelees terwyl skyfies geflits het op ‘n skerm agter hom. Die hele optrede was net effens langer as ‘n uur en aan die einde daarvan het Gert Vlok Nel ons nederig bedank vir ons teenwoordigheid en ondersteuning en die verhoog verlaat. Geen encore.

Die liedjies was sterk verhalend van aard, lank en met veel insident, so ‘n kruis-teling tussen Bob Dylan en Leonard Cohen, en seker ‘n goeie snars van Koos du Plessis, blykbaar Gert Vlok Nel se grootste plaaslike sang- en/of liedjieskryfinvloed. Die tweede kitaarspeler het heelwat kleur bygevoeg, onder andere ‘n bietjie blues atmosfeer, en die liedjies was baie effektief om stories te vertel wat miskien minder impak sou gehad het as hul voorgelees was, maar saam met die melodieë geklink het asof hulle groot filosofiese en lewenswaarhede kon voorstel.

Die voordrag van die gedigte en die skyfievertoniung was minder effektief, Gert Vlok Nel het nog nie die voorleeeskuns bemeester nie. Hy lees soos iemand wat nog nie mooi leer lees hetr, so half huiwerend en met min of geen intonasieverskille of stembuigings nie, alles so op een vlak van spanning. So elke nou en dan, as hy sy manuskrip neersit om sy kitaar op te neem, het die velle papier of sy bekfluitjie op die vloer langs hom geval en dan het by ‘n bietjie tyd gemors en die vloei van die optrede versteur. Hy het agterna darem ruiterlik erken dat hierdie manuskriprondvallery nie vooraf gechoreagrafeer was nie! Dalk was die vertoning bedoel om amateuragtig te wees, soos iemand wat maar net bloot in sy voorkamer vir sy vriende ‘n voorlesing doen.

Ek het in September 1993 vir die eerste keer van Gert Vlok Nel kennis geneem toe ek ‘n bladsy in De Kat tydskrif omgeblaai het en gekonfronteer is met ‘n volblad kleurfoto van die einste Mnr Nel waar hy breed op die enjinkap van ‘n Ford Consul sit. Wel, om die waarheid te sê, met eerste oogopslag het ek gedink dit is ‘n foto van Flip Swiegers, want die man se aangesig, haarkapsel en hele houding was so tipies Flip Swiegers dat Gert Vlok Nel netsowel Flip se Doppelganger kon wees.

Die gesig was vlesig en pofferig, soos iemand wat te goed eet en te veel drink en te min fisiese oefening kry. Die oë was op skrefies getrek sodat ‘n mens nie die kleur van die man se oë kon sien nie en dat dit half gelyk het asof die persoon kwaad is vir die wêreld, die fotograaf of iets. So ‘n half nors, half agterdogtige blik. In werklikheid het die son seker maar net in sy oë geskyn. Die liggaamshouding, gepaardgaande met hierdie gesigsuitdrukking, het iemand weerspieël wat half vyandig gesind was, half ongemaklik was met homself en die aandag wat aan hom gegee word. Hy sal poseer vir die foto, maar te hel met die wêreld! Tipies Flip Swiegers.

Ewenwel, dit blyk toe ene Gert Vlok Nel te wees: die nuutste Afrikaanse digkunssensaie. Slegs Matriek en ‘n sekuriteitsbeampte, maar ‘n ware digter. Hy het omtrent aangetrek soos wat ’n mens van ‘n proletariese, kwasi-beskaafde sou verwag. Denimbaadjie toegeknoop tot by die nek, sonder hemp. Swart broek, wit sokkies. Veterlose skerpppunt “ducktail” skoene met rek langs die kante. Dit was so perfek dat ‘n mens kon vermoed dat dit alles gestileer was.

Ek moet sê dat ek vroeër vanjaar, toe ek gelees het van sy optrede by die Klein Karoo Kunstefees, ‘n sterk vermoede ontwikkel het dat Gert Vlok Nel ‘n goeduitgedinkte, allesomvattende konseptuele grap was.

Gert Vlok Nel (hy dring daarop aan dat “Vlok,” sy moeder se familienaam, ewe veel gewig moet dra as sy pa se van) is van Beaufort Wes afkomstig en is nou seker so in sy vroeë dertigs. Die De Kat artikel is gepubliseer op die vooraand van die algemene verspreiding van sy toe nuwe (en tot dusver enigste) digbundel “Om Te Lewe Is Onnatuurlik” waarvoor hy, so terloops, in 1995 met die Ingrid Jonker pryse “bekroon” is. Volgens hom was die manuskrip toe al omtrent drie jaar oud en het hy nie meer nuwe gedigte geskryf nie. Hy het ook gemeld dat hy kitaar en bekfluitjie speel en ‘n hele klomp liedjies geskryf het. Selfs hierdie aspek was perfekte Flip Swiegers.

Dit was op ‘n manier hoekom ek half geskok was deur die verskyning van hierdie karakter: Sy uiterlike het baie sterk aan Flip Swiegers herinner en Flip Swiegers sou wou bereik het wat Gert Vlok Nel bereik het. Flip is ook ‘n digter, kitaarspeler en liedjieskrywer, maar het weens verskeie struikelblokke -- waarvan sommige selfgeskep was -- tot dusver nog nie sover gekom as om enige deel van sy literêre ouevre te laat publiseer nie, wat nog te sê op die legitieme verhoog op te tree.

Ek sal nie sê dat ek presies weet wat op die Afrikaanse literêre toneel aangaan nie, maar ek het darem oor die jare heen ten minste ‘n terloopse, losse belangstelling daarin getoon. Ek kan my nie daaraan herinner dat daar in die onlangse verlede, die afgelope ses jaar of so, enige sodanige ophef gemaak is oor ‘n Afrikaanse digter nie, en veral nie ‘n nuwe digter nie. Joan Hambidge het baie aandag gekry, deels omdat sy so baie bundels die lig laat sien het en deels vanwee haar persoonlikheid en betrokkenheid in die sosiale wêreld van die literati, maar van sulke “hype” oor ‘n ander debuutbundel kan ek my nie herinner nie. Dalk was hy so ‘n geweldige vars briesie dat die uitgewer gedink het hy moet ‘n poging aanwend om ten minste ‘n winsie te toon; dalk was Gert Vlok Nel se proletariese herkoms en bestaan so perfek dat dit verdere beligting en toeligting nodig gehad het, dalk is hy die uitstekende woordkunstenaar wat hulle beweer hy is.

Dit kom my ten minste voor dat hy die eerste Afrikaanse digter, en selfs skrywer, in ‘n lang tyd is wat nie uit ‘n joernalistieke of akademiese agtergrond kom nie. Die joernaliste skryf prosa en die Afrikaanse taallektore en -professore dig. Gert Vlok Nel is ‘n wit werker en trots daarop. Ek twyfel of hy binnekort gaan aansluit by die Afrikaanse Departement van een of ander gesiene universiteit. Hierdie vars, proletariese briesie is sekerlik die oorsprong van hierdie groot opgewondenheid: wanneer gaan ons weer so ‘n ongeslypte edelsteen raakloop?

Ek moet sê: as die stukke wat Gert Vlok Nel voorgelees het tydens sy “performance” werklik uit sy digbundel kom, dink ek nog minder van sy digterlike eienskappe as wat ek gedink het by lees van die aanhalings uit sy gedigte in De Kat. Die man het ‘n sekere gemaklikheid met woord en beeld, maar dit klink heelpartykeer taamlik geforseer, half kunsmatig. En die grootste irritasie, sover dit my aangaan, is hierdie vermenging van Afrikaans en Engels wat deesdae omtrent verpligtend is in Afrikaanse literatuur. Ek bedoel: is dit werklik nodig dat Gert Vlok Nel “songs” met ons wou deel? Hoekom “songs?” Hy kon dan maar netsowel gesê het hy gaan “words”, “photos” en liedjies doen op ‘n “nostalgic journey.”

Gert Vlok Nel verteenwoordig op sy manier die Afrikaanse taalwiel wat heeltemal gedraai het.

Die Eerste Taalbeweging het in die destydse Kaapkolonie ontstaan onder mense wat nie meer die suiwere formele Hollands gepraat het van hul Nederlandse voorouers nie. Die wit nie-Engelssprekende Kapenaars, die wat hulself Afrikaners begin noem het, het ‘n nuwe weergawe van Hollands gebesig, met ander utsprake, en nuwe woorde wat nie in Hollands bestaan het nie. Die spreektaal en die geskrewe taal het hemelsbreed verskil. Laasgenoemde was veronderstel om die formele, amptelike Hollands van die Nederlande te wees, maar selfs dit het verbaster en in die volksmond is die alledaagse gesproke taal vereenvoudig en het tot so ‘n mate verander dat dit eintlik net ‘n dialek van Hollands was, of miskien selfs, soos wat die Afrikaners wou hê, ‘n ander taal was.

Die strydkreet was toe “Skryf soos wat jy praat.” Vergeet van die hoogdrawende, stywe, formele Hollands wat niemand in werklikheid meer kon bemeester of handhaaf nie, en skryf ook die nuwe taal sodat daar eenheid tussen geskrewe en gesproke taal kon wees.

Die beweging was so suksesvol en so goed ge-integreer met die politieke beweging onder Afrikaners dat Afrikaans later as ‘n volwaardige taal erken is en een van die twee amptelike landstale geword het. Omdat dit ‘n stigma as “kombuistaal” gehad het, is daar ‘n geweldige poging aangewend om dit ‘n suiwerder, gesofistikeerde taal te maak wat net so uitdrukkingsvol soos enige ander Europese taal kon wees. Om dit te bewerkstellig, is “wetenskaplike” taalreëls geformuleer en Afrikaanse vertalings geskep vir omtrent enige Engelse woord, is Afrikaanse literatuur geskep, ensovoorts. Afrikaans het mettertyd ‘n eie formele karakter gekry, ‘n suiwer karakter.

In die middelperiode van Afrikaans was geskrewe en gesproke Afrikans omtrent dieselfde, streeksverskille uitgesluit, alhoewel daar darem altyd die verskil was tussen plat Afrikaans en die meer verhewe, formele, geskrewe weergawe daarvan. Ten minste was dit darem alles Afrikaans. Dit was die jare toe die “anglisisme” omtrent die dodelikste taalvyand van Afrikaans was wat jy jou kon voorstel. Ons moes op ons hoede wees daarvoor en te alle tye daarteen waak om nie in die anglisistiese slaggate te trap nie.

Mettertyd het dit weereens gebeur dat die gaping tussen gesproke en geskrewe Afrikaans groter geword het. Gesproke Afdrikaans was vol anglisismes; erger nog, dit was vol Engelse woorde. Slegs geskrewe Afrikaans het formeel en suiwer gebly. Dit het so erg geword dat seker omtrent veertig tot soms vyftig persent van ‘n gesprek tussen twee Afrikaanssprekendes, veral stedelinge, uit Engelse woorde bestaan het. En dit was nie omdat daar geen ekwivalente Afrikaanse woorde was vir wat die mense wou sê nie. Inteendeel, die taalprofessore het oortyd gewerk om nuwe Afrikaanse woorde te skep om tred te hou met enige en alle ontwikkelinge in ten minste die Engelse taal. Die Afrikaanssprekendes was bloot onkundig, hulle het nie die Afrikaanse woorde geken nie, of hulle was lui en wou nie die moeite doen om woorde wat hulle wel geken het, te gebruik nie.

In die laat Tagtigerjare en vroeë Negentigerjare het die letterkundige establishment die bestaan van hierdie gaping erken en tot die radikale slotsom gekom dat dit nie so slegte ding is om Engelse woorde ook in te voer by geskrewe tekste nie. Eers het hierdie taalvermenging ingesluip waar joernaliste mense verbatim aangehaal het, maar so met die tyd saam het dit aanvaarbaar geword en selfs verpligtend, soos dit later vir my begin lyk het, om orals en selfs sonder enige werklike goeie rede, Engelse woorde in jou teks in te vleg. Soms was dit seker hoogs selfbewus en in die vorm van woorde wat eintlik in Engels ‘n eiesoortige bestaan en belangrikheid gehad het as konsepte of slagspreuke en wat die skrywers seker gevoel het nie juis vertaalbaar was nie, soos byvoorbeeld die “struggle.”

Maar die eintlike punt is dat dit nou totaal aanvaarbaar is om te skryf soos wat jy praat; seker selfs as vyftig persent van die woorde wat jy gebruik Engelse woorde is. Dit is hier waar die wiel gedraai het en waar Gert Vlok Nel ter sprake is. Soos aan die begin van die taalstryd in die vorige eeu is dit nou weer die in ding om te skryf soos wat jy praat. Daar is en was nog altyd taalpuriste wat niks van hierdie ontwikkeling hou nie, maar hulle word opsygeskuif met die benadering dat enige taal wat sy sout werd is en wil bly voortbestaan ook ‘n lewende, groeiende taal moet wees. As Afrikaans se lewe en groei dan moet beteken dat dit vol Engelse woorde moet wees, dan moet dit so wees. Skryf soos jy praat; moenie ‘n kunsmatige geskrewe taal probeer handhaaf wat nie gebaseer is op wat mense werklik doen nie. ‘n Taal moet dinamies bly en samelewingsontwikkelinge reflekteer en sulke ontwikkelinge of veranderinge is nie opsigself goed of sleg nie. Soos in biologiese evolusie, oorleef net die sterk tale, die tale wat ‘n bestaansreg behou omdat ‘n beduidende hoeveelheid mense hulle bly praat. Miskien is die evolusie tot ‘n Engels-Afrikaanse patois die prys wat Afrikaans sal moet betaal om enigsins en in enige vorm te bly voortbestaan.

Ek was nog nooit ‘n taalpuris nie., maar hierdie taalvermenging grief my werklik. As ons Afrikaans wil praat, hoekom kan ons dit nie maar suiwer hou nie?



BREëR VISIE

DIE De Soto De Witt Band AS KULTURELE ERFPAGHOUERS.




1. Hoesenaam?

Die De Soto De Witt Band was nooit 'n mediaskepsel nie en die media het nie eers kennis geneem van hierdie verskynsel nie. Die groep het maar net op die konseptuele kantlyn van musiek rondgehang en gekuier in die kleedkamer van rock musiek in Suid-Afrika en daarom is dit nodig om duidelikheid te verkry oor die konteks waarbinne die groep bevrug, gebaar en gedoop is.

Philip en Neels was een koue en nat vroegwinter aand, waarskynlik iewers in Mei 1990, aan't huis te Simonstad by die kunstenares Hannatjie de Clercq en het daar in haar voorkamer 'n beeldhouwerk aangetref wat bestaan uit 'n ou De Soto motor paneelbord gemonteer op 'n metaalstaander. Die daaropvolgende gesprek het gegaan oor ou handelsmerke en produkte, onder andere in die motorhandel, wat eens op 'n tyd algemeen bekend en bemind was, huishoudelike name wat mettertyd heeltemal uit die volkslewe en volksmond verdwyn het.

Die gesprek het mettertyd oorgegaan na die uitdink van allerhande woordspelings, soms spitsvondig, soms kru, onder andere oor die fenomeen van Afrikaanse byname, byvoorbeeld dat alle persone met die van Swart die bynaam "Blackie" sal dra of dat 'n Barnard outomaties "Barries" genoem sal word. Neels het gehou van die skepping van fiktiewe name en het op hierdie geleentheid twee wenners uitgedink, naamlik Klipdrift de Koker en, denkende aan Valiant Swart, met 'n groot mate van spottende parodie, De Soto De Witt.

Die grootste gebeurtenis in Suid-Afrikaanse musiek in baie jare was die Voëlvrytoer van 1989 met Die Gereformeerde Blues Band en Koos Kombuis. Laas met die vroeë Tagtigs se Musiek en Liriek was daar soveel opgewondenheid oor 'n nuwe rigting in Afrikaanse musiek. Terwyl Musiek en Liriek omtrent 'n akademiese, intellektuele folk-kabaret beweging was wat onmiddellik die goedkeuring van die establishment weggedra het en op SAUK TV gehuldig is, het die Voëlvrytoer onmiddellik kontroversie geniet toe verskeie van die konserte wat op Afrikaanse Universiteit kampusse gehou sou word, afgestel is deur universiteitsowerhede wat van mening was dat hierdie 'n kru, ongekultiveerde, volksvreemde beweging was wat die Afrikanersaak net kwaad kon aandoen. Voëlvry het dus 'n "outlaw" cachet verkry wat gestaaf is deur ondersteuning in veral die Engelse pers en onder Engelssprekendes wat al te bly was om 'n slag 'n paar "hip" boere raak te loop.

'n Jaar later was die Valiant Swart Band een van die meer opwindende verskynsels op die Kaapstadse (en Afrikaanse) musiektoneel. Valiant Swart was slegs die nom de stage van die hoofsanger, hoofkitaarspeler, liedjieskrywer en leier van die groep en hy was een van Andre le Toit/Koos Kombuis se kohorte in die tydperk net voor en net na die Voëlvrytoer, maar het in eie reg lekker Afrikaanse rock geskep. Die groep het vir 'n vlietende oomblik groot indruk gemaak as vaandeldraers vir die nuwe alternatiewe Afrikaanse rock, 'n verskynsel wat toe vars en nuut was en waarvoor daar nogal ernstige verwagtings was. Ongelukkig het die Valiant Swart Band te gou fut verloor en begin klink soos mense wat absoluut slegs deur die “motions” gaan en net opdaag en speel omdat dit hul brood en botter is. Een van die punte van kritiek was dat hul repertoire oor 'n tydperk van omtrent twee jaar nie aangevul is nie. Om na futlose ou repertoire te moes luister, was dus dubbel so erg.

In elk geval, toe Philip, Braam en Neels se musiekmakery ernstige afmetings begin aanneem het en die geredigeerde resultate daarvan verewig was op band, het dit logies geword dat die versamelnaam van die groep De Soto De Witt Band sou wees. Dit was ook 'n doelbewuste skerp spottery met "Die Valiant Swart Band" en Afrikaanse musiek in die algemeen, want alhoewel daar allerhande gerugte was dat Afrikaanse rockgroepe uit hul motorhuise tevoorskyn sou kom na die triomfantlike Voëlvrytoer en die kommersiële sukses van die Gereformeerde Blues Band, het dit geensins gebeur nie. Met die tong ferm in die kies is 'n naam gekies wat moes klink of dit deel is van die mitiese nuwe Afrikaanse rock-beweging en wat sou klink na 'n onderneming wat hierdie vaandel hoog sou dra en die stryd verbete en dapper sou stry. Nie net was spot aanwesig nie, maar ook wesenlike sarkasme!

Weens ooglopende oorwegings, soos wat later sal blyk, is Philip benoem as die mitiese De Soto. Hy het reeds vroeg verklaar dat hy nie 'n nuwe Afrikaanse sanger is nie -- hy is tweetalig.


2. Inleidende opmerkings: Elektriese katarsis en vokale

Eksperimentele improvisasie, post-blues psigedelia. Drank en dagga musiek. 'n Moerse jôl met elektriese lawaai. Humor en so aan. Dit en nog meer is die essensie van die De Soto De Witt Band. 'n Kerngroep van drie "musikante" met uiteenlopende inspirasies en aspirasies.

Hierdie drie kernlede is Philip Swiegers, Braam Botha en Neels van Rooyen. Verskeie "gaskunstenaars" was teenwoordig by sommige sessies, maar niemand anders was by elke amptelike, opgeneemde sessie teenwoordig nie en word dus nie as lede van die groep gereken nie. Selfs die drie kernlede het soms in groepies van twee musiek gemaak, meestal na Mei 1991, maar hierdie geleenthede is ook nie op band verewig nie. Die geskiedenis van die groep in volle swang is dus eintlik maar kort.

Vir rekorddoeleindes het die De Soto De Witt Band as volledig funksionerende eenheid bestaan tussen Mei 1990 en Mei 1991, die eerste en laaste opname sessies.

PHILIP is die vergestalting van De Soto De Witt, insoverre dit nodig of wenslik mag wees om die naam 'n gesig te gee. Die belangrikste, en eintlik enigste rede daarvoor is dat hy die mees geskoolde musikant onder die drie is; oftewel, hy is die enigste een wat nogal formeel gekonfyt is op kitaar, die nodige teoretiese kennis het en wat moeite gedoen het om baie te oefen en om homself touwys te maak. Bygevolg kon hy vir Neels advies en kitsopleiding gee, later ook vir Braam, en kon hy sy eie Casio elektroniese klawerbord baasraak. Verder was hy die een wat die kitare ingestem het, indien nodig met sy oor. As jongeling het Philip 'n repertoire opgebou uit 'n mengsel van folk en pop liedjies waarvan hy teen 1990 nog fragmente kon onthou en kon speel. Nog Braam nog Neels het oor sodanige repertoire beskik. Philip het ook sy eie liedjies geskryf. Sy belangrike rol in die groep was om sover moontlik die broodnodige "korrekte" musikale struktuur te verskaf en om leiding te gee betreffende die sleutel waarin musiek gemaak moes word of die akkoordprogressies wat gevolg moes word en selfs om hoofsanger te wees waar dit belangrik was om die wysie en sleutel van die liedjie te respekteer.

BRAAM kan heelwaarskynlik gesien word as die vader van die De Soto De Witt Band (wat niks te doen het met die feit dat hy heelwat ouer is as die ander twee nie) aangesien hy die dryfveer was agter die ontstaan van die groep in die sin dat dit hy was wat die voorstel gemaak het dat die drie gereeld bymekaarkom om musiek te maak en in 'n paar gevalle die saamkomplek verskaf het. Hy is nie 'n opgeleide musikant nie, inteendeel hy is klaarblyklik 'n outodidak wat op gevoel gesteld is eerder as teoretiese korrektheid. Sy bydraes hetsy op 'n instrument hetsy as sanger, was altyd interessant en uniek. Alhoewel hy nie 'n formele liedjieskrywer was nie, het Braam dikwels goeie, interessante lirieke ge-improviseer soos die lus hom beetpak. Hy het ook treffende bydraes gemaak op bekfluitjie, fluit of perkussie. Braam was altyd gekant teen te veel formele musiekstruktuur by die musiekmakery en het op hierdie punt 'n paar keer vasgesit met Philip wat dikwels nie 'n geheim gemaak het nie van sy ongelukkigheid met die ander twee se formele gebreke en (soos hy dit gesien het) hul onwilligheid om "korrek" te leer speel. Braam se wens was dat daar 'n totale vrye, onbelemmerde vloei van idees en gevoel moet wees met die uiteinde dat almal mekaar sal vind en dan sin maak met behulp van die kosmiese God van Improviserende Musiek. Braam was aanvanklik veral sterk gekant daarteen dat elektroniese trom perkussie, soos afkomstig van Philip se Casio klawerbord, gebruik word om ritmiese struktuur aan te dui. Dit was te meganisties vir hom, so sonder persoonlike warmte.

NEELS se aspirasies was groter as wat sy vaardighede op daardie stadium, of steeds, hom toegelaat het om suksesvol te realiseer. Hy het in 1984 'n uiters basies praktiese en teoretiese kennis van kitaarspeel opgedoen -- meer as Braam, veel minder as Philip -- en kon dus, met so 'n bietjie touwys maak en geduld, saam met Philip speel, d.w.s. in dieselfde sleutel met dieselfde akkoordprogressie, maar het meestal op sy eie unieke manier bydraes gemaak op kitaar of enige ander instrument wat ter hande gekom het as atonale en onritmiese borduring rondom Philip en Braam se musiek. Hy was ook 'n improviserende lirikus alhoewel hy nie kan sing nie en het 'n groot rock'n'roll droom gehad. Hy was die een wat die moeite gedoen het om te sorg dat die sessies opgeneem word en wat agterna die klankredigering gedoen het, die "liedjies" name gegee het, kasset omslae ontwerp het, ens. As gevolg van die moeite wat hy in hierdie verband gedoen het, is daar vandag 'n klank rekord van die De Soto De Witt Band se beste oomblikke van improviserende inspirasie.

Soos wat later sal blyk, het daar ook by geleentheid ander mense in die prentjie gekom, maar die enigste ander belangrike bydraer en teenwoordigheid op die "albums" is LOUIS HERBERT. CINDY RUTHVEN het by die eerste en laaste sessies wesenlike bydraes gelewer op stem en perkussie, maar soos Louis is sy eintlik 'n gaskunstenaar by die groep se opnames. Die insluiting van Louis se musiek op die "albums" is deels om dit te bewaar, maar hoofsaaklik om 'n afwisseling te verskaf tussen De Soto De Witt-snitte. Hy was net by een groepsessie teenwoordig, maar dit was nie opgeneem nie.


.3. "Ladies & gentlemen en nagmerrie-makers!"

Die ontstaan van die De Soto De Witt Band kan heelwaarskynlik toegeskryf word aan twee gebeure.

Neels het Braam en Cindy vir die eerste keer ontmoet iewers in middel 1989 toe Philip hulle, sy meisie en sy loseerder saamgebring het na Neels se woonstel vir aandete. Daarna is die groepie na 'n musiekaand te Lakeside, oftewel 'n partytjie waar sommige van die manlike aanwesiges musiek gemaak het. Die meeste mense was vol dagga en/of dop en die musiek was akoesties -- 'n klompie kitare en verskeie in mindere of meerdere mate eksotiese perkussie instrumente. Die mans het in elk geval gelyk soos ou hippies, oorblyfsels uit die akoesties-Oosterse "vibe" van die laat Sestigerjare. Dit was 'n openbaring vir Neels. Hy het gedink dat tuismusiekmakery lank reeds dood was. In elk geval, hierdie was die prototipe vir latere bymekaarkomste van die De Soto De Witt Band: 'n klompie mense wat lekker eet en drink en improviseer op enige musiekinstrumente ter hande. Die styl van musiekmaak en die atmosfeer daarvan het so binne Braam se kraal gepas alhoewel die musikante oorwegend geklink het soos mense wat geweet het hoe om 'n blues in die sleutel van A te speel.

Die tweede, en miskien in wese belangriker, aanleidende gebeurtenis was dat Philip 'n elektriese kitaar gekoop het. In die maand van Desember 1989 het hy in Neels se woonstel in Geranium Court, Kloofstraat, gebly nadat hy Gael (weereens) verlaat het en het daar kennis gemaak met 'n baie primitiewe Duitse elektriese kitaar wat Neels al jare lank gehad het, maar nooit leer speel het nie (alhoewel hy dit gebruik het in sy musiek eksperimente van die vroeë Tagtigs). Die kitaar kan net deur 'n hoëtroustel se klankversterker gespeel word. Die klank wat hierdie kitaar voortgebring het, kon nie te goed geklink het nie, seker maar soos 'n akoestiese kitaar wat deur 'n klankversterker gespeel word, maar dit het vir Philip 'n voorsmakie gegee van hoe elektrisiteit 'n verskil kan maak en toe hy 'n Fender Squier kitaar en 20 watt klankversterker raakloop in 'n Langstraat pandjieswinkel, moes hy hulle net eenvoudig aanskaf. Hierdie verwikkeling het Neels afgunstig gemaak en hy wou toe dringend ook 'n elektriese kitaar hê. (Hy het alreeds 'n akoestiese Yamaha staalsnaarkitaar besit waarop hy in 1985 geleer het om “bar chords” te speel.) Met sy Kersbonus het hy 'n Washburn elektriese kitaar gekoop by Mr Music in Langstraat en het al die pad per trein gereis na Bellville om 'n 20 watt klankversterker by 'n musiekwinkel daar te koop.


4. "Rock'n'roll song van Kaapstad."

Philip en Neels was dus in Januarie 1990 toegerus om 'n groot lawaai te kan opskop en eersgenoemde het vir laasgenoemde so effens probeer touwys maak, maar saamspeel was daar nie veel nie, want beide het in woonstelle gewoon en in elk geval was daar op hierdie vroeë stadium geen sprake van 'n groep nie, hetsy as ernstige projek of as grap.

Die eerste sooie van die latere "albums" was darem al omgespit. Iewers in 1989 of selfs vroeg 1990 het Neels een aand by Louis Herbert se woonstel te Albert Court, Langstraat (waar, soos die noodlot en toeval dit wou hê, Philip in 1991 ingetrek het) op sy Sanyo diktafoon opnames gemaak van Louis se kitaarspel en sang, asook sy eie bydraes op perkussie of stem. Tydens Philip se verblyf by Neels in Desember 1989 het Neels vir Philip opgeneem, met behulp van dieselfde diktafoon, terwyl laasgenoemde die voormelde lo-fi Duitse kitaar speel en 'n paar van sy eie nommertjies uitvoer, soos byvoorbeeld "Die Hottentotte."

Later in 1990, nadat hy musieklesse begin neem het en met behulp van Philip se stereo mikrofoon, het Neels homself opgeneem waar hy op sy Washburn kitaar rondvoeter. Hierdie kassetbande het by Neels rondgelê as kuriositeite sonder dat daar aanvanklik enige groot plan met hulle was.

Die werklike begin van die idee van 'n groep het ontkiem in die vroeë winter van 1990 toe Philip en Neels vir die naweek gaan kuier het op Maylands plaas in die Simonstad distrik van Red Hill waar Braam toe gebly het (hy was vir 'n hele rukkie 'n semi-professionele huisoppasser.}

Op Braam se uitnodiging het hulle hul instrumente saamgeneem. Hyself het 'n akoestiese kitaar gehad en Richard Hyde het ook daar opgedaag met sy eie akoestiese kitaar. Die patroon vir vele verdere bymekaarkomste is hier vasgelê: kos is gekook, drank is gedrink, dagga is gerook en musiek is gemaak.

Neels kon op daardie stadium al eenvoudige akkoorde speel, maar het geen idee gehad hoe om saam te speel met ander mense wat meer gekonfyt was as hy en het vroeg opgehou (heelwaarskynlik tot almal se groot verligting aangesien hy eintlik maar net atonale geraas voortgebring het) en agteroor gesit en luister na die ander se akoestiese musiek.

Neels het nie dagga gerook nie, maar het tog sy eerste dwelmervaring beleef deurdat hy twee daggakoekies geëet het. Hy het die tweede een geëet voordat hy besef het hoe sterk hulle was en het heeltemal ge-"stone" geraak en het na 'n giggelbui in 'n rustige plak verval, agteroor gaan sit in 'n leunstoel en toegelaat dat die musiek oor hom spoel. Dit het wonderlik geklink en hy, en seker die ander ook, was die volgende dag spyt dat niks op band opgeneem was nie. Neels het daar voorgestel en die voorneme gemaak dat die volgende sodanige sessie opgeneem moet word.

Hierdie voorneme is uitgevoer in vroeg-Junie 1990, omtrent 'n week na die groot Houtstok fees van Afrikaanse musiek te Pretoria op 31 Mei. Braam, Philip en Neels het vergader by die huis in Constantiaweg, Wynberg waar Jan Gertenbach en Cindy Ruthven toe gewoon het. Jan se werkskamer is ingerig as die musiekkamer en 'n bandopnemer is opgekoppel, met die stereo mikrofoon wat van die ligkabel in die middel van die plafon afgehang het, soos 'n primitiewe outydse opname ateljee.

Die musiekmakery is versprei oor twee sessies, naamlik die Vrydagaand en -nag en die Saterdagoggend. Aanvanklik het almal deelgeneem, hetsy op instrument of vokale. Cindy het meestal gesing, geskree, gepraat of perkussieklanke voortgebring, Jan het sy trekklavier gespeel en die ander drie het afgewissel tussen kitare, klawerbord, bekfluitjie, fluit, perkussie, ens. Hier by middernag se kant op Vrydag het Jan en Philip gaan slaap en het Braam, Cindy en Neels die sessie voortgesit tot in die vroeë oggendure. Toe die ander twee gaan slaap, het Neels teruggekeer na sy woonstel. Hy het die volgende oggend weer sy opwagting gemaak in Wynberg en weer by Philip en Cindy aangesluit vir verdere musiekmaak.

Al hierdie "musiek' is op band verewig, inderwaarheid omtrent vier C90 kassette, en Neels wat die kassetbande verskaf het. hulle huistoe geneem, geredigeer en die eerste De Soto De Witt Band album saamgestel uit die dele wat die meeste soos musiek geklink het of ten minste soos interessante en/of amusante kakofonie.

Die daaropvolgende twee sessies, na Wynberg en voor Plumstead, het plaasgevind in die tydperk Junie tot September 1990, met meer of min reëlmatige tussenposes van 'n maand. Die eerste opvolgsessie was in Simonstad by die reeds vermelde huis van Hannatjie de Clercq, waar dieselfde groepie as die Wynberg geselskap vergader het, plus Louis Herbert en 'n tans onbekende jong man wat ook deelgeneem het aan die musiekmakery, en 'n paar vroumense wat maar net daar was vir die partytjie. Herinneringe van hierdie sessie is dat dit in 'n vreeslike goeie gees geskied het en dat goeie "blues" gespeel is, maar ongelukkig is niks opgeneem nie. Die sessie was ook interessant omdat daar 'n lekker groot klankversterker beskikbaar was, sekere 50 watt, met 'n ingeboude reverb-fasiliteit en ook twee ander elektriese kitare waarvan een 'n klassieke Gibson Les Paul was.

Daarna was Philip, Braam en Neels vir 'n aand by die Kraaifontein kleinhoewe van Braam se vriende John (Palie) Rall en sy vrou Pikkie. Dit was nie 'n goeie sessie nie. Palie het ook gespeel en hy is die soort van amateurspeler wat die liedjies wat hy ken, wil speel. Dit, en Neels se formele gebreke wat hom genoop het om vroeg op te hou speel, het gelei tot samespel tussen of Palie en Philip of Palie en Braam, maar daar was geen besondere De Soto De Witt-gees nie. Niks is opgeneem nie.

Nadat dit tydens die Wynberg sessie vir Neels duidelik geword het dat sy gebrek aan musiekopleiding nie 'n goeie ding is nie aangesien hy nie so 'n natuurlike aanvoeling vir musiek het as wat hy sou wou hê nie en dus nie op instink of gevoel kon steun om saam met Braam te kan improviseer-speel nie en nie Philip kon begelei op formele wyse nie, het hy ingeskryf vir musieklesse by die Jazz Workshop waar hy van sleutels, akkoorde en toonlere geleer het asook 'n blues riff of twee en 'n aantal standaard "blues licks." Die daaropvolgende sessie te Plumstead was dus 'n waterskeiding en mylpaal.

Braam het weereens 'n vriend se huis opgepas. Philip en Neels het gaan kuier een Vrydagaand in September 1990. Ook teenwoordig was Margaret Follett, tans Braam se eggenote. Hulle was op daardie tydstip op die hoogtepunt van hul verliefdheid en passie en dit het die musiekverrigtinge effens kortgeknip. Die musiekmakery het miskien negentig minute lank geduur voordat Braam en/of Philip moeg of gatvol geraak het. Die musiek is gekenmerk daardeur dat dit net instrumenteel was, met niks van die vokaal-waansin van Wynberg nie, dat dit meestal stil en rustig was, met enkele uitsonderings, en dat daar elke keer net twee mense op 'n slag gespeel het. Vir die eerste keer het Neels formele, sleutelgebonde akkoordprogressies en toonlere gespeel en nie net lawaai gemaak nie, het die driestuks as kerngroep bymekaar gekom en het hulle selfs daarin kon slaag om 'n nommertjie te herhaal in 'n nuwe, verbeterde weergawe, naamlik "My Boetie Is Gay Op Die Grens," wat as 'n kru, strompelende vertolking opgeneem is by die Wynberg sessie deur Phillip en Neels.

Omdat die Plumstead sessie so goed gewerk het, is daar met groot afwagting uitgesien na die sessie te Dal Josafat. Braam en Margaret het op Nonpareil, die plaas van die Kunsstigting gebly, in die hoof plaashuis, waar die groep op 2 November 1990 vergader het. Die toerusting is opgestel in die ruim, leë voorportaal met 'n baie hoë plafon; die atmosfeer was meer as ooit tevore die van opnames in 'n behoorlike dog outydse ateljee. Hier het die groep lang stukke gespeel, baie lawaai gemaak en vokale en spitsvondigheid het weer kop uitgesteek -- Margaret Follett het ook haar eiesoortige bydraes gemaak op stem. 'n Baie produktiewe sessie wat heelwat nuttige bandmateriaal opgelewer het.

Hierna was daar 'n groot gaping tussen sessies. Die enigste musiek wat gemaak is tussen die Dal Josafat sessie Maart 1991 en wat later op die albums verskyn het, was Neels se solo pogings. Hy het aan die einde van 1990 'n goedkoop baskitaar en 'n Ibanez Digital Delay-eenheid gekoop, maar kon hierdie nuwe aanwinste eers ordentlik uitprobeer in Februarie en Maart 1991 tydens sy verblyf in die Wynberg huis waar Jan en Cindy voorheen gebly het. Neels en Philip sou die huis vir twee maande gedeel het, maar in die praktyk het Philip net een maand lank daar ingewoon, en Neels het die gebruik gehad van Philip se Casio klawerbord en twee bandspelers en het dus as eenpersoonsorkes geëksperimenteer met "overdubbing".

Die volgende amptelike De Soto De Witt Band sessie het plaasgevind in die weelderige huis van Jeremy Gauntlett in Constantia. Neels het die huis opgepas oor die 1991 Paasnaweek en die groep (insluitend 'n pas swanger Margaret Follett) het daar vergader op 28 en 29 Maart 1991, Donderdagaand en Goeie Vrydagoggend. Hierdie sessie weerspieël die hoogtepunt van die groep se opgeneemde samespel, veral die musiek van die Vrydagoggend. Die volle glorie van beskikbare tegnologie en instrumentasie is opgekoppel en benut. Die mees kenmerkende afwyking van die sessie is dat heelparty "onoorspronklike" nommertjies uitgevoer is, alhoewel nogal gebrekkig en hinkende pinkende aangesien dit eintlik net Philip was wat die musiek daarvan onder die knie gehad het. Die uiteinde van die sessie was dat Braam, Philip en Neels vir die eerste keer besef het hoe dit kan klink as 'n mens 'n min of meer formeel-korrekte struktuur kan skep en handhaaf in samespel. Hierdie besef moes die begin gewees het van iets groots, maar dit was nie beskore nie, heelwaarskynlik weens gebrek aan ambisie of dryfkrag en definitief ook omdat die drie lede van die groep nie so maklik bymekaar kon kom om te oefen nie -- Braam het nog op Dal Josafat gewoon, die ander twee in Kaapstad -- en omdat Braam aanvanklik nie wou oefen nie, hy wou met spontaan speel, spontaan skep.

In elk geval, dit was weereens met groot entoesiasme dat die groep bymekaargekom het op 10 Mei 1991 by die huis in Tableview waar Cindy op daardie stadium saam met Richard Hyde gebly het. Inderwaarheid was hier 'n skare mense teenwoordig: bo en behalwe die kerngroep was daar Cindy, Richard, Margaret (kortstondig) en Joeka Singels. Almal het 'n bydrae gemaak van een of ander aard -- Joeka, byvoorbeeld, is 'n opgeleide klassieke klavierspeelster en haar bydrae op klawerbord kan hier en daar in die agtergrond gehoor word, alhoewel meestal verswelg deur die algemene geraas -- en dit het ongelukkig gelei tot heelwat getjommel en onmelodiese, dronk geraas. Hierdie geleentheid was, tot dusver, die laaste sessie wat op band opgeneem is en dit is half ironies dat die eerste en laaste opgeneemde sessies dieselfde soort geraas en verbale malligheid voortgebring het. Die goeie resultate en samespel van die kerngroep by Plumstead, Dal Josafat of Constantia het net geen kans gekry om weer gehoor te word nie.

Die kerngroep het weer by 'n paar latere geleenthede bymekaargekom, by Braam-hulle se huis te Watervalplaas, Paarl of te Hurleystraat, Little Mowbray, maar geeneen van daardie sessies is opgeneem nie. Selfs toe aldrie in Kaapstad teenwoordig was en 'n reëling getref is van gereelde Woensdagaand byeenkomste, het die groep nie veel tegniese vordering gemaak met hul musiek nie: die sessies was gewoonlik kort, ongeinspireer en taamlik futloos. Ironies genoeg, omdat dit gebeur het toe die groep reeds eintlik geskiedenis was: Braam het naderhand die nut van formele musiek kennis begin besef en selfs moeite gedoen om iets te leer, maar dit was te laat: die De Soto De Witt Band het in die niet verdwyn.


5. Ons praat kakofonie.

A. "REAL LASAGNE'

Hierdie is die eerste amptelike De Soto De Witt Band album en is 'n sameflansing van materiaal uit drie bronne: een snit uit die Albert Court sessie met Louis Herbert, drie snitte uit die Geranium Court sessie met Philip, en die res uit die Wynberg sessie van Junie 1990.

Die groep is aangevul deur Cindy Ruthven op stem en perkussie en Jan Gertenbach op agtergrond trekklavier gemurmel op 'n paar snitte.

Die Wynberg sessie het verbasend goed afgeskop met "Wiele Walie" en "Cosmic Joker" wat altwee nogal klink (met die nodige bietjie verbeelding) soos 'n gekonfyte, geoefende groep musikante, sonder veel van 'n aanduiding van die warboel wat sou volg.

Reg aan die begin van "Wiele Walie" hoor 'n mens Neels se aankondiging: "For the first time live ... anywhere!" en daarop volg Philip se stelling dat hy nie 'n alternatiewe Afrikaner is nie. Die nommertjie is gebaseer op die Paul McCartney komposisie "Let Me Roll It", maar is Philip se eiesoortige Afrikaanse weergawe daarvan, Die refrein meld dat Philip oor sy geliefde wil rol.

Daarop volg 'n twee akkoord "open tuning riff" van Neels se uitvindsel waar Philip eers 'n "lead"- kitaar inleiding speel en dan soos 'n wafferse Satchmo op amfetamien 'n stukkie "scat"-sang lewer voordat Neels 'n liriek begin improviseer oor hoe hy en God mekaar waargeneem het. Hy kon dit nie enduit volhou nie -- dit was moeilik vir hom om te speel, te sing en terselfdertyd nuwe woorde uit te dink -- en die ander spring dan in om allerhande stukkies woordespel of belaglikhede te uiter en pret te hê totdat Neels die geleentheid aangryp om die aanwesiges voor te stel. Dan eindig die snit. Hoe die vorm van die snit geskep is, is kenmerkend van baie redigeerpogings op hierdie album. In die middel van die nommertjie het Neels reeds besef dat dit darem te eentonig is en dat 'n bietjie opkikkering nodig is. Derhalwe het hy afgewyk van sy riff, die volumeknoppie opgedraai en 'n lawaai opgeskop. 'n Fraksie daarvan is nog hoorbaar op die uiteindelike snit, maar die grootste gedeelte is by redigering eenvoudig uitgesny omdat dit net onplesierige lawaai was.

Die album is nie saamgestel in die volgorde waarin die opnames gemaak is nie. Neels het na al die bande geluister en net die gedeeltes bewaar waar dit geklink het asof die bydraende individue darem saamgespeel het of met mekaar saamgewerk het, en die lang stukke getjommel uitgelos. Die oorsprong van 'n tipiese snit was 'n lang "jam" wat as vormlose gerondmalery begin het en per ongeluk vervorm het in 'n struktuur van een of ander aard, soms net 'n minuut of twee lank, en dan weer verval het in vormlose atonaliteit. Die kort gestruktureerde deel is dan uitgelig uit die lawaai moeras en verewig op die album.

Die meeste snitte op die eerste kant van die album het min of geen vokale en daar is in elk geval nie lirieke nie, alhoewel allerhande uitroepe gedurig gehoor word. "Kom Sing Nou Saam," "Within the Enclosing Circle” of "White Pipe Blues" is tipiese voorbeelde. Laasgenoemde is 'n kort fragment van Neels op "slide" kitaar en is in werklikheid nie 'n blues nie.

Die beste instrumentele nommertjie is "Vroegoggend Akwarel" wat 'n kenmerkende voorbeeld is van Braam se unieke, ritmiese dog melodieuse kitaarstyl. Dit is uitgevoer in die nanag gedeelte van die sessie en klink byna soos die musikale ekwivalent van Braam se waterverf skilderkuns.

"Hoe Waansinnig Speel Ons" en "Lover Of The Wildest Dreams" is beide geïnspireer en benoem deur Cindy wat hier sterk deurkom op haar oorspronklikheid en stembuigings.

"Roma Di Notte" kom ook uit die nanag uit en is Neels se skepping. Die “riff” (wat in 'n paar variasies op die album voorkom) en die lirieke is sy huldeblyk aan 'n reeds verdwene laatnag kafee in Breestraat waar die straatvrouens uitgehang het en hy en Philip heelparty ure gespandeer het.

Die laaste twee snitte op die kant, naamlik "My Boetie Is Gay Op Die Grens" en "The Scent Of Meat," is opgeneem op die Saterdagmiddag wat gevolg het op die vorige aand. In beide nommers speel Neels 'n eenvoudige akkoordprogressie, soos deur Philip voorgesê, terwyl Philip sy toonlere bo-oor speel as melodielyne. Beide nommertjies klink maar stokkerig en het geen "swing" nie, hoofsaaklik omdat Neels op daardie stadium geen aanleg gehad het vir werklike funky, opwindende ritmes nie, maar dit is die eerste uitvoering van "My Boetie ..." wat die enigste nommertjie is wat meer as een keer deur die groep gespeel en opgeneem is. Dit is so te sê die De Soto De Witt Band se "greatest hit" en dit is interessant en insiggewend om die verskillende weergawes met mekaar te vergelyk en om te sien hoe die samespel verbeter het.

"Little Red Rooster" is die enigste snit op kant een van die album wat nie deur die groep uitgevoer word nie. Dit is Louis Herbert (in sy vermomming as Deaf Louis Herbert, die vermaarde dog onbekende blues-sanger) se radikaal aangepaste weergawe van die bekende Willie Dixon komposisie en is opgeneem met Neels se Sanyo diktafoon in Louis se Albert Court woonstel.

Kant Twee skop af met "Pers Blommetjies" en "Ons Praat Kakofonie". Beide is opgeneem op die Saterdagmiddag van die sessie. Slegs Philip, Cindy en Neels neem deel. Die eersgenoemde snit is gebaseer op 'n kwasi-funk "chicken scratch riff" wat Neels probeer speel en in elk geval vir 'n hele tydjie volhou terwyl Philip "lead"-kitaar speel. Daar is so 'n bietjie dialoog tussen Cindy en Neels, maar is niks meer as 'n gefaalde poging tot improvisasie nie. Die nommer segue in "Kakofonie" in, 'n driespraak wat deur Philip ingelei word. Die drie deelnemers ruil spitsvondighede en woordspelings uit terwyl Neels 'n swaarder riff as by "Pers Blommetjies" speel en Philip "lead"-kitaar speel. Hierdie is sekerlik 'n hoogtepunt van die tipe “call and response” improvisatoriese humor waartoe Philip en Neels instaat was.

Die volgende drie snitte vorm 'n eenheid. Hulle is ook opgeneem met die voormelde Sanyo diktafoon, die keer in Neels se sitkamer te Geranium Court. Philip speel Neels se lo-fi Duitse elektriese kitaar en sing sy eie komposisies. Die hoogtepunt van die uitvoering is die weergawe van "Die Hottentotte", sekerlik Philip se musikale magnum opus (ongelukkig omtrent ook sy solo opus) en is 'n liriek wat gaan oor die Afrikaner se rasseherkoms met 'n "haunting" melodie en 'n kwasi-reggae ritme. Daarna volg 'n fragment van "Onder Die Grondwet," 'n politieke liedjie oor die nuwe grondwetlike bedeling van 1983 waarvan die wysie gebaseer is op die meer bekende "Under The Boardwalk." Dit is 'n fragment, want Neels het op 'n stadium klaarblyklik vergeet dat hierdie musiek op die band was en per abuis iets anders bo-oor die eerste vers van die liedjie opgeneem. Die laaste snit van die trio is "Zonnebloem Blues" (so getitel deur Neels wat ook die laaste versie bygedra het} wat 'n lekker “boogie blues” is, ook met 'n politieke tema, naamlik Distrik 6 en mensverskuiwings na die Kaapse Vlakte toe.

Al die daaropvolgende snitte is uitgevoer deur Braam, Cindy en Neels in die Vrydag nanag sessie. "OB 65588(crazy living)" is 'n musiekdialoog tussen Braam en Neels terwyl laasgenoemde en Cindy woorde uitruil. Tewens dit is die patroon vir al die verdere snitte. Op "Braam se Boogie," "Ek Is Bang/Klein Mannetjie" en "Enigiets Vir 'n Seer Hart" speel Neels akoestiese kitaar, Braam speel deurentyd elektriese kitaar.

"Gemini of Paraguay" is vernoem na 'n Cindy opmerking en is 'n instrumentele nommer met scatsingery deur die aanwesiges. "Blombaksprokie" is ook 'n akoestiese kitaar/elektriese kitaar duet terwyl Cindy haar weergawe van die Hompie Kedompie storie vertel. Braam se vernuftigheid as woordman, sekerlik het sy dagga inname baie nuttig blyk te wees, word ten toon gestel op "TV Venster" waar hy en Cindy 'n dialoog voer oor hoe objekte dalk iets anders kan wees as dit waarna hulle op eerste oogopslag mag lyk, soos byvoorbeeld "dis nie 'n TV nie, dis 'n venster."

"Electric Airwaves" is 'n rustige toer deur die tipes klanke en geluide wat tipies was van die aand se vermaaklikhede, maar merendeels sagter, rustiger en meer strelend as die norm. Aldrie lewer bydraes op vokale en die nommertjie vloei gemaklik oor in "Rock'n'Roll Song Van Kaapstad" waar Neels 'n stadiger variasie van die riff in "Ons Praat Kakofonie" speel terwyl Cindy, wat die titel uitgedink het, haarself uitleef oor die wondere van Kaapstad, met hier en daar 'n bydrae deur Neels. Cindy is ook verantwoordelik vir die titel van "Stof Van Die Dode." Neels speel 'n stadige, punkerige riff terwyl Braam in die agtergrond murmelkitaar speel en Cindy 'n liedjie sing oor geeste of iets, maar die betekenis is effens onduidelik.

'n Goeie eerste poging, maar weliswaar 'n eerste poging. Die sade is gesaai vir wat later gekom het en sekere temas is al duidelik, maar die hoogtepunte was te lukraak en dit is belangrik om daarop te wys dat die meeste van die bewaarde snitte nie eintlik deur die kerngroep gemaak is nie: snaaks genoeg is die album snitte afkomstig uit die opnames waar net Braam, Cindy en Neels teenwoordig was. Baie meer van die ge-"jammery" is opgeneem as wat vir die album gebruik is, maar die res was glad nie 'n plesier vir die oor nie, absolute doellose getjommelary en aweregse lawaai.


B. "NATURAL THING"

Hierdie tweede album is 'n behoorlike lappieskombers as 'n mens kyk na die diverse bronne waaruit die inhoud saamgestel is. Die Plumstead sessie was baie kort, veral in vergeleke met die Wynberg sessie, en slegs omtrent 45 minute se musiek was daarna op band beskikbaar. Die tweede verskil tussen die twee sessies is dat omtrent alles wat in Plumstead opgeneem is, op die album beland het (praat van "quality time") terwyl die grootste gros van Wynberg se musiek nie geskik bevind is vir verewiging op 'n amptelike album nie. Die derde, en meer belangrike, verskil is dat die kerndriemanskap hier vir die eerste keer saamspeel sonder bydraes van ander deelnemers. Twee oorblyfseltjies van Wynberg word ingesluit, merendeels vir die humorwaarde daarvan, omtrent die hele restant van die Louis Herbert/Albert Court sessie is ingesluit, veral op die eerste kant as afwisseling tussen die groep snitte en dan is daar 'n hele paar minute van Neels se eie solo pogings en eerste eksperimente in “overdubbing” in sy woonstel se sitkamer.

Kant Een begin met "Die Bloed Moet Ophou Vloei" wat 'n Wynberg oorblyfsel is (die tweede oorblyfsel, "Braam Hak Cindy," is bloot 'n argument tussen die twee) en daarna volg die eerste Plumstead snit, naamlik Braam en Philip se "Eternal Dedication To Glowing Enlightenment." Soos reeds vermeld, is al die Plumstead nommers kitaarduette, die meeste daarvan tussen Braam en Neels omdat Philip in die begin baie "moeg" was. Die styl van spel was rustig, psigedelies, kosmies en omdat dit baie soos "New Age" geklink het, het Neels besluit om die nommertjies die soort name te gee wat 'n mens dalk op so 'n album sou aantref, of dan musiek gemaak deur Oosterse mistieke monnik musikante, baie zen. Die titels lui dan onder andere as volg: "Infinite Cascades of Golden Affection," "Emerald Spear Of Perpetual Devotion", "Neverending Fragrant Genuflection," ensovoorts.

Louis se bydraes is akoestiese nommers soos "I'm Relying On You" en "I Can't Be True" waarin hy hartroerend peins oor 'n soort liefde waar wanhoop en wantroue hand aan hand loop met vlietende vreugde. Sy blues baasskap word ten toon gestel in "Moaning Low", "Albert Court Blues" ('n instrumentele blues) en "Hospital Bed Blues/Vegetable Feeling."

Neels se eenmanorkes bydrae is "First Step Blues," so getiteld omdat dit sy eerste overdubbing poging is vandat hy kitaarlesse begin neem het en dit ook die eerste keer is dat hy sy nuutverworwe kennis van 'n blues progressie in die sleutel van A toepas en iets regkry wat darem vaagweg na 'n "shuffle blues" klink. Op hierdie stadium het hy nog nie probeer om die blues te sing nie.

Hy maak ook 'n kort bydrae op akoestiese kitaar, genaamd "Butternut Blues" (na aanleiding van 'n gesprek wat hy en Louis Herbert voer oor hul aandete), 'n funky blues riff wat hy by Bukka White gesteel het en 'n bietjie vervorm het.

Die hoogtepunt van Kant Een, en sekerlik van die hele Plumstead sessie, is die weergawe van "My Boetie Is Gay Op Die Grens." Dit het dieselfde akkoordprogressie as die weergawe op "Real Lasagne", maar Neels het intussen ietsie geleer van tydhou en het 'n ander "strumming" ritme aangeleer vir hierdie nommer. Die snit open met 'n stukkie dialoog: Braam wat half moedeloos-geamuseerd vra: "Moet ons dit weer doen?" Wat gebeur het, is dat Philip en Neels die nommertjie met baie entoesiasme aangepak het (die enigste keer daardie eend dat Philip vlamgevat het) en 'n goeie poging aangewend het om "kick-ass rock'n'roll" te speel. Neels het ritme-kitaar gespeel op 'n harder volume as die res van die aand se verrigtinge en het gedink hy klink soos Neil Young. Om hiermee te kompeteer en seker ook vir die hel daarvan, het Philip sy kitaar se volumeknoppie opgedraai en harde "lead" gespeel met lekkerkry distorsie. Dit was 'n stormende weergawe, vol rock-krag. Na die voltooiing daarvan, wou die groep na die opname luister. Dit is toe dat Neels agterkom dat hy nooit die "record" knoppie op die bandspeler gedruk het nie. Hierdie weergawe is nooit opgeneem nie. Neels sê toe dat hulle maar weer van vooraf moet begin, derhalwe Braam se kommentaar. Hierop volg "take two", so na as moontlik aan die gees van "take one", soos 'n wafferse gesoute spul ateljeemusikante. Gelukkig kon Philip en Neels daarin slaag om hul eerste poging min of meer lewensgetrou te reproduseer alhoewel Philip se kitaarspel minder manies was. Braam het probeer om 'n bydrae te maak op fluit of bekfluitjie, maar die kitare was so hard en hy het so ver van die mikrofoon af gestaan dat hy omtrent onhoorbaar is. Ewenwel, dit was nog 'n grootse poging en die De Soto De Witt Band klink asof hy tuis sal wees in die geselskap van rockers die wêreld oor.

Na 'n rustige Plumstead nommer gaan Kant Twee oor na "Give Me Wings" wat opgeneem is in Albert Court. Neels sing sy eie vooraf voorbereide “gospel" lirieke terwyl Louis Herbert 'n kitaarbegeleiding improviseer. Na die musiek improviseer die twee 'n stukkie komiese dialoog oor kerksake en geld, in hul kwasi-Amerikaanse aksente.

Dan volg die eerste van drie weergawes van "Lowdown Lawyer's Blues" wat weereens 'n "overdub"-poging van Neels is. Dis ook 'n "shuffle blues" in die sleutel van A. Die ritme-kitaar begeleiding is 'n "tape loop" van Neels se kitaar instrukteur se spel. Neels improviseer dan "lead"-kitaar daar bo-oor in 'n poging om die Albert King styl na te boots. Aldrie weergawes is nogal lank en raak effens pynlik na die eerste minuut of wat omdat Neels se spel maar nog onbeholpe en strompelend is, maar hulle is ingesluit as historiese rekord (en deels om die album vol te maak.)

Die laaste nommers wat in Plumstead opgeneem is, is aldrie "blues" gespeel deur Philip en Neels, naamlik "Gael Warning Blues" waar Neels probeer lead speel oor Philip se ritme-kitaar, "Deconstructivist Blues" (wat omtrent inmekaar geval het) en "Plumstead Post-Midnight Blues" waar Neels die ritme "riff" speel terwyl Philip "lead" speel en Braam hulle tot laer klankvolume maan.

Dus, 'n album van goeie hoogtepunte en 'n paar laagtepunte. Die eerste kant is vol interessanthede en as geheel nogal bevredigend in sy diversiteit. Die tweede kant sou miskien meer bevrediging en beter luistergenot gebied het as Neels se solo pogings uitgesny was, maar aangesien hy die samestellingswerk gedoen het, kon hy kies wat bewaar word en wat nie. Die geheim van die suksesvolle snitte, is dat hulle deur twee persone gespeel is wat bereid was om saam te speel en na mekaar te luister sonder dat ego's die oorhand kry. Dit het ongelukkig nog 'n rukkie geduur voordat hierdie les toegepas kon word op die samespel van die De Soto De Witt Band se kerngroep.



C. "AMAZING GRACA"

Die bronne vir die snitte op hierdie album is ook drieledig, naamlik die Dal Josafat sessie van 2 November 1990, opnames in Neels se woonstel by Geranium Court (hoofsaaklik hy en Louis Herbert) en Neels se solo pogings.

In popmusiek tradisie word daar dikwels verwys na die sogenaamde"difficult third album," gewoonlik omdat die liedjieskrywer sy of haar eerste twee albums kan vul met 'n keur van die magdom van materiaal wat geskryf is voordat die eerste album opgeneem is. Teen die tyd van die derde album is daar dan geen goeie, ou materiaal waarop die skrywer kan steun nie en dus moet hy en sy nou vinger trek en bewys dat hulle nog steeds ordentlike musiek kan skryf en steeds vernuwend kan wees. Gelukkig is dit nie 'n probleem waarmee die De Soto De Witt Band gesukkel het nie. Deels omdat die groep net beter geword het met die verloop van tyd, d.w.s. 'n opwaartse kurwe op die suksesgrafiek, en deels omdat die musiek in elk geval improviserend van aard was -- geskep in die hitte van die oomblik.

Philip was verantwoordelik vir die titel van die album en hy open verrigtinge met "Dis Amour, Sanna" wat ook die heel eerste nommertjie is wat by Dal Josafat opgeneem is. Dit is eintlik net 'n kort fragment van 'n liedjie deur Philip, maar is melodies en opruiend. Dit sou die titel lied gewees het van 'n rolprent waarvoor Philip die storie en Neels die draaiboek geskryf het, maar wat tot dusver nog nie verder gevorder het nie. Daarna volg 'n kort stukkie waar Neels die sessie en die spelers voorstel en dan gaan die snit oor na "Have It All!" waar Neels ritme-kitaar speel en Philip "lead" terwyl hulle beide hul eie lirieke sing ter interpretasie van die titel.

"She Came From The Bush" is die eerste van 'n paar samewerkings tussen Louis Herbert en Neels in laasgenoemde se sitkamer te Geranium Court. Tydens hierdie sessie het Louis deurentyd akoestiese kitaar gespeel en Neels elektriese kitaar en Philip se stereo mikrofoon is gebruik vir die opname. In hierdie snit sing Louis so 'n paar woorde aan die begin, maar spits hom dan daarna toe op sy kitaarspel. Neels sluit so uit die bloute aan met 'n baie rustige, melodiese "lead" vir die laaste dertig sekondes of so.

Braam se unieke kitaarstyl maak van "A Total System Of Thought" 'n rare plesier. Dit is die eerste keer op enige van die albums dat so 'n lang, uitgebreide voorbeeld van sy speelstyl gehoor word. Neels speel elektroniese orrel op die agtergrond terwyl Philip 'n perkussie eksperiment uitvoer met 'n kastroldeksel of twee. Die nommer is een van die mees sukses- en genotvolle improvisasies van die groep.

Hierna volg "Modern Mama." Neels het die lirieke geskryf as 'n blues pastiche en Philip aangemoedig om dit te speel. Laasgenoemde wend twee pogings aan om 'n opname van sy interpretasie te maak in Neels se Geranium Court woonstel. In die eerste probeerslag, speel Philip 'n gangbare akoestiese "bottle neck" kitaar en sing met 'n growwe stem, maar struikel effens oor die lirieke. In die tweede poging speel hy meer standaard blues kitaar, sing steeds met dieselfde growwe stem en kan nog steeds nie die liedjie volledig speel nie. Geeneen van die pogings bevredig hom nie en hulle klink inderwaarheid ten beste maar net soos eerste pogings om 'n onbekende liedjie baas te raak.

Een van die kenmerke van die Dal Josafat sessie is dat al die betrokkenes wesenlik dronk geword het en derhalwe is "Lonesome Hangover Blues" nogal 'n gepaste titel vir Neels se geïmproviseerde dronkverdriet woorde (wat hy eintlik heserig uitskreeu eerder as sing) terwyl Philip 'n "blues riff" speel en Braam die bekfluitjie bearbei in 'n wafferse nabootsing van Little Walter.

Die "blues" loop oor na verdere groep samespel, soos gewoonlik met Neels op ritme-kitaar en Philip op "lead" terwyl Braam op die agtergrond, en ongelukkig onhoorbaar, iets misterieus sing; slegs die woorde "Die Bootjie" kan reg op die einde duidelik gehoor kan word.

Louis kla daaroor dat hy "The Same Old Blues Again" moet speel op die volgende snit. Neels se subtiele elektriese "lead" vergesel hier die hele tyd Louis se akoestiese spel en dit is interessant dat hierdie kombinasie nogal goed werk.

"The End Of The Financial Year {Parts One & Two)" is weereens Philip se titel. In die eerste deel speel hy een van sy gunsteling "riffs," losweg op flamenco gebaseer, en inkanteer 'n woordelose refrein wat klink soos iets wat 'n muezzin vanuit sy minaret toring sou voordra, terwyl Neels elektriese "slide"-kitaar bydra. In die tweede deel speel beide ritme-kitaar en voer 'n komies-satiriese dialoog rondom maatskappyboekhoupraktyke en oudits. Braam speel fluit kommentaar.

"Nirvana Nerves" is Neels op elektriese ritme-kitaar en Louis op akoestiese "lead."

Die eerste kant word afgesluit met slegs die tweede voorbeeld van 'n nommer wat deur die groep herhaal word, al is dit met 'n variasie. Dit is "Plumstead Post-Midnight Blues" wat gebou is om 'n "blues riff" wat Neels speel. Philip speel "lead" en Braam speel bekfluitjie en improviseer Afrikaanse lirieke.

Die openingsnit op Kant Twee is ons ou vriend "My Boetie Is Gay Op Die Grens" wat hier sekerlik in sy definiërende weergawe gehoor word. Die snit begin met 'n oomblikkie se ateljeestilte (gevroetel, klankversterkers wat ruis) en dan spring Neels hande viervoet in en neem beheer van die akkoordprogressie. 'n Wyle later sluit Philip aan met baie skoon, melodieuse "lead" spel terwyl Braam weereens maak asof hy Little Walter is. So speel die groep die liedjie deur sonder die soniese geraas en maniese distorsie van die Plumstead weergawe. Na aan die einde van die nommer verruil Braam sy bekfluitjie vir 'n fluit en daarna improviseer hy lirieke wat klink of hulle gebaseer is op sy jeugjare op die plaas. Die nommertjie word afgesluit met 'n triomfantlike akkoord gevolg deur Philip se uitbundige "war whoop" wat baie goed segue in die volgende snit in.

Hierdie tweede snit op hierdie kant begin met los, fyn hoë note op die elektriese kitaar wat dan oorgaan na 'n viernoot baskitaarmelodie wat eers effens aritmies kleitrap voordat dit die reëlmaat van die begelydende akoestiese ritme-kitaar vind. Dit is "Hobbit Bop" wat nog 'n samespel tussen Neels en Louis Herbert is: 'n stuwende nommertjie met baie bons alhoewel dit miskien effens eentonig begin word na enkele minute aangesien die elektriese kitaar dieselfde viernoot patroon bly herhaal. Dit klink inderdaad soos 'n "backing track" en Neels het later deur middel van "overdubbing" probeer om 'n interessanter lied te skep. Die beste van sy pogings kan later op Kant Twee gehoor word as "Hobbit Bop (Version Two)": 'n "lead" kitaar is bygevoeg wat die basnoot patroon navolg.

"De Soto In Toto" is die derde snit op die kant en is 'n Philip kitaar alleenspel terwyl Neels sekere biografiese besonderhede oor hom aankondig. Philip self sê niks tot reg aan die einde wanneer hy sing "there but for the grace of you go I," net voor hy afsluit.

Die volgende voorbeeld van akoesties/elektriese samespel tussen Neels en Louis Herbert is "Diddley Doodle," 'n poging om die gevierde "Bo Diddley beat" (ook bekend as "shave-and-a-haircut-two-bits") na te boots. Weereens 'n snit wat eintlik klink of die instrumentaliste wag vir iemand om te begin sing of dat 'n ander instrument moet inval.

"Blitzkrieg Music" is 'n verdere aanslag op die nommertjie waarvan 'n fragment op die Real Lasagne album verskyn, maar by Dal Josafat het Philip sy eie lirieke omtrent vergeet en die liedjie word effens halfhartig gespeel.

Die tweede groepering van twee weergawes van dieselfde liedjie op die een album, bestaan uit die groepsaanslag op "No Friend Around" en Neels se solo interpretasie daarvan. Dit is een van die vroegste betekenisvolle "blues" lirieke wat hy geskryf het en sy solo weergawe is gebaseer op sy interpretasie van die John Lee Hooker styl waar hoë en lae note teen mekaar afgespeel word met elemente van "boogie" daarby ingewerk in 'n losse metrum wat nie noodwendig 'n "twelve bar blues" is nie. Die groep se weergawe klink anders, want die lirieke word hier gevou rondom 'n standaard "twelve bar blues riff" wat deur Philip gespeel word. Die nommertjie herinner aan "Lonesome Hangover Blues."

Neels se eenman magnum opus op die album is "Patently Pre-Psychedelic Psychosis Blues." Dit is een van sy gedigte wat hy half voordra, half sing bo-oor 'n "backing track" wat hy gemaak het van een van die paar "riff"/akkoordprogressies wat hy vir homself uitgewerk het. Aanvanklik het hy beplan om kitaarsolo’s tussen die strofes in te vleg, maar hy kon dit tegniese redes nie verwesenlik nie en hy moes tevrede wees om sy kitaarsolo in te redigeer nadat die vokale afgehandel was, d.w.s. die uiteindelike produk is eintlik twee gedeeltes wat apart opgeneem is en toe aanmekaargelas is.

Die laaste snit van die kant, en die album, is "A Spin On The Word." Philip speel ritme-kitaar en Neels lewer 'n kitaarsolo so iewers tussen die style van Albert King en Neil Young.

Hierdie album is miskien die bevredigendste van die eerste drie, omdat daar baie min dros daarop verskyn. Die Dal Josafat sessie het heelwat, interessante, bruikbare materiaal gelewer (heelwat daarvan verskyn ook nog op die vierde album Relaxed Chic) en die verhouding van opgeneemde materiaal tot gebruikte materiaal is die gunstigste van al die sessies tot dusver. Byvoorbeeld, waar minder as negentig minute van die etlike ure van materiaal opgeneem tydens die Wynberg sessie goed genoeg was om op die Real Lasagne album te verskyn, is omtrent die teenoorgestelde waar van die Dal Josafat sessie: daar was baie min musiek wat net getjommel en gedwalery was en die meeste van laasgenoemde is gemaak toe die groep darem al redelik dronk was. Die Louis Herbert sessies se materiaal was in sy geheel bruikbaar (en die moeite werd om te bewaar) en Neels se eie pogings was minder en veel meer geslaag as voorheen -- sy kitaarlesse het al hoe meer vrugte afgewerp.



D. "RELAXED CHIC"

Die bronne mengsel van hierdie vierde album is omtrent dieselfde as die van Amazing Graca, maar daar is veel meer Dal Josafat materiaal en net drie solo pogings deur Neels.

"Skink Daai Southern Comfort, Fanie" is 'n goeie voorbeeld van die simpelgeit wat op 'n laat stadium van 'n sessie te voorskyn kom, wanneer die musikante al ver heen is: nie veel musiek nie, maar heelwat spitsvondighede.

Neels se drie bydraes tot hierdie album word almal uitgevoer op akoestiese kitaar. "Beaten Up" is 'n ritme gebaseerde instrumentele nommer, terwyl die twee weergawes van "Doom Alone Counts" altwee geïmproviseerde "blues" lirieke is (skalkse verwysing na Bob Dylan), gesing oor 'n ritme wat weereens 'n geradbraakte weergawe is van die John Lee Hooker styl.

"Radical Spheres of Objective Senility,” "Fairytale Cough," "Desperate Creatures In Our Heads" en "Amazing Graca" is almal kitaarsamewerkings tussen slegs Braam en Philip, waar Braam gewoonlik die ritme-kitaar speel en Philip die "lead." Hulle is ook interessant omdat Braam sing en veral in Engels.

In "Radical Spheres ..." verkondig hy dat hy 'n "cowboy" is wat op 'n "tall horse" ry. In "Fairytale Cough" dreig hy om ons 'n feëverhaal te vertel, maar kom nie uit by die verhaal nie. Dit is duidelik dat Braam homself op hierdie stadium gate uit geniet: gewoonlik gee hy nie om, om te speel nie, maar verkies om nie veel verbaal by te dra nie.

Louis Herbert lewer twee bydraes op hierdie kant. "Fly Out The Window" is 'n stadige, "dirge-like" liedjie oor verlore liefde, en so ook eintlik "All Alone." Laasgenoemde is darem net effens meer melodieus. Ongelukkig kon net 'n gedeelte van die liedjie hier ingepas word. Die volledige weergawe is op die vyfde album: A Dose Of Realism.

"Impetus With Blue Designs" is 'n nuutjie in die groep se ouevre: dit is 'n opname van Philip se "jazz organ" klawerbordspel op sy Casio. Daarna volg deur 'n snit waarin Philip en Braam 'n a capella "scat" nommer doen, terwyl Neels 'n tirade lewer oor mense aan die onderkant van die samelewingspiramiede, derhalwe die titel "Bergie Blues."

Op Kant Twee word groepsmusiek om die beurt afgewissel met Louis Herbert komposisies.

Die eerste snit is dan Louis se solo akoestiese kitaar instrumentele nommertjie "Sheer Gratitude."

Daarop volg "Into The Outer Skin" wat begin met 'n orrel en kitaar samespel waarna Neels 'n baie "abrasive" ritme-kitaar speel terwyl Philip "lead" speel en Braam bekfluitjie. Laasgenoemde dra ook woordelose sang by.

"Almost As Much As Less" is weereens hoofsaaklik Louis op akoestiese kitaar met 'n baie kort bydrae deur Neels op elektriese kitaar net voor die einde van die snit.

Tydens die laat stadium van die aand by Dal Josafat het Neels al hoe meer luidrugtig en woordryk geword. "Virtue Of Deception" is sy Southern Comfort-brandstofaangevuurde tirade oor allerhande dinge wat hom pla, asook sekere aspekte van die situasie wat tydens die "jam" geheers het. Hy sluit af met die stelling dat hy 'n "individual alone in the entire universe" is. Philip verskaf die begeleiding met een van sy tipiese toonleer gebaseerde "riffs." l Braam doen agtergrondsang.

Die volgende twee nommers segue in mekaar in. Die eerste gedeelte is "Shining Beacon Of Disaster" waar Louis 'n akoestiese "riff" speel en woordeloos "chant." Neels maak 'n klein bydrae op elektriese "lead"-kitaar. Dit is interessant om te hoor hoe "bottom heavy" die akoestiese kitaar klink in kontras met die hoë note van die elektriese kitaar. Die snit loop dan direk oor na "Into The Swamp" 'n baie “funky”, hipnotiese Louis Herbert "riff." In die eerste seksie van die nommer dra Neels baskitaar by, met skaars hoorbare lae note. In die middelste gedeelte wyk Louis effens af van die "riff" en speel akkoord ritmes terwyl Neels eers 'n bietjie "chicken scratch" ritme-kitaar speel en dan oorgaan na "lead"-kitaar. Sodra Louis terugkeer na die oorspronklike "riff", speel Neels weer baskitaar, maar eindig die nommertjie met nog "chicken scratch" ritmes en "lead"-kitaar. Hierdie snit is die beste voorbeeld van Louis se vermoë om interessante, innoverende en treffende ritmes en "riffs" te improviseer, en is ook 'n goeie voorbeeld van hoe samespel tussen Louis en Neels selfs nogal intuïtief kon werk.

Vir "Restless Pursuit Of Fame" (haar titel) het Margaret Follett haar by die groep gevoeg en die lirieke ge-improviseer terwyl Philip die agtergrondbegeleiding verskaf het en Braam op orrel gehoor kan word. Neels speel 'n luide atonale kitaarsolo in sy ietwat verdwaalde nabootsing van Albert King.

Louis se volgende "riff" is "Can't Get This Song." Sy versugting oor die onmoontlikheid om ordentlik te kan speel, of om presies te speel wat 'n mens in jou kop hoor. Neels volg die akoestiese "riff" op baskitaar en gaan voort met sy interpretasie daarvan vir 'n minuut of wat nadat Louis ophou speel.

"Kenneth, What Is The Frequency?" is 'n instrumentele nommer van die groep. Philip speel "lead," Braam speel elektroniese orrel en Neels sê 'n paar woorde en maak 'n geraas op die bekfluitjie.

Vir "Spark In The Dark" kies Louis om vinnige arpeggio’s te speel, wat Neels op elektriese kitaar probeer volg, terwyl hy woordeloos "chant." Na 'n rukkie gaan Louis oor na akkoordspel en sing dan 'n melodie terwyl Neels 'n paar woorde bydra.

"Terminal Conjunction" en "Afri-Etniese Storie" segue inmekaar in. Die eerste is weereens 'n Philip toonleer “riff” waaroor Braam effens onhoorbaar sing, Neels 'n paar woorde sê en Margaret soos 'n spook "wail." Hierna verander Philip sy “riff” terwyl Neels 'n storie vertel oor sy jong welluste in 'n aksent wat sy weergawe is van 'n agtertangse plattelandse spreekstem. Margaret doen weereens in die agtergrond haar "wail" ding.

Op "To Get It Clean" speel Louis 'n baie "funky," baie vinnige "riff" met volop dryfkrag en Neels ondersteun hom met ritmiese handgeklap.

"Strukturele Tune" illustreer baie pertinent 'n duidelike en soms pynlike gebrek in die groep betreffende tegniese vaardighede. Philip wil, soos hy sê, iets struktureel probeer, d.w.s. nie net 'n blote "jam" nie, en Neels probeer saam met hom speel, maar maak heilig droog omdat hy nie kan byhou met Philip se ritme nie. Ewenwel, gelukkig segue die snit na "Lonesome Cowboy Braam" waar Braam kitaar speel en sy eie liedjie sing, oor dieselfde karakter wat die "tall horse" ry waarvan hy so begin sing het op die Eerste Kant van hierdie album. Dit is dan 'n aangename verrassing dat hy omtrent 'n volledige liriek kan improviseer en nogal 'n interessante melodie ook. Moontlik is Braam effens skaam vir sy sang, en hy sien homself seker nie as 'n woordmens nie, maar elke nou en dan het hy 'n vindingryke bydrae gemaak; soveel so dat 'n mens wens dat hy meer wil sing. Neels speel "slide"-kitaar om meer klem te plaas op die "Country & Western" klanke wat Braam voortbring.

"Can't Take What You're Doing To Me" en "Stop What You're Doing" is eintlik dieselfde liedjie, maar word in twee gedeel omdat die nommertjie wel deeglik in twee helftes uitgevoer word. In die eerste helfte speel Louis die akoestiese "riff" en sing die refrein. In die tweede helfte speel Neels 'n "bottom heavy" "funk" styl "riff" terwyl Louis sing, met heelwat meer krag en angsvalligheid as in die eerste helfte. In beide gevalle herhaal hy eintlik maar net die titelrefrein van die snit, maar in die tweede helfte klink hy werklik asof hy in geestelike pyn verkeer.

"Aantyging Van Sadisme" (wat die voormelde twee snitte van mekaar skei) is nie werklik 'n musieksnit nie. Dit begin met die laaste gedeelte van Neels se "slide" kitaarspel op "Lonesome Cowboy Braam", maar dan hoor ons Braam kla dat hy moet ophou speel omdat sy vingers nou seerkry as hy speel (nadat hy teen daardie tyd al heelnag gespeel het) en Philip lewer kommentaar oor die rede vir die seer vingers wat Braam laat dink dat Philip te kenne wil gee dat hy, Braam, nie eintlik kan kitaar speel nie en hy voel dus dat Philip 'n sadis is om hom so baie te laat speel, al is dit nodig sodat hy kan verbeter.

Die album sluit af met "Saturday Night Fright." Dit open met 'n stukkie orrelspel en dan speel Neels een van sy gepatenteerde lawaai "riffs" (alhoewel steeds 'n poging om "funky" te speel) terwyl Margaret en Braam sing. Die titel word deur Margaret verskaf.


E. A DOSE OF REALISM

Met hierdie opname sessie, 28 en 29 Maart 1991 te Constantia, het die De Soto De Witt Band 'n paar nuwe hoogtepunte bereik en die wêreld van musiektegnologie betree.

Neels het oor Desember 1990 'n “no name brand” baskitaar met 10 watt klankversterker, en 'n Ibanez Digital Delay-eenheid gekoop (Hy het toe alreeds 'n rukkie lank 'n "phaser" voetpedaal klankeffek apparaat besit.) Die groep het dus nou vir die eerste keer 'n elektriese snaarinstrument gehad vir elke lid, en die Digital Delay-eenheid het 'n uitbreiding van klankpotensiaal en variasie daargestel. Tot op daardie punt is meeste van die elektriese musiek op die albums deur net twee persone op 'n slag voortgebring: een persoon moes uitsit, of 'n blaasinstrument, perkussie instrument of die Casio orrel speel, as altwee die ander 'n elektriese kitaar wou speel. Met die baskitaar kon daar nou 'n instrument bykom wat merendeels 'n ritmeseksie instrument is en dus die "bottom" kon verskaf wat voorheen afwesig was.

Die Constantia opnames is gemaak in die sitkamer van 'n woonhuis: 'n vertrek vol leermeubels, volvloermatte, vol boekrakke, ens. Die mikrofoon is gehang in die stutte van 'n tuinsambreel wat in die hoek van die vertrek opgeslaan is.

Kant Een begin met 'n tipiese getjommel van kitaar, baskitaar en klawerbord wat nêrens heen gaan nie. Neels kondig die datum en plek aan en dan kom Braam met die kommentaar "Miskien moet ons weer begin." Aldaar die titel vir hierdie snit.

Hierna volg die vollengte weergawe van "All Alone," Louis Herbert se weeklaag oor verlore liefde. Die eerste deel van die liedjie is baie roerend, sag, weemoedig. Dit vloei oor na 'n seksie met sterk ritmiese kitaarbegeleiding waar Louis met fors verklaar "I'll never give in," voordat hy dan weer terug gaan na dieselfde tema as die eerste, treurige seksie. 'n Formidabele voorbeeld van Louis se vermoë om vanuit die niet 'n sterk liedjie te improviseer.

"Klankkleure" wat hierop volg, is ensemble spel deur die groep. Philip speel een van sy tipiese arpeggio "riffs" terwyl Braam op die baskitaar rondvroetel en Neels "slide"-kitaar bydra. Daarna speel Philip 'n "funk" styl akkoord-"riff" en Neels probeer een van sy Neil Young-nabootsing kitaarsolo's. Braam verskaf die inspirasie vir die snit se titel deur die teenoorgesteldes by te dra: "Dis heeltyd 'treble' en bas; wit en swart." Die snit word afgesluit met gesamentlike "heavy riffing" deur Philip en Neels met Braam steeds op baskitaar en dan ten laaste 'n stukkie klawerbordspel met 'n laaste stukkie kitaarsolo.

"Lament For A Wedding Photograph" is die eerste voorbeeld van Neels se nuwe en meer gevorderde eksperimentasie met "overdubbing."

Tot kort voor die Constantia sessie het hy en Philip die huis in Wynberg gedeel waar die Real Lasagne sessie plaasgevind het. Oor naweke was Neels gewoonlik alleen by die huis en het onbelemmerde gebruik gehad van die gesamentlike musiektoerusting en twee hoëtroustelle met bandopnemers. Hy kon dus met relatief min moeite 'n uiters primitiewe tuisateljee inrig.

Die samestelling van hierdie snit het byvoorbeeld as volg plaasgevind. Eers het Neels 'n tromritme op die Casio gekies en die klawerbord aan die 10 watt klankversterker gekoppel vir 'n goeie, harde klank. Hy het dan 'n baskitaar "blues" progressie saam met die tromritme gespeel en dit opgeneem. Hierdie opname is dan deur een hoëtroustel teruggespeel sodat Neels 'n ritme-kitaar kon byvoeg en die gesamentlike resultaat opneem op die tweede bandopnemer. Die band met die ritme-"track" op is dan weereens teruggespeel terwyl Neels lirieke en "lead" kitaarspel improviseer asof hy saam met 'n groep speel. Die resultaat is 'n snit waarop dit klink soos 'n groep, behalwe dat Neels al die instrumente speel -- en vir 'n slag is al die musiek in dieselfde sleutel.

Beide "Darkest Hallways Of Science" en "Ghosts Of Deception" is volgens hierdie metode saamgestel, behalwe dat hier net geïmproviseerde lirieke bygevoeg is. Inderwaarheid, beide snitte maak gebruik van presies dieselfde "backing track." Die enigste verskil is dat die stem en woorde by die eerste snit baie harder en duideliker is, en die instrumentasie sagter, as die tweede voorbeeld waar die woorde omtrent onhoorbaar is op plekke, en telkens onduidelik, terwyl die musiek baie meer robuus is.

"The Hidden Pleasure," die vyfde snit op hierdie kant, is weereens die groep. Braam speel 'n sombere klawerbord, Philip speel "lead"-kitaar en Neels probeer soos 'n wafferse amptelike baskitaarspeler 'n gestruktureerde baskitaar begeleiding doen. Uiteindelik speel Philip 'n stukkie "hot lead"-kitaar en eindig die nommer deur die Phaser effektepedaal te gebruik om 'n 'swirling" klankeffek voort te bring.

Vir "An Air Bag" poog Neels om struktuur aan die nommer te verleen deur sy weergawe van die "Sweet Jane riff" te speel terwyl die ander twee kitaar en klawerbord bydra. Neels kondig aan dat die De Soto de Witt Band "Live in Constantia" speel en speel daarna 'n kitaarsolo met klawerbord- en baskitaar begeleiding. Na sy solo keer Neels terug na die "riff" en dan sluit Braam hom aan by die kitaargeselskap met een van sy tipiese ritmes wat onmiddellik nuwe lewe in die spel blaas. Die baskitaar word nou baie prominent gehoor en die klawerbord hou by. Die snit eindig met 'n snarsie "slide"-kitaar.

Hierna volg Neels se solo akoestiese akkoordgebaseerde ritme nommer "Among The Jet Set" en daarna 'n verdere, maar meer eenvoudige, eenmanspoging. Met 'n elektroniese tromritme as begeleiding speel hy 'n "blues" baskitaar progressie, "Changing Needs," eintlik 'n oefening om homself te vergewis van hoe gemaklik hy geraak het met die instrument en die noodsaaklikheid om by 'n formele ritme te bly.

"Spooked" is 'n ensemble nommer. Neels speel "slide"-kitaar en word ondersteun deur die ander twee op kitaar en baskitaar. Mettertyd improviseer hy die lirieke, beginnend met "There's a ghost in my house / and he ain't no Mickey Mouse." Daarna volg tussenspel tussen baskitaar en klawerbord en 'n minder harde ritmekitaar. Neels speel 'n laaste "slide"-solo en die nommer eindig op enkele baskitaar note en wanneer Braam skree:"Cut!"

Paslik is die laaste nommer op hierdie kant getitel "Fading From View." Dit is 'n samespel tussen Braam op sy kenmerkende styl ritmekitaar en Philip wat hom ondersteuning bied op die baskitaar.

Die groep kom weer bymekaar uit op die eerste snit van Kant Twee, "Blues For the Big H." Die eerste deel van die nommer is 'n tipiese gerondmalery -- dit klink omtrent of almal besig is om hul instrumente in te stem -- voordat Braam 'n stukkie speel op blokfluit en Philip een van sy kenmerkende "riffs" speel. Hierna sluit Neels aan op "lead"-kitaar met 'n "delay" distorsie effek (wat vaagweg, en met baie verbeelding, soos die klank van Jimi Hendrix se kitaar klink; vandaar die snit se titel) en die nommertjie galop aan tot by die einde wanneer dit in duie stort vanweë die vinnige tempo wat Philip probeer handhaaf het.

Hierna volg "Hasie 'n Bad Moon Rising," terselfdertyd 'n Philip woordspeling en musiekgrap en 'n semi-ernstige poging om 'n "cover version” in groepsverband aan te durf. 'n Hele klompie sulke nommertjies is gespeel tydens hierdie sessie, maar net hierdie poging asook 'n weergawe van "No woman, no cry" is behou. Philip speel die akkoordritme en doen meeste van die singwerk, afwisselend tussen sy eie Afrikaanse woorde en die oorspronklike John Fogerty lirieke. Neels speel 'n soort van "slapback" kwasi-rockabilly basviool effek en sing so 'n bietjie saam; meestal probeer hy tevergeefs om ander versies van die liedjie in herinnering te roep, maar hier en daar kry hy en Philip dit reg om 'n ruwe harmonie te sing.

"Assets Under Management" het sy oorsprong in musiekopleiding sessie in die Wynberg huis. Philip speel sy weergawe van reggae ritmekitaar met 'n stewige eggo, verskaf deur die Ibanez Delay, terwyl Neels een van die baskitaar progressies wat hy op daardie stadium redelik onlangs onder die knie begin kry het, speel. Dat dit eintlik 'n musiekles is, kan gehoor word uit Philip se geduldige aftel van die akkoordwisselings.

Op "Love Song Vir Die 90's" kan 'n mens 'n goeie idee vorm van Philip se werkmetode in 'n "jam" sessie wanneer hy toegelaat word om op sy eie aan te gaan en hy dan, soos wat "geleerde" amateur musici maar altyd graag wil doen, uit sy bron van aangeleerde musiek put. Hy begin hier met 'n gedeelte van die FAK lied "Vaarwel my eie soetelief," maar kan (soos gewoonlik) nie al die versies onthou nie en gaan dus oor na sy interpretasie van die akkoordmelodie van David Kramer se "Krisjan Swart." Neels dra nou 'n klein bietjie "lead" spel by en Braam kan in die agtergrond op die klawerbord gehoor word. Hierna is Philip weer duideliker hoorbaar op sy eie: hy het "Krisjan Swart" agtergelaat en op min of meer dieselfde akkoorde 'n soort van kwela ritme begin speel wat dan ontwikkel tot die aanvang van die veelgeroemde liedjie "Wimoweh (The lion sleeps tonight.)" Hier eindig die snit -- hierdie interpretasie van "Wimoweh" was effens irriterend, en in elk geval wou Neels so min as moontlik onoorspronklike, nie suiwer improvisatoriese materiaal op die albums hê.

Die volgende snit, "Weird Terrain," is die eerste aanduiding van presies hoe goed die groep kon saamspeel as hulle net wou en ook 'n aanduiding van 'n potensieel vrugbare rigting wat gevolg sou kon word as meer aandag daaraan gegee is op daardie tydstip en die groep daarna tyd aan inoefening bestee het. Ons hoor hier ware samespel. Die grondslag waarop alles rus, is die Casio se elektronies tromritme en Neels se baskitaar spel, d.w.s. 'n tradisionele, ortodokse ritmeseksie. Philip speel 'n uitgebreide stuk "lead"-kitaar en Braam speel klawerbord, maar teen die einde se kant speel hy ook ritmekitaar. Daar is die minimum gerondmalery en rigtingsoekery en derhalwe klink hierdie snit soos 'n groep wat mekaar gevind het of selfs, as 'n mens baie optimisties wil wees, soos 'n ingeoefende nommertjie. Die groot verskil tussen hierdie tipe nommer en die gewone "jam" is natuurlik dat elke musikant 'n tradisionele rol in groepsverband vervul en nie sommer net sy eie individuele ding wil doen nie, ongeag of dit pas by wat die ander doen.

"Mysterious Muck" klink soos 'n nommer uit die Plumstead sessie: net Philip en Braam op kitaar wat rustig voortmaal op kosmiese wyse totdat die snit uit-"fade."

Verdere (kort) voorbeelde van Neels se eenmangroep pogings kan gevind word in "Power to the Wheels" en "Characters On Top Of A Train." Beide is op dieselfde manier saamgestel: ritmekitaar bo-oor baskitaar en tromme. Dis net die styl van ritmespel wat verskil. Beide was oorspronklik bedoel as "backing tracks," maar het nie verder gevorder nie.

"Excuse Our Dust" klink soos 'n los eksperiment, tipiese produk van 'n "jam," tussen meer formidabele pogings. Dit snit open met 'n stukkie bekfluitjiespel, waarna 'n "lead"-kitaar met baie eggo gehoor word en daarna 'n baskitaar en "slide"-kitaar duet.

Die eerste, en beste, van Neels se eenmanorkes pogings om "space rock" na te boots volg hierna. Die fondament is 'n baskitaar-en-trom ritmeseksie, terwyl Neels 'n herhalende "lead" speel wat deur die Ibanez "delay"effekte eenheid verwring is om sy weergawe van 'n reis deur die buitenste ruimtes te weerspieël. Miskien nie heeltemal op die vlak van Pink Floyd nie.

Hierna volg nog 'n weergawe van "My Boetie Is Gay Op Die Grens." Hierdie keer word die ritmekitaar akkoordprogressie 'n bietjie vinniger en ritmies anders gespeel as in die vorige weergawes. Ongelukkig speel Philip baie sag in die eerste deel van die snit, hy het omtrent altyd vergeet om sy klankversterker se volumeknoppie op te draai, en in die tweede deel, waar hy harder speel, is dit Neels wat vir 'n ruk lank met sy kitaar se klankversterker rondvoeter en so die opname 'n bietjie opmors. Braam word hier en daar op bekfluitjie gehoor; hierdie keer wil hy nie sing nie. 'n Interessante weergawe, maar ongelukkig nie 'n baie goeie een nie.

Vir "Donkernag Skoenlapper" bring Philip weereens een van sy welbekende repertoire van "blues riffs" tevoorskyn, terwyl Braam blokfluit speel en teen die einde van die snit dra hy en Neels 'n paar woorde by: Neels sing oor 'n donker nag en Braam kontrasteer dit met sy idees oor skoenlappers.

Philip is weereens die voorspeler op "Payments Over Time" met 'n ander handelsmerk "riff". Bekfluitjie word gehoor en ook 'n bietjie "lead"-kitaar in die agtergrond. Nie 'n wesenlike nommer nie.

"Stab At Peace" is een van die min solo Casio klawerbord nommers op die albums. Hier het Neels ook homself opgeneem in Wynberg. Dit is nie heeltemal Jimmy Smith nie -- die kerkorrel klank word gebruik en word begelei deur die Casio se ingeboude tromritme. Dis 'n langerige snit wat in twee gedeel word deur 'n klompie getjommel in die middel, maar hier en daar kan 'n paar melodieuse noot- of akkoordprogressies gehoor word.

Die daaropvolgende snit is weereens solo Neels. Vir "Wind Is Howling" probeer hy 'n "blues" speel op Philip se akoestiese kitaar wat net kort tevore met 'n "pick-up" toegerus is en dus 'n lekker helder metaalagtige klank voortgebring het wanneer dit deur 'n klankversterker gespeel is. Ongelukkig is die kitaar se klank so hard en Neels so ver van die mikrofoon af dat sy stem skaars hoorbaar is op die grootste gedeelte van die opname. Die snit op die album is dus slegs 'n fragment van 'n baie langer opname.

"Sondans" (Braam se titel -- "Kom ons doen die sondans"} is nog 'n rustige, psigedeliese nommer, min of meer soos wat Braam se visie vir die groep was. Braam skop dit af met blokfluit en dan kom ritmekitaar en kosmiese "lead"-kitaar by en speel saam vir 'n hele rukkie voordat Braam aan lirieke dink en dan sing.

Die laaste twee nommertjies is min of meer op reggae gebaseer. "No woman, no sic(k) child" is 'n aanslag op die Bob Marley treffer "No woman, no cry." Die oorsprong van die album snit se naam is dat die persoon wat die versoek gerig het dat die groep die liedjie moet speel, nie heeltemal die korrekte titel van Marley se liedjie kon onthou nie; hy het klaarblyklik gedink dit gaan oor 'n bar vrou (of dalk 'n vrou wat haar kind verloor het.) Ewenwel, soos met die poging om "Bad Moon Rising" te speel, het ons hier eintlik net 'n herhaling van 'n snarsie van die refreingedeelte van die Marley komposisie, terwyl sy bes probeer om die regte akkoorde te speel, omdat niemand al die woorde kon onthou nie. Indien die groep vooraf 'n bietjie gekoukus het, en nie net sommer blindelings begin speel het nie, kon die weergawe beter gewees het.

Die laaste snit op die kant is Neels wat 'n reggae ritme probeer speel en Philip wat hom probeer touwys maak betreffende "Die Regte Ritmiese Frasering." 'n Effense gemors.