Monday, January 03, 2011

Radio Houtstok

Vroeg in 2010 het ek die reünie van my vrou se Hoërskool De Kuilen se Matriekklas van 1990 bygewoon, en in November 2010 was ek 'n gas by haar jongste broer se troue en onthaal in die Gouritzmond omgewing. In beide gevalle was die teenwoordiges oorweldigend Afrikaanssprekend. By beide geleenthede het die persoon wat die musiek verskaf het as MP3's van 'n laptop af gekonsentreer op kontemporêre Afrikaanse danspopmusiek en dit het groot byval gevind. Veral by die onthaal het die gaste eerder op die maat van die doef-doef klanke van boerepop gedans as op enige ander internasionale musiek.

Ek het 'n wesenlike versameling Afrikaanse rock musiek. Ek het in die laat Sewentigs begin met Anton Goosen se eerste 4 vrystellings en die versameling hervat met Piet botha se 'n Suit Case Vol Winter en Karen Zoid se debuutalbum. My voorkeur is vir rock musiek en dus pas die Afrikaanse musiek wat ek koop en waarna ek graag luister in daardie verskyningsvorm van musiek. Die tipiese boerepop van Kurt Darren, Nicholis Louw, Bobby van Jaarsveld, Lianie May, Nadine, en al die menige diesulkes wie se name ek nie eens ken nie, val nie in my smaak nie. Ek sou nie daarna luister as dit uit die buiteland afkomstig was nie en ek gaan wragtag nie daarna luister bloot omdat dit in Afrikans is nie.

Hierdie nuwe Afrikaanse pop is klaarblyklik gemik op 'n laagste gemene deler en daar is 'n nadruk op dansbare Tagtigs-styl diskoritmes en die mees banale van lirieke. En daar is so baie daarvan! Soms kom dit my voor of elke presenteerbare jong Afrikaanse seun of meisie met sangambisie 'n CD kan vrystel en een of ander soort van vermaaklikheidsloopbaan kan volg. Blykbaar is die volk lojaal teenoor hul kunstenaars. As jy in Afrikaans sing en jou gehoor gelukkig hou en nie te veel droog maak nie, kan jy verseker 'n goeie bestaan uit jou musiek maak.

Ek het die eerste keer van hierdie fenomeen kennis geneem in Oudtshoorn by die 2005 KKNK waar ek en my vrou vir die dag gaan rondloop het. Orals waar mens beweeg het, te voet of per motor, het, was daar luide Afrikaanse sokkie musiek, die een liedjie so erg tos soos die ander en almal het min of meer dieselfde geklink. My idee van kief Afrikaanse musiek is Koos Kombuis se vroeë vrystellings, ditto vir Valiant Swart, Karen Zoid se debuut album, Jan Blohm, Skallabrak, Gian Groen, selfs Robbie Wessels, Klopjag, Die Melktertkommissie, Ddisselblom, Zinkplaat, ensomeer. Hierdie wydverspreide Afrikaanse sokkie doef-doef pop was nuus vir my en ek het onmiddellik 'n hekel daaraan ontwikkel. My renons het oor die jare heen nie verminder in intensiteit nie.

Nou is daar selfs 'n radiostasie, Radio Houtstok, wat uit die Big Bay omgewing van Blaauwbergstrand uitsaai, wat toegewy is aan hierdie tipe Afrikaanse musiek. Die slagspreuk is "Afrikaans Met Vlerke." Klink of hulle 'n skalkse verwysing na die Red Bull slagspreuk "It Gives You Wings" wil maak en vir ons vertel dat die taal nie net sweef en vry is nie, maar een of ander pick met up is na 'n kulturele babelaas.

Toe ek die eerste keer van Radio Houtstok gehoor het, is dit aan my bekend gestel as 'n Afrikaanse rock stasie en alternatief tot iets soos Kfm 94.5 in die Kaap. Dat dit 'n alternatief tot Kfm is, is nie te betwyfel nie aangesien hierdie Kfm ver weg beweeg het van sy oorsprong as Radio Kontrei in die vroeg-Negentigs toe dit wel soort van 'n Afrikaanse teenvoeter was vir Good Hope FM. Radio Houtstok is egter glad nie 'n rock radio stasie nie, in elk geval nie in die dagligure nie. Dan praat die aanbieders besonder baie, sommige klaarblyklik oorweldig deur hul eie persoonlikhede, en lees gelukwensende en bewonderende SMS boodskappe van luisteraars en speel jou basiese Afrikaanse sokkie Boere pop. My vrou luister daarna in die kar mdat sy nie enige ander radiostasie kan veel nie, maar op sy manier is Radio Houtstok net so erg as Kfm in die lae vlak van musiekkwaliteit wat die luisteraar gebied word. Die ontstellende gewaarwording, egter, is dat ek moontlik in 'n minderheid is in my opinie hieroor. Klaarblyklik is daar 'n luisteraarmark vir hierdie tipe musiek en aanbieding.

Behalwe die simpel musiek is daar die kwessie van die taal. Vir sogenaamde Afriknaase pop gebruik die aanbieders en artieste darem al te veel Engels. Daar is blykbaar 'n onverbiddelike reël dat mens nie na 'n liedjie as 'n liedjie of lied mag verwys nie, maar dat jy verplig is om die Engelse woord "song" te gebruik, selfs in die titel van jou lied. Valiant Swart is al lankal hieraan skuldig, so ook Jan Blohm of Gian Groen, en nou is dit 'n plaag. Wicus van der Merwe gaan so ver as om te praat van 'n "songkie." Of is dit sonkie? Is daar een of ander konseptuele verskil tussen 'n liedjie en 'n song? Is ek net eenvoudig te oudmodies om te dink dat keurige Afrikaans tog nie so sleg is nie? Miskien moet ons steeds skryf soos ons praat, maar ek dink tog ons met eerder beter praat as om in die swak styl van taalvermenging te verval. Andersins sal ek liewer Afrikaans los en net Engels praat.

Op Nuwejaarsdag 2011 het ek na 'n oorsig oor die jaar se luisteraargunstelinge op Radio Houtstok geluister en twee goed het my opgeval. In die eerste plek is die musiek oorwegend so swak dat ek nie kan verstaan hoekom enigiemand die liedjies sou vrystel nie, en nog minder hoe hulle luisteraargunstelinge kon geword het. Die tweede ding was dat nie minder nie as 3 liedjies (amper in 'n ry) uit die handjievol waarna ons geluister het, Engelse titels gehad het. "My Angel Face", Baby. Baby", "Playboy Bunny." "Plain Jane" (toevallig die beste liedjie van die lot) en "Party", en ek is seker daar is vele meer. Lianie May se liedjie met die woorde: "honey, honey, ek is jou Playboy bunny / ek voel so funny as jy aan my wil raak / ek is meer werd as money", moet een of ander laagtepunt in sogenaamde Afrikaanse liriekskrywe wees.

In die vroeg-Tagtigs het Kerneels Breytenbach 'n rock en pop musiek rubriek gehad in die Saterdag Byvoegsel tot die Burger dagblad en het by geleentheid dodelik gespot met die woorde van die liedjies van ene Cupido, wat onder andere Afrikaanse country liedjies vir Cora Marie geskryf het. En daardie liedjies was in suiwer Afrikaans alhoewel miskien effens geforseerde Afrikaans. Waar is Kerneels vandag om net so venynig te wees oor die huidige groepie liedjieskrywers?

Die algemene Afrikaanse gemeenskap is nie my mense nie en ek het min met hulle in gemeen, hoofsaaklik die feit dat ek Afrikaans goed kan praat, en blykbaar suiwerder praat as die gemiddelde Boer. Die gemeenskap is egter groot en die taal is waarskynlik so sterk as wat dit ooit was, selfs sonder veel amptelike beskerming. Dit is nog Afrikaans op die SABC, waar 7de Laan steeds een van die mees populêre sepies is. Daar is KykNet wat slegs Afrikaanse programme uitsaai, en nogal nuwe programme boonop, en daar is MK wat oorwegende Afcikaanse musiek uitsaai. Die Afrikaanse uitgewerswese floreer steeds. En les bes, daar is amper te veel Afrikaanse musiek om na te luister, van die meer verhewe, ligte luisterliedjie tot rap en rock en die aakligheid wat die genre waarvan "Baby Tjoklits" 'n uitstekende voorbeeld is.

Nugter weer hoe al die Afrikaanse popkunstenaars 'n bestaan kan maak. As almal gedurig toer, moet die platteland een warboel van optredes wees. Mens vermoed daar is elke aand in selfs die kleinste dorpie iewers 'n Afrikaanse popmusiekkunstenaar wat die plaaslike bevolking vermaak met luimigheid en patos. En nog beter, elkeen van hulle kan 'n CD opneem en by hul optredes verkwansel of miskien in plattelandse supermarkte plaas of sommer net oor die Internet verkoop. Soms blameer ek die digitale revolusie vir hierdie feit van die lewe.

Dit is na hierdie gehoor, ten minste in die omgewing van die Kaapse Skiereiland, waarna Radio Houtstok mik. Die aankondigers klink jonk en entoesiasties, daar is 'n paar dames en selfs een "Bruin ou" en almal klink soms te erg opgemaak met hulself. Ek neem aan hulle lees graag die luisteraar SMS'e, nie net om hul eie egos te streel nie, maar ook om diegene wat wel ingeskakel het gerus te stel dat hulle nie die enigste luisteraars is nie; dat daar vele meer is wat bankvas agter Afrikaanse popradio staan.

Natuurlik ondersteun ek rock radio en selfs Afriknaase rock radio, maar Radio Houtstok is nie dit nie en is vir my 'n wesenlike teleurstelling. Dit dien slegs die doel om vir my te bewys hoeveel totale tos Afrikaanse musiek daar is. Ek sal nie uithou om 'n volle dag lank daarna te luister nie. In elk geval praat die aankondigers gans te veel. Miskien kan hulle net genoeg musieklisensiegeld bekostig om 45 minute per huur se musiek te speel. Ten minste is daar geen tos musiek wanner die mense praat nie.

My ideale plaaslike radiostasie was Radio 2000 in die jare 2000 tot omtrent 2004, toe daar saans 'n stroom goeie rock musiek, beide internasionaal en plaaslik, was met geen aankondigers nie. Dit was net musiek en musiek wat in my kraal gepas het.

Radio Houtstok is nie my idee van die beste radiostasie ooit nie. Dit is vir my 'n bitter pil dat die vlerke wat die radiostasie na bewering aan die taal gee, veroorsaak dat die lae gemene deler se smaak bevredig word en nie myne nie. Daar is wel baie goeie, opwindende en interessante Afrikaanse rock musiek wat ook radio blootstelling verdien en as daar 'n uitsender is wat dit doen, sal ek daar wees. Tot dan, is dit adios Radio Floustok.

Fokofpolisiekar

Die dokumentêre rolprent oor Fokofpolisiekar (Forgive Them For They Know Not What They Do) begin met 'n vrouestem wat in Engels vir ons vertel wat dit is, of was, om Afrikaner te wees terwyl ons beeldmateriaal sien van die "ou" Suid-Afrika waarin, so neem mens aan, die lede van Fokofpolisiekar grootgeword het of ten minste die soort van Suid-Afrika wat hulle beïnvloed en gevorm het al was dit bloot omdat hulle ouers in daardie sisteem geglo het en hulle in die middelste van middelklas Afrikaner buurte, naamlik Bellville en omstreke, grootgeword het.

Ek moet net terloops hier meld dat vir 'n groep wat in sulke suiwer Afrikaans sing soos wat aangedui word in die rolprent, is dit vreemd dat die onderhoude met omtrent almal, selfs die lede van die groep, in Engels is. Dit is net Johnny de Ridder wat nog bietjie Afrikaans praat. My vermoede is dat die taalkeuse Engels is omdat die rolprentmaker Engelssprekend is en dus onderhoude in Engels gevoer het en/of omdat die teikenmark vir die rolprent 'n betekenisvolle Engelssprekende gehoor, hetsy in Suid-Afrika of elders, insluit en dat Afrikaanse onderhoude met vertaalde onderskrifte te veel moeite sou gewees het of moontlik produksiekoste onnodig hoog gemaak het. Die taalkeuse van 'n dokumentêre rolprent oor moontlik die belangrikste en invloedrykste Afrikaanse rock groep van die afgelope dekade, indien nie ooit nie, bly egter 'n steurende faktor.

Die basiese vooropstelling van die inleiding tot die Fokofpolisiekar storie is blykbaar dat Afrikaners onseker was van hulself, ten spyte van 'n sekere brawade, en nie 'n plek in die wêreld gehad het nie, wat nog te sê hulle eie land, ten spyte van die jarelange hegemonie wat Nasionale Party, NG Kerk en Christelik-Nasionale opvoeding uitgeoefen het. Ek dink die meer akkurate opsomming is dat dit juis die geslag is wat tussen 1990 en 1994 gematrikuleer het wat so onseker was van hul plek in die wêreld. Hulle ouers en grootouers het waarskynlik nie werklik daardie probleem gehad nie omdat hulle gerus was in die versekering dat hulle vir ewig Suid-Afrika sou regeer en veilig hou vir die Witmens en spesifiek die Afrikaner.

Ewenwel, Fokofpolisiekar het gekom om hul generasie nuwe hoop te gee, of so-iets, omdat hulle die mense was wat getoon het dat Afrikaanse punk rock tog gedoen kan word en ook suksesvol gedoen kan word. Ek neem aan die naam het gehelp om die rebelse jeug se aanhang te verseker, plus natuurlik die rou, energieke, gatskop punk rock wat nou maar eenmaal outsider musiek is wat te luid is vir mense wat te oud is.

As ek die storie reg verstaan, is die aanspraak dat waar Voëlvry die eerste deurbraak gemaak het in die struggle jare om 'n politieke en anti-establishment stem aan die jong Afrikaners te gee wat nog moes diensplig doen en die eerste generasie sou wees wat die wrang vrugte van die mislukking van Apartheid sou pluk, is Fokofpolisiekar 'n eengroepbeweging wat die Afrikaner jeug wat meer as 10 jaar na Voëlvry hulself midde in die nuwe Suid-Afrika bevind het, waar hulle nou werklik die outsiders was en nog nie heeltemal aanvaar en vergewe was vir die sondes van hul voorouers nie, en na 'n profeet gesoek het om die pad uit die kulturele wildernis aan te dui, gelei het na 'n nuwe begrip en nuwe trots in hul moedertaal en gewys het dat Afrikaans selfs met rowwe musiek vereenselwig kan word en dat boerepop nie die enigste uitdrukking van populêre Afrikaanse musiek hoef te wees nie.

Ek moet beken dat ek waarskynlik te oud was vir die meelewing van hierdie fenomeen. In 2003 het ek lank nie meer rock gigs bygewoon nie, hoofsaaklik as gevolg van gebrek aan vervoer, alhoewel ek toe reeds moeite gedoen het om Suid-Afrikaanse rock te versamel. Ek het van Fokofpolisiekar in die SA Rock Digest gelees, verneem dat hulle 'n gig gaan speel om hul nuwe CD bekend te stel en die volgende dag na Mabu Vinyl gegaan om die mini-album te koop.

Ek hou van punk en het op daardie stadium reeds 'n goeie versamelinkie Suid-Afrikaanse punk gehad, alhoewel dit waarskynlik die spreekwoordelike punt van die ysberg was. Onder andere was daar die enigste albums van New World Inside, 7th Breed en Neshamah, synde punk groepe uit Bellville wat op 'n manier voorlopers van Fokofpolisiekar was, alhoewel ek dit nie destyds geweet het nie.

Die musiek op daardie debuur CD, As Jy Met Vuur Speel, Sal Jy Brand, was inderdaad puik in die siedende woede en energie en musikaliteit. Die lirieke was nogal woordryk en geartikuleerd, meer as wat ek sou verwag het en absoluut anders as jou tipiese Afrikaanse popmusiek. Die kêrels het afgepis geklink en was nie skaam om dit luidkeels en met omhaal van woorde te verkondig nie.

Nie lank daarna nie het ek van my vriendin Emma, toe in haar vroeë hoërskooljare op Wellington, verneem dat hierdie debuut album werklik hip en cool is en aangesien Emma nie Afrikaanssprekend is nie, dog nie net geweet het wie Fokofpolisiekar is nie, maar klaarblyklik die musiek waardeer het, was dit vir my 'n teken dat hierdie groep iets moes hê wat spreek tot meer as net die Afrikaanse jeug. En dit was blykbaar so. Ek vermoed dat Koos Kombuis in sy Niemandsland … en Beyond jare ook aanhangers getrek uit beide die Afrikaanse en Engelse kampe omdat die musiek, en die houding wat daarmee gepaard gegaan het, deur taalgrense gebreek het.

In 2003 het ek egter so baie musiek gekoop en na so baie verskillende musiek geluister dat Fokofpolisiekar nie 'n wesenlike groot impak op my gemaak het nie. Dit was heel gawe, luide ruk en rol, maar dit was vir my net nog een groep tussen baie en omdat ek nooit die lewendige optredes bygewoon het nie, het ek geen idee gehad van hoe populêr die groep was nie. Vir al wat geweet het, sou hulle so vinnig verdwyn soos menige ander hoopvolle groepe wat vir 'n jaar of twee bietjie hype kry en dan ondergaan as gevolg van gebrek aan volgehoue belangstelling. Die naam, so het ek vermoed, sou die belangrikste nalatenis van die groep wees. Dit was 'n "in your face" soort van fok jou boodskap aan alles wat establishment was.


 

Ek het hier en daar die Fokofpolisiekar storie in die pers gevolg, maar omdat ek nie gereeld koerant gelees het of werklk my vinger op die pols poog hou het nie, het ek baie karige inligting ontvang. Ek het geen verdere van hul vrystellings gekoop nie. Omtrent die eerste keer dat ek weer kennis geneem het van die groep was met die vrystelling van die Monoloog in Stereo mini-album waar hulle kwansuis nou meer rustig en "unplugged" geraak het en meer tradisionele melodiese rock gespeel het Ek het die titelsnit iewers op die radio gehoor en gedink dis nogal oulik dat die manne met meer gevoel en minder volume kon speel, maar Francois van Coke se sengstyl en die tipe melodieë wat die groep gebesig het, het my steeds nie juis aangestaan nie.

Iewers tussen 2005 en 2010 het ek kort na mekaar die tweede album, Lugsteuring (2004), en ook die daaropvolgende mini-album, Monoloog in Stereo, by 'n Groentemarkplein vlooimarkstallejie gekoop. Ek het een of twee keer na Lugsteuring geluister en was nie beïndruk nie en het tot onlangs nog nooit na die CD van Monoloog in Stereo geluister nie. Dit was hoofsaaklik te wyte aan persoonlike omstandighede dat ek nie meer kans gehad het om die musiek te internaliseer nie. Ek kry eenvoudig net nie meer tuis die kans om so baie na musiek te luister as wat eens die geval was nie en omdat ek steeds baie musiek koop, kan ek dikwels net een of twee keer na iets luister voor ek aanbeweeg na die volgende aankoop.

In laat 2010 het ek die geleentheid gekry om al die albums te bekom, tot by Antibiotkia (2008) en met meer aandag daarna te luister, veral nadat ek die dokumentêre rolprent gekyk het en my belangstelling weer wakker gemaak is.

Daar is eintlik twee video dokumentêre oor Fokofpolisiekar. Die eerste een is deel van die Bellville Rock City CD met DVD album wat in 2008 vrygestel is om te dien as versameling van, en oorsig oor, die sogenaamde Bellville groepe wat veral na Fokofpolisiekar bekend geraak het. In die DVD word die geskiedenis van die Noordelike voorstede se punk musiektoneel gegee en dit is 'n beter, meer volledige geskiedenis van die wortels van Fokofpolisiekar as wat op die amptelike dokumentêr gegee word en dit is 'n fassinerende blik op 'n ondergrondse scene in 'n Afrikaanssprekende omgewing waar punk en godsdiens saamgeloop het en waar die aanvanklike impuls was om eerder in Engels te sing omdat dit meer cool was as Afrikaans, in elk geval totdat Fokofpolisiekar sy deurbraak gemaak het. Nou kan mense nie voorbly met die Afrikaanse rockgroepe nie. En dan is daar ook nog Jax Panic en Jack Parow wat ook uit daardie omgewing kom en heel ander musiek maak.

Die amptelike dokumentêr is blykbaar in rolprentteaters vrygestel alhoewel ek nooit die kans gehad het om dit te gaan kyk nie. Ek neem aan die idee was om iets soos 'n landswye toer van die rolprent te reël vir maksimum blootstelling van iets nuuts in Suid-Afrika, die vollengte dokumentêr oor 'n spesifieke groep. Ek dink nie eens daar was so-iets vir, byvoorbeeld, die Springbok Nude Girls, die grootste plaaslike rock groep van die jare na 1994 tot omtrent die draai van die eeu, of selfs The Parlotones nie.

Die ongelukkigheid met die dokumentêr is dat dit voel asof daar te veel pratende koppe is, al is die stories en insigte soms interessant en insiggewend, en te min ander bronnemateriaal. Daar is nogal heelwat beeldmateriaal wat lyk soos home movies, maar klaarblyklik nie genoeg wat spesiaal geskiet is vir iets soos hierdie projek nie en ver te veel analise van wat die groep kultureel gesproke beteken het, vir die musikante self en na bewering in die wyer samelewing.

Iets waaroor die dokumentêr swyg, soos die uiteenlopende oorspronge, is dat die groep nou min of meer dormant is, of (soos die Springbok Nude Girls) slegs nog as groep optree wanneer daar spesiale aanvraag is, en dat daar nou aKing, Van Coke Kartel en Die Heuwels Fantasties is wat almal een of meer lede met Fokokpolisiekar in gemeen het. Verder is daar niks oor die langtermyn impak wat die groep op die plaaslike musiektoneel gehad het as invloed op 'n nuwe generasie musikante wat deur hierdie baanbrekers oortuig is dat hulle net so hard kan rock as enige van hul internasionale musiekhelde en steeds in Afrikaans kan sing. En dat daar 'n hele beweging is van jong sangers wat net soos Francois van Coke klink, tot die mate dat baie van die groepe inderdaad nes mekaar klink, sonder duidelike onderskeiding.

Die musikale reis van Fokofpolisiekar het gegaan van 'n vertrekpunt van rou punk, met woede, tot 'n meer algemeen standaard moderne rock klank, steeds met woede, dog 'n woede wat ietwat meer berekend is as die blinde gefrustreerde ergernis waarmee hulle begin het. Ek neem aan hierdie musikante, en waarskynlik die nuwe generasie wat 7 jaar gelede skaars in die hoërskool was, het nuwe berusting in hul plek in die wêreld gevind. Die monolitiese Afrikaner oorheersing waarmee die ouer geslag groot geword het, is lank nie meer met ons nie, maar die Afrikaanse taal blyk nog te gedy, al is dit in plekke en onder mense wat voorheen onaanvaarbaar sou gewees het vir hoge kultuur. Daar is 'n sterk stroom van Afrikaanse rap, en dis nie net Jack Parow nie, daar is te veel middle of the road Boerepop om goed vir ons te wees, en daar is ook na my mening te veel middelmatige Afrikaanse rock.

Een van die stories in die dokumentêr gaan oor hoe Wynand Myburgh die frase "fok God " op 'n tiener se beursie geskryf het en hoe dit nie net tot 'n media storm gelei het nie, maar ook tot pogings deur al wat Afrikaanse kerk is om Fokofpolisiekar te boikot en te gysel. Ongelukkig vir die kerk is die huidige regering nie meer so simpatiek oor interne Afrikaner struwelinge nie, maar dat daar so 'n algemene veldtog kon wees, spreek nog boekdele oor hoe min sekere dele van die gemeenskap verander het en oor hoe militant en aktivisties kerkmense nog steeds kan wees teenoor enigiemand wat durf waag om radikaal met hulle te verskil.

Ek het niks geweet van hierdie kontroversie toe dit losgebars het nie, maar om nou daarvan te hoor, verstom my en onderstreep weereens vir my hoekom ek anti-godsdiens is en hoekom ek sedert my jongste jare myself so ver moontlik van Afrikanerwees wou verwyder.

Dit blyk dat Fokofpolisiekar een van die belangrikste rock groepe is wat ooit in Suid-Afrika verskyn het, en dit is nogal treffend dat hulle, en selfs Koos Kombuis of Springbok Nude Girls almal Afrikaanssprekend is, wat betref die invloed wat hulle op die plaaslike musiektoneel gehad het. Na Fokofpolisiekar was alles anders. Dit het lank gevat vir hulle konsep om tot lewe te kom en nou is dit idee onkeerbaar en alomteenwoordig.