Friday, March 11, 2011

Kerneels Breytenbach

Kerneels Breytenbach was op sy dag die hipste Afrikaanse rockmusiek kritikus in Suid-Afrika. Sover dit my aangaan, was hy waarskynlik in 'n klas van sy eie. Hy, en die ou wat die Hobnailed Tekkie Show op Radio Goeie Hoop aangebied het, was soos oases in 'n uiters dor kulturele omgewing.

Die Suid-Afrika en veral Stellenbosch waarin ek grootgeword het was kultureel agterlik, uit my perspektief gesien aangesien ek seker is dat vele aanhangers van hoge kultuur sou beweer dat die kulturule elite goed ingelig was oor wat in die wêreld gebeur het en enige tyd met enige ander kultuurfundi kon saampraat. Die agterlikheid wat my getref en gepla het, het meer oor populêre kultuur gegaan en spesifiek pop en rock musiek. Dit was so erg dat selfs die eienaar van Sygma Records op Stellenbosch in 1977 nie geweet het, of onkunde geveins het, wie die Sex Pistols of The Clash was nie. Tussen 1977 en 1981 het ek aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer, het vir die eerste keer in my lewe my eie hoëtroustel gehad en genoeg geld verdien as studentewerker om 'n wesenlike plateversameling op te bou. My eerste keuse was blues, maar daar was ook 'n mengsel van New Wave, klassieke rock, reggae, mbaqanga, funk en totale obskure albums wat ek gekoop het bloot omdat hulle goedkoop op plate uitverkopings gevind kon word en interessant gelyk het.

Oor die algemeen het ek meer geweet van die geskiedenis van rock musiek deur wat ek gelees het as deur na die musiek te luister. Aan die een kant was baie min van die plate van die punk en New Wave groepe oor wie ek in NME gelees het in Stellenbosch beskikbaar en wanneer ek in Kaapstad was, het ek eerder soveel goedkoop plate as moontlik gekoop as om een of twee kontemporêre albums te koop. Hier en daar het ek wel nuwe vrystellings gekoop, maar dit was hoofsaaklk die uitsondering op die reël. Ek het ook begin om sover ek kon die klassieke albums van Cream, Bob Dylan, Led Zeppelin, Blue Oyster Cult, Aerosmith, en sulkes te koop en allerlei versamelings van die Rolling Stones en Jimi Hendrix en andere. My musiekversameling was uiteenlopend om die minste te sê.

Ek het ook begin om boeke oor rock musiek te koop en het elke week die NME gekoop om op hoogte te bly van wat op die Britse rockmusiekfront gebeur, al was daardie nuus altyd ten minste drie maande oud. As ek reg is, is die NME per posboot na suid-Afrika versend. Ek het tot omtrent 1979 nog na Radio 5 geluister totdat die disco musiek wat hul stapelvoedsel was my totaal die moer in gemaak het en ek eerder na die meer opwindende mbaqanga van Radio Xhosa geluister het. Op televisie was daar net Pop Shop om een keer per week vir ons 'n klein hoeveelheid pop video's te bied en al was dit pateties was dit beter as niks.

Die twee groot plaaslike musiekverwante wonderlikhede wat vir my soos goedbewaarde geheime was, was die Hobnailed Tekkie Show wat Saterdae op Radio Good Hope uitgesaai is en waar 'n besonder puik verskeidenheid van nuwe musiek gehoor kon word, en Kerneels Breytenbach se musiekrubriek, toevallig ook op Saterdae, in die Byvoegsel tot Die Burger se Saterdag uitgawe.

Die Burger was die enigste Afrikaanse dagblad in Kaapstad, was een van die steunpilare van die Nasionale Party en was dus basies konserwatief in sy uitkyk en in sy dekking van kulturele aangeleenthede. Ek het altyd gewonder hoe Kerneels Breytenbach die Burger se redakteur oorreed het om hom toe te laat om 'n weeklikse rubriek oor rockmusiek te skryf. Moontlik het die Burger gevoel hulle moet 'n jonger lesergroep werf, moontlik het Breytenbach die redakteur wys gemaak dat menige jong werkende Afrikaner net so in rock musiek geïnteresseer is as enige soortgelyke jong mense elders in die land en die wêreld.

Oor die algemeen was Afrikaanse kultuur nie juis ingestel om rock musiek as aanvaarbaar te beskou nie. Daar was aan die een kant hoge kultuur en aan die ander kant 'n besonder basiese populêre plat Afrikaanse kultuur, maar daar was nie veel rock daarby nie. Die boere het van boerremusiek, country en ballades en sulke goed. Die Afrikaanse radio diens het geen rock uitgesaai waarvan ek geweet het nie; daar was slegs 'n weeklikse joernaalprogram gemik op die jeug wat uitsluitlik Afrikaanse pop uitgesaai het en gemaak het of dit iets groot was. Gegewe wat vandag die stand van sake is met Afrikaanse popmusiek kon die treffers van die Sewentigerjare en Tagtigerjare moontlik wel groot byval gevind het onder 'n groep Afrikaanssprkendes waarvan ek nie deel was nie.

Die ding is: onder 'n seker groep ouer Afrikaners, soos politici, dominees en onderwysers was daar nog steeds die nonsensikale agterdog en verstandhouding dat rockmusiek satanisties en waarskynlik kommunisties geïnspireerd was en gemik was op die ondermyning van die jeug se sedes en die mag en gesag van die staat, kerk en skoolsisteem. Rockmusiek was dus met agterdog bejeën en ons joneliede is ernstig daarteen gewaarsku.

Dit was in hierdie woestyn dat ek op die oase van Kerneels Breytenback se Saterdag rubriek afgekom het. Ek het tans geen idee wanneer sy rubriek begin het nie, maar dit was iewers tussen 1977 en 1981 dat ek kennis geneem het daarvan en dit begin volg het. Breytenbach se rubriek was absoluut 'n rede om elke Saterdag die Byvoegsel te lees.

Ek het vermoed dat Breytenbach ook die NME gelees het, en waarskynlik ander Britse musiekpublikasies en moontlik ook Rolling Stone en dalk ook 'n versameling boeke oor rockmusiek gehad het. Dit het geblyk dat ons musieksmake heelwat ooreengestem het, al was daar geen teken dat hy van blues gehou het nie, en al was sy smaak waarskynlik effens meer middel of the road as myne, soos wat uit sy artikels geblyk het. Kerneels Breytenbach was op 'n manier die Chris Prior van joernalistiek.

Die rubriek het 'n volle bladsy beslaan en het gewoonlik uit twee dele beslaan. Die eerste, meer gewigtige, deel was 'n artikel oor 'n spesifieke onderwerp, hetsy 'n geskiedenis van Beatles bootlegs, klassiek albums van die Sewentigs, resensies van nuutvrygestelde albums, of iets anders wat van belang was in musiek. Die tweede deel van die bladsy was 'n soort van skinderrubriek met korter, meer gevatte stukkies nuus en spot. In hierdie deel het Breytenbach die fiktiewe groep Jan van Riebeeck and the 1820 Settlers geskep en my gereeld vermaak met berigte oor hul manewales en vrystellings. Dit was gewoonlik baie snaakse fyn spot.

Breytenbach het ook elke jaar toekennings gegee vir die beste en slegste gebeure van die jaar (baie op die lees van die soortgelyk ding wat NME elke jaar gedoen het) waarin hy gereeld die Somme Sonder Sukkel prys vir die SAUK gegee het wat buite proporsie te veel tyd aan klassieke musiek afgestaan het teenoor popmusiek wat 'n slegte derde was na populêre ligte musiek. Die punt was dat meer mense na pop- en rockmusiek luister as wat na klassieke musiek luister en dus behoort laasgenoemde heelwat minder lugtyd te kry. Breytenbach het ook gereeld vir artieste soos Cora Marie 'n klap gegee omdat hy haar musiek, veral die woorde, met 'n mate van afgryse en minagting bejeën as synde die laagste vlak wat Afrikaanse kultuur kon bereik.

Aan die ander kant het Breytenbach baie tyd gehad vir Anton Goosen en veral sy eerste 4 albums. Hy het hulle breedvoerige en gunstige resensies gegee en my so beïnvloed dat ek mettertyd al 4 gekoop het.

Ander artikels wat altyd by my gebly het, was: 'n tweeledige stuk oor bootlegs, waarin hy onder andere geskryf het oor Beatles musiek wat tot op daardie stadium nog nooit vrygestel was nie en tans in die Anthology reeks beskikbaar is, en 'n artikel oor die beste onbekende albums van die Sewentigs.

In die 5 jaar van my universiteitsloopbaan het ek 'n plakboek gehou van uitknipsels uit die NME (al die resensies, artiekls, foto's en amusanthede wat ek wou behou sonder om die hele NME uitgawe self te bewaar) en ander rock tydskrifte en ek het ook gou-gou Kerneels Breytenbach se artikels daarin geplak. Ek het hier en daar stukkies uit Rapport uitgeknip, soos 'n stuk oor die musikaliteit van "Stairway to Heaven," maar Breytenbach se werk in die Byvoegsel was merendeels die anigste Afrikaanse inhoud van die plakboeke, ten minste tot omtrent 1984 toe ek agtergekom het dat hy 'n popmusiekrubriek vir die weeklikse tydskrifte Huisgenoot / You behartig en kort albumresensies geskryf het, wat ek toe ook begin uitknip het vir my plakboek.

As daar enige regvedigheid in die lewe is, sou daar alreeds 'n gepubliserde bundel wees van Breytenbach se beste stukkies, veral oor plaaslike kunstenaars, soos die versamelde werke van Charles Shaar Murry, Nick Kent of Lester Bangs. Kerneels Breytenbach pas enige tyd in hierdie geselskap en al is sy opinie oor, byvoorbeeld, Ry Cooder, nie vir my so dwingend nie, moet die artikels oor Anton Goossen, David Kramer of Cora Marie bewaar word vir die nageslag sodat daar 'n rekord kan wees van wat op die plaaslike musiektoneel aangegaan het in wat waarskynlik altoos beskou sal word as die wildernisjare van populêre Suid-Afrikaanse, en veral Afrikaanse, musiek toe hoge kultuur hooogty gevier het ten koste van populêre musiek van hoër kwaliteit as die sokkie-sokkie boerejol of sentimentele tos country wat so algemeen beskikbaar was.

Kerneels Breytenbach se weeklikse rubriek was 'n baken van die helderste lig in die donker waarin ek gevoel het ek leef en was 'n rede om aan die lewe te bly en dit deur die week te maak. Daardie tipe ligpuntjie was skaars in my lewe en ek het dit intens waardeer dat daar tog iemand wat wat in geskrewe Afrikaanse bevestig het wat ek oor musiek gedink het en my laat besef het dat my ervaring daarvan gelukkig nie geïsoleerd en uniek was nie.

Kerneels was goed ingelig, geartikuleerd, amusant en ons het 'n musieksmaak en, tot 'n mate, 'n wêrelduitkyk gedeel. En amper dieselfde noemnaam. Wat meer kan mens vra?


 


 


 


 

Monday, January 03, 2011

Radio Houtstok

Vroeg in 2010 het ek die reünie van my vrou se Hoërskool De Kuilen se Matriekklas van 1990 bygewoon, en in November 2010 was ek 'n gas by haar jongste broer se troue en onthaal in die Gouritzmond omgewing. In beide gevalle was die teenwoordiges oorweldigend Afrikaanssprekend. By beide geleenthede het die persoon wat die musiek verskaf het as MP3's van 'n laptop af gekonsentreer op kontemporêre Afrikaanse danspopmusiek en dit het groot byval gevind. Veral by die onthaal het die gaste eerder op die maat van die doef-doef klanke van boerepop gedans as op enige ander internasionale musiek.

Ek het 'n wesenlike versameling Afrikaanse rock musiek. Ek het in die laat Sewentigs begin met Anton Goosen se eerste 4 vrystellings en die versameling hervat met Piet botha se 'n Suit Case Vol Winter en Karen Zoid se debuutalbum. My voorkeur is vir rock musiek en dus pas die Afrikaanse musiek wat ek koop en waarna ek graag luister in daardie verskyningsvorm van musiek. Die tipiese boerepop van Kurt Darren, Nicholis Louw, Bobby van Jaarsveld, Lianie May, Nadine, en al die menige diesulkes wie se name ek nie eens ken nie, val nie in my smaak nie. Ek sou nie daarna luister as dit uit die buiteland afkomstig was nie en ek gaan wragtag nie daarna luister bloot omdat dit in Afrikans is nie.

Hierdie nuwe Afrikaanse pop is klaarblyklik gemik op 'n laagste gemene deler en daar is 'n nadruk op dansbare Tagtigs-styl diskoritmes en die mees banale van lirieke. En daar is so baie daarvan! Soms kom dit my voor of elke presenteerbare jong Afrikaanse seun of meisie met sangambisie 'n CD kan vrystel en een of ander soort van vermaaklikheidsloopbaan kan volg. Blykbaar is die volk lojaal teenoor hul kunstenaars. As jy in Afrikaans sing en jou gehoor gelukkig hou en nie te veel droog maak nie, kan jy verseker 'n goeie bestaan uit jou musiek maak.

Ek het die eerste keer van hierdie fenomeen kennis geneem in Oudtshoorn by die 2005 KKNK waar ek en my vrou vir die dag gaan rondloop het. Orals waar mens beweeg het, te voet of per motor, het, was daar luide Afrikaanse sokkie musiek, die een liedjie so erg tos soos die ander en almal het min of meer dieselfde geklink. My idee van kief Afrikaanse musiek is Koos Kombuis se vroeë vrystellings, ditto vir Valiant Swart, Karen Zoid se debuut album, Jan Blohm, Skallabrak, Gian Groen, selfs Robbie Wessels, Klopjag, Die Melktertkommissie, Ddisselblom, Zinkplaat, ensomeer. Hierdie wydverspreide Afrikaanse sokkie doef-doef pop was nuus vir my en ek het onmiddellik 'n hekel daaraan ontwikkel. My renons het oor die jare heen nie verminder in intensiteit nie.

Nou is daar selfs 'n radiostasie, Radio Houtstok, wat uit die Big Bay omgewing van Blaauwbergstrand uitsaai, wat toegewy is aan hierdie tipe Afrikaanse musiek. Die slagspreuk is "Afrikaans Met Vlerke." Klink of hulle 'n skalkse verwysing na die Red Bull slagspreuk "It Gives You Wings" wil maak en vir ons vertel dat die taal nie net sweef en vry is nie, maar een of ander pick met up is na 'n kulturele babelaas.

Toe ek die eerste keer van Radio Houtstok gehoor het, is dit aan my bekend gestel as 'n Afrikaanse rock stasie en alternatief tot iets soos Kfm 94.5 in die Kaap. Dat dit 'n alternatief tot Kfm is, is nie te betwyfel nie aangesien hierdie Kfm ver weg beweeg het van sy oorsprong as Radio Kontrei in die vroeg-Negentigs toe dit wel soort van 'n Afrikaanse teenvoeter was vir Good Hope FM. Radio Houtstok is egter glad nie 'n rock radio stasie nie, in elk geval nie in die dagligure nie. Dan praat die aanbieders besonder baie, sommige klaarblyklik oorweldig deur hul eie persoonlikhede, en lees gelukwensende en bewonderende SMS boodskappe van luisteraars en speel jou basiese Afrikaanse sokkie Boere pop. My vrou luister daarna in die kar mdat sy nie enige ander radiostasie kan veel nie, maar op sy manier is Radio Houtstok net so erg as Kfm in die lae vlak van musiekkwaliteit wat die luisteraar gebied word. Die ontstellende gewaarwording, egter, is dat ek moontlik in 'n minderheid is in my opinie hieroor. Klaarblyklik is daar 'n luisteraarmark vir hierdie tipe musiek en aanbieding.

Behalwe die simpel musiek is daar die kwessie van die taal. Vir sogenaamde Afriknaase pop gebruik die aanbieders en artieste darem al te veel Engels. Daar is blykbaar 'n onverbiddelike reël dat mens nie na 'n liedjie as 'n liedjie of lied mag verwys nie, maar dat jy verplig is om die Engelse woord "song" te gebruik, selfs in die titel van jou lied. Valiant Swart is al lankal hieraan skuldig, so ook Jan Blohm of Gian Groen, en nou is dit 'n plaag. Wicus van der Merwe gaan so ver as om te praat van 'n "songkie." Of is dit sonkie? Is daar een of ander konseptuele verskil tussen 'n liedjie en 'n song? Is ek net eenvoudig te oudmodies om te dink dat keurige Afrikaans tog nie so sleg is nie? Miskien moet ons steeds skryf soos ons praat, maar ek dink tog ons met eerder beter praat as om in die swak styl van taalvermenging te verval. Andersins sal ek liewer Afrikaans los en net Engels praat.

Op Nuwejaarsdag 2011 het ek na 'n oorsig oor die jaar se luisteraargunstelinge op Radio Houtstok geluister en twee goed het my opgeval. In die eerste plek is die musiek oorwegend so swak dat ek nie kan verstaan hoekom enigiemand die liedjies sou vrystel nie, en nog minder hoe hulle luisteraargunstelinge kon geword het. Die tweede ding was dat nie minder nie as 3 liedjies (amper in 'n ry) uit die handjievol waarna ons geluister het, Engelse titels gehad het. "My Angel Face", Baby. Baby", "Playboy Bunny." "Plain Jane" (toevallig die beste liedjie van die lot) en "Party", en ek is seker daar is vele meer. Lianie May se liedjie met die woorde: "honey, honey, ek is jou Playboy bunny / ek voel so funny as jy aan my wil raak / ek is meer werd as money", moet een of ander laagtepunt in sogenaamde Afrikaanse liriekskrywe wees.

In die vroeg-Tagtigs het Kerneels Breytenbach 'n rock en pop musiek rubriek gehad in die Saterdag Byvoegsel tot die Burger dagblad en het by geleentheid dodelik gespot met die woorde van die liedjies van ene Cupido, wat onder andere Afrikaanse country liedjies vir Cora Marie geskryf het. En daardie liedjies was in suiwer Afrikaans alhoewel miskien effens geforseerde Afrikaans. Waar is Kerneels vandag om net so venynig te wees oor die huidige groepie liedjieskrywers?

Die algemene Afrikaanse gemeenskap is nie my mense nie en ek het min met hulle in gemeen, hoofsaaklik die feit dat ek Afrikaans goed kan praat, en blykbaar suiwerder praat as die gemiddelde Boer. Die gemeenskap is egter groot en die taal is waarskynlik so sterk as wat dit ooit was, selfs sonder veel amptelike beskerming. Dit is nog Afrikaans op die SABC, waar 7de Laan steeds een van die mees populêre sepies is. Daar is KykNet wat slegs Afrikaanse programme uitsaai, en nogal nuwe programme boonop, en daar is MK wat oorwegende Afcikaanse musiek uitsaai. Die Afrikaanse uitgewerswese floreer steeds. En les bes, daar is amper te veel Afrikaanse musiek om na te luister, van die meer verhewe, ligte luisterliedjie tot rap en rock en die aakligheid wat die genre waarvan "Baby Tjoklits" 'n uitstekende voorbeeld is.

Nugter weer hoe al die Afrikaanse popkunstenaars 'n bestaan kan maak. As almal gedurig toer, moet die platteland een warboel van optredes wees. Mens vermoed daar is elke aand in selfs die kleinste dorpie iewers 'n Afrikaanse popmusiekkunstenaar wat die plaaslike bevolking vermaak met luimigheid en patos. En nog beter, elkeen van hulle kan 'n CD opneem en by hul optredes verkwansel of miskien in plattelandse supermarkte plaas of sommer net oor die Internet verkoop. Soms blameer ek die digitale revolusie vir hierdie feit van die lewe.

Dit is na hierdie gehoor, ten minste in die omgewing van die Kaapse Skiereiland, waarna Radio Houtstok mik. Die aankondigers klink jonk en entoesiasties, daar is 'n paar dames en selfs een "Bruin ou" en almal klink soms te erg opgemaak met hulself. Ek neem aan hulle lees graag die luisteraar SMS'e, nie net om hul eie egos te streel nie, maar ook om diegene wat wel ingeskakel het gerus te stel dat hulle nie die enigste luisteraars is nie; dat daar vele meer is wat bankvas agter Afrikaanse popradio staan.

Natuurlik ondersteun ek rock radio en selfs Afriknaase rock radio, maar Radio Houtstok is nie dit nie en is vir my 'n wesenlike teleurstelling. Dit dien slegs die doel om vir my te bewys hoeveel totale tos Afrikaanse musiek daar is. Ek sal nie uithou om 'n volle dag lank daarna te luister nie. In elk geval praat die aankondigers gans te veel. Miskien kan hulle net genoeg musieklisensiegeld bekostig om 45 minute per huur se musiek te speel. Ten minste is daar geen tos musiek wanner die mense praat nie.

My ideale plaaslike radiostasie was Radio 2000 in die jare 2000 tot omtrent 2004, toe daar saans 'n stroom goeie rock musiek, beide internasionaal en plaaslik, was met geen aankondigers nie. Dit was net musiek en musiek wat in my kraal gepas het.

Radio Houtstok is nie my idee van die beste radiostasie ooit nie. Dit is vir my 'n bitter pil dat die vlerke wat die radiostasie na bewering aan die taal gee, veroorsaak dat die lae gemene deler se smaak bevredig word en nie myne nie. Daar is wel baie goeie, opwindende en interessante Afrikaanse rock musiek wat ook radio blootstelling verdien en as daar 'n uitsender is wat dit doen, sal ek daar wees. Tot dan, is dit adios Radio Floustok.

Fokofpolisiekar

Die dokumentêre rolprent oor Fokofpolisiekar (Forgive Them For They Know Not What They Do) begin met 'n vrouestem wat in Engels vir ons vertel wat dit is, of was, om Afrikaner te wees terwyl ons beeldmateriaal sien van die "ou" Suid-Afrika waarin, so neem mens aan, die lede van Fokofpolisiekar grootgeword het of ten minste die soort van Suid-Afrika wat hulle beïnvloed en gevorm het al was dit bloot omdat hulle ouers in daardie sisteem geglo het en hulle in die middelste van middelklas Afrikaner buurte, naamlik Bellville en omstreke, grootgeword het.

Ek moet net terloops hier meld dat vir 'n groep wat in sulke suiwer Afrikaans sing soos wat aangedui word in die rolprent, is dit vreemd dat die onderhoude met omtrent almal, selfs die lede van die groep, in Engels is. Dit is net Johnny de Ridder wat nog bietjie Afrikaans praat. My vermoede is dat die taalkeuse Engels is omdat die rolprentmaker Engelssprekend is en dus onderhoude in Engels gevoer het en/of omdat die teikenmark vir die rolprent 'n betekenisvolle Engelssprekende gehoor, hetsy in Suid-Afrika of elders, insluit en dat Afrikaanse onderhoude met vertaalde onderskrifte te veel moeite sou gewees het of moontlik produksiekoste onnodig hoog gemaak het. Die taalkeuse van 'n dokumentêre rolprent oor moontlik die belangrikste en invloedrykste Afrikaanse rock groep van die afgelope dekade, indien nie ooit nie, bly egter 'n steurende faktor.

Die basiese vooropstelling van die inleiding tot die Fokofpolisiekar storie is blykbaar dat Afrikaners onseker was van hulself, ten spyte van 'n sekere brawade, en nie 'n plek in die wêreld gehad het nie, wat nog te sê hulle eie land, ten spyte van die jarelange hegemonie wat Nasionale Party, NG Kerk en Christelik-Nasionale opvoeding uitgeoefen het. Ek dink die meer akkurate opsomming is dat dit juis die geslag is wat tussen 1990 en 1994 gematrikuleer het wat so onseker was van hul plek in die wêreld. Hulle ouers en grootouers het waarskynlik nie werklik daardie probleem gehad nie omdat hulle gerus was in die versekering dat hulle vir ewig Suid-Afrika sou regeer en veilig hou vir die Witmens en spesifiek die Afrikaner.

Ewenwel, Fokofpolisiekar het gekom om hul generasie nuwe hoop te gee, of so-iets, omdat hulle die mense was wat getoon het dat Afrikaanse punk rock tog gedoen kan word en ook suksesvol gedoen kan word. Ek neem aan die naam het gehelp om die rebelse jeug se aanhang te verseker, plus natuurlik die rou, energieke, gatskop punk rock wat nou maar eenmaal outsider musiek is wat te luid is vir mense wat te oud is.

As ek die storie reg verstaan, is die aanspraak dat waar Voëlvry die eerste deurbraak gemaak het in die struggle jare om 'n politieke en anti-establishment stem aan die jong Afrikaners te gee wat nog moes diensplig doen en die eerste generasie sou wees wat die wrang vrugte van die mislukking van Apartheid sou pluk, is Fokofpolisiekar 'n eengroepbeweging wat die Afrikaner jeug wat meer as 10 jaar na Voëlvry hulself midde in die nuwe Suid-Afrika bevind het, waar hulle nou werklik die outsiders was en nog nie heeltemal aanvaar en vergewe was vir die sondes van hul voorouers nie, en na 'n profeet gesoek het om die pad uit die kulturele wildernis aan te dui, gelei het na 'n nuwe begrip en nuwe trots in hul moedertaal en gewys het dat Afrikaans selfs met rowwe musiek vereenselwig kan word en dat boerepop nie die enigste uitdrukking van populêre Afrikaanse musiek hoef te wees nie.

Ek moet beken dat ek waarskynlik te oud was vir die meelewing van hierdie fenomeen. In 2003 het ek lank nie meer rock gigs bygewoon nie, hoofsaaklik as gevolg van gebrek aan vervoer, alhoewel ek toe reeds moeite gedoen het om Suid-Afrikaanse rock te versamel. Ek het van Fokofpolisiekar in die SA Rock Digest gelees, verneem dat hulle 'n gig gaan speel om hul nuwe CD bekend te stel en die volgende dag na Mabu Vinyl gegaan om die mini-album te koop.

Ek hou van punk en het op daardie stadium reeds 'n goeie versamelinkie Suid-Afrikaanse punk gehad, alhoewel dit waarskynlik die spreekwoordelike punt van die ysberg was. Onder andere was daar die enigste albums van New World Inside, 7th Breed en Neshamah, synde punk groepe uit Bellville wat op 'n manier voorlopers van Fokofpolisiekar was, alhoewel ek dit nie destyds geweet het nie.

Die musiek op daardie debuur CD, As Jy Met Vuur Speel, Sal Jy Brand, was inderdaad puik in die siedende woede en energie en musikaliteit. Die lirieke was nogal woordryk en geartikuleerd, meer as wat ek sou verwag het en absoluut anders as jou tipiese Afrikaanse popmusiek. Die kêrels het afgepis geklink en was nie skaam om dit luidkeels en met omhaal van woorde te verkondig nie.

Nie lank daarna nie het ek van my vriendin Emma, toe in haar vroeë hoërskooljare op Wellington, verneem dat hierdie debuut album werklik hip en cool is en aangesien Emma nie Afrikaanssprekend is nie, dog nie net geweet het wie Fokofpolisiekar is nie, maar klaarblyklik die musiek waardeer het, was dit vir my 'n teken dat hierdie groep iets moes hê wat spreek tot meer as net die Afrikaanse jeug. En dit was blykbaar so. Ek vermoed dat Koos Kombuis in sy Niemandsland … en Beyond jare ook aanhangers getrek uit beide die Afrikaanse en Engelse kampe omdat die musiek, en die houding wat daarmee gepaard gegaan het, deur taalgrense gebreek het.

In 2003 het ek egter so baie musiek gekoop en na so baie verskillende musiek geluister dat Fokofpolisiekar nie 'n wesenlike groot impak op my gemaak het nie. Dit was heel gawe, luide ruk en rol, maar dit was vir my net nog een groep tussen baie en omdat ek nooit die lewendige optredes bygewoon het nie, het ek geen idee gehad van hoe populêr die groep was nie. Vir al wat geweet het, sou hulle so vinnig verdwyn soos menige ander hoopvolle groepe wat vir 'n jaar of twee bietjie hype kry en dan ondergaan as gevolg van gebrek aan volgehoue belangstelling. Die naam, so het ek vermoed, sou die belangrikste nalatenis van die groep wees. Dit was 'n "in your face" soort van fok jou boodskap aan alles wat establishment was.


 

Ek het hier en daar die Fokofpolisiekar storie in die pers gevolg, maar omdat ek nie gereeld koerant gelees het of werklk my vinger op die pols poog hou het nie, het ek baie karige inligting ontvang. Ek het geen verdere van hul vrystellings gekoop nie. Omtrent die eerste keer dat ek weer kennis geneem het van die groep was met die vrystelling van die Monoloog in Stereo mini-album waar hulle kwansuis nou meer rustig en "unplugged" geraak het en meer tradisionele melodiese rock gespeel het Ek het die titelsnit iewers op die radio gehoor en gedink dis nogal oulik dat die manne met meer gevoel en minder volume kon speel, maar Francois van Coke se sengstyl en die tipe melodieë wat die groep gebesig het, het my steeds nie juis aangestaan nie.

Iewers tussen 2005 en 2010 het ek kort na mekaar die tweede album, Lugsteuring (2004), en ook die daaropvolgende mini-album, Monoloog in Stereo, by 'n Groentemarkplein vlooimarkstallejie gekoop. Ek het een of twee keer na Lugsteuring geluister en was nie beïndruk nie en het tot onlangs nog nooit na die CD van Monoloog in Stereo geluister nie. Dit was hoofsaaklik te wyte aan persoonlike omstandighede dat ek nie meer kans gehad het om die musiek te internaliseer nie. Ek kry eenvoudig net nie meer tuis die kans om so baie na musiek te luister as wat eens die geval was nie en omdat ek steeds baie musiek koop, kan ek dikwels net een of twee keer na iets luister voor ek aanbeweeg na die volgende aankoop.

In laat 2010 het ek die geleentheid gekry om al die albums te bekom, tot by Antibiotkia (2008) en met meer aandag daarna te luister, veral nadat ek die dokumentêre rolprent gekyk het en my belangstelling weer wakker gemaak is.

Daar is eintlik twee video dokumentêre oor Fokofpolisiekar. Die eerste een is deel van die Bellville Rock City CD met DVD album wat in 2008 vrygestel is om te dien as versameling van, en oorsig oor, die sogenaamde Bellville groepe wat veral na Fokofpolisiekar bekend geraak het. In die DVD word die geskiedenis van die Noordelike voorstede se punk musiektoneel gegee en dit is 'n beter, meer volledige geskiedenis van die wortels van Fokofpolisiekar as wat op die amptelike dokumentêr gegee word en dit is 'n fassinerende blik op 'n ondergrondse scene in 'n Afrikaanssprekende omgewing waar punk en godsdiens saamgeloop het en waar die aanvanklike impuls was om eerder in Engels te sing omdat dit meer cool was as Afrikaans, in elk geval totdat Fokofpolisiekar sy deurbraak gemaak het. Nou kan mense nie voorbly met die Afrikaanse rockgroepe nie. En dan is daar ook nog Jax Panic en Jack Parow wat ook uit daardie omgewing kom en heel ander musiek maak.

Die amptelike dokumentêr is blykbaar in rolprentteaters vrygestel alhoewel ek nooit die kans gehad het om dit te gaan kyk nie. Ek neem aan die idee was om iets soos 'n landswye toer van die rolprent te reël vir maksimum blootstelling van iets nuuts in Suid-Afrika, die vollengte dokumentêr oor 'n spesifieke groep. Ek dink nie eens daar was so-iets vir, byvoorbeeld, die Springbok Nude Girls, die grootste plaaslike rock groep van die jare na 1994 tot omtrent die draai van die eeu, of selfs The Parlotones nie.

Die ongelukkigheid met die dokumentêr is dat dit voel asof daar te veel pratende koppe is, al is die stories en insigte soms interessant en insiggewend, en te min ander bronnemateriaal. Daar is nogal heelwat beeldmateriaal wat lyk soos home movies, maar klaarblyklik nie genoeg wat spesiaal geskiet is vir iets soos hierdie projek nie en ver te veel analise van wat die groep kultureel gesproke beteken het, vir die musikante self en na bewering in die wyer samelewing.

Iets waaroor die dokumentêr swyg, soos die uiteenlopende oorspronge, is dat die groep nou min of meer dormant is, of (soos die Springbok Nude Girls) slegs nog as groep optree wanneer daar spesiale aanvraag is, en dat daar nou aKing, Van Coke Kartel en Die Heuwels Fantasties is wat almal een of meer lede met Fokokpolisiekar in gemeen het. Verder is daar niks oor die langtermyn impak wat die groep op die plaaslike musiektoneel gehad het as invloed op 'n nuwe generasie musikante wat deur hierdie baanbrekers oortuig is dat hulle net so hard kan rock as enige van hul internasionale musiekhelde en steeds in Afrikaans kan sing. En dat daar 'n hele beweging is van jong sangers wat net soos Francois van Coke klink, tot die mate dat baie van die groepe inderdaad nes mekaar klink, sonder duidelike onderskeiding.

Die musikale reis van Fokofpolisiekar het gegaan van 'n vertrekpunt van rou punk, met woede, tot 'n meer algemeen standaard moderne rock klank, steeds met woede, dog 'n woede wat ietwat meer berekend is as die blinde gefrustreerde ergernis waarmee hulle begin het. Ek neem aan hierdie musikante, en waarskynlik die nuwe generasie wat 7 jaar gelede skaars in die hoërskool was, het nuwe berusting in hul plek in die wêreld gevind. Die monolitiese Afrikaner oorheersing waarmee die ouer geslag groot geword het, is lank nie meer met ons nie, maar die Afrikaanse taal blyk nog te gedy, al is dit in plekke en onder mense wat voorheen onaanvaarbaar sou gewees het vir hoge kultuur. Daar is 'n sterk stroom van Afrikaanse rap, en dis nie net Jack Parow nie, daar is te veel middle of the road Boerepop om goed vir ons te wees, en daar is ook na my mening te veel middelmatige Afrikaanse rock.

Een van die stories in die dokumentêr gaan oor hoe Wynand Myburgh die frase "fok God " op 'n tiener se beursie geskryf het en hoe dit nie net tot 'n media storm gelei het nie, maar ook tot pogings deur al wat Afrikaanse kerk is om Fokofpolisiekar te boikot en te gysel. Ongelukkig vir die kerk is die huidige regering nie meer so simpatiek oor interne Afrikaner struwelinge nie, maar dat daar so 'n algemene veldtog kon wees, spreek nog boekdele oor hoe min sekere dele van die gemeenskap verander het en oor hoe militant en aktivisties kerkmense nog steeds kan wees teenoor enigiemand wat durf waag om radikaal met hulle te verskil.

Ek het niks geweet van hierdie kontroversie toe dit losgebars het nie, maar om nou daarvan te hoor, verstom my en onderstreep weereens vir my hoekom ek anti-godsdiens is en hoekom ek sedert my jongste jare myself so ver moontlik van Afrikanerwees wou verwyder.

Dit blyk dat Fokofpolisiekar een van die belangrikste rock groepe is wat ooit in Suid-Afrika verskyn het, en dit is nogal treffend dat hulle, en selfs Koos Kombuis of Springbok Nude Girls almal Afrikaanssprekend is, wat betref die invloed wat hulle op die plaaslike musiektoneel gehad het. Na Fokofpolisiekar was alles anders. Dit het lank gevat vir hulle konsep om tot lewe te kom en nou is dit idee onkeerbaar en alomteenwoordig.


 


 


 


 


 


 


 

Tuesday, October 05, 2010

Voëlvry Op Die Verhoog

Was daar werklik 'n "Voëlvry Beweging"? Is dit werklik so legendaries en aardskuddend as wat mense na 20 jaar se afstand dink? Hoekom het Koos Kombuis net 21 blasye in sy eerste outobiografie daaraan toegewy en hoekom het hy tot 2008 gewag om 'n hele 200-bladsy boek daaroor die lig te laat sien, as dit so 'n belangrike aspek van sy lewe was en wat waarskynlik gehelp het om sy legende in konkreet te verewig? Hoekom het dit eweneens so lank geneem voor die vrystelling van Voëlvry: Die Toer, 'n CD met opnames van die optredes van die vernaamste lede van die toergeselskap: Die Gereformeerde Blues Band, Koos Kombuis en Bernoldus Niemand?

Natuurlik lyk baie gebeurtenisse met die 20/20 visie van nostalgiese herinnering asof dit veel meer gewig gedra het en veel meer belangrik was as die impak wat dit in werklikheid gehad op die algemene kultuur of breë samelewing, buiten die impak op die lewens van die deelnemers aan die gewaande legendariese gebeure.

Ek was een van die (neem ek aan) paar duisend mense wat die Voëlvry toer en fenomeen meegemaak het deur die bywoning van sommige van die konsertoptredes. In my geval was dit die optredes by die Drie Geuwels Hotel buite Stellenbosch en die Three Arts teater in Dieprivier, Kaapstad. Inderwaarheid, ek was twee keer by die Three Arts omdat daar in 1990 'n soort van Voëlvry II was, wat blykbaar Stellenbosch vermy het en direk na Kaapstad gekom het en wat 'n afgewaterde weergawe van die eerste toer was. Koos Kombuis was nie deel daarvan nie, en dit was moontlik slegs Die Gereformeerde Blues Band, wat vir my voorgekom as die kabaretkunstenaars wat ek die eerste keer vermoed hulle is, en 'n op die ou einde bloot die groep musikante was wat Johannes Kerkorrel begelei het in sy soeke na die herlewing van ou glorie, sonder dat hulle enigiets nuuts het om te sê. In 1989 was hierdie "nuwe"musiek iets soos revolusie; in 1990 was dit same old, same old.

Die eerste Voëlvry optredes was reuse pret, onder andere omdat dit iets nuut was in Afrikaanse musiek: groepe wat ten minste geklink het soos rock groepe. Behalwe vir Koos Kombuis, wat geklink het soos een ou met 'n kitaar, wat hy was.

Ek het in Kaapstad gewoon en was lank nie meer 'n student nie en ek het my ook nie juis vereenselwig met enige vorm van Afrikaanse kultuur nie, alhoewel ek genoeg aandag daaraan gegee het om kennis te neem van André Letoit as kortverhaalskrywer en die opkoms van die misterieuse Bernoldus Niemand. Ek het die alternatiewe kultuur tydskrifte Vula! en later Blitz gekoop en met aandag gelees. Ek het die koerante bestudeer om uit te vind watter plaaslike musikante in my omgewing speel en het hul optredes bygewoon. Ek het Ver Van Die Ou Kalahari, André Letoit se debuiut album op audiokasset gekoop by 'n Shifty Records stalletjie by die Groentemarkplein vlooimark, en by dieselfde stalletjie het ek The Kêrels, Live at Jameson's (The Chery Faced Lurchers), Ghoema (The Genuines) en Voëlvry gekoop. Ek het al hierdie mense se optredes in Kaapstad bygewoon. Musiek het vir my saak gemaak en plasslike musiek het vir my saak gemaak.

Die woordvindingrykheid van André Letoit se liedjies was bewonderenswaardig. Ek het vinnig tot die slotsom gekomdat hy 'n veel beter liedjieskrwyer is as wat hy digter is omdat sy talent gelê het, en steeds lê, in die saamflans van die eenvoudige spreektaal, deurspek met Engels soos wat die Afrikaner praat, en die gemaklike, en tog slim, gebruik van woorde en frases om lirieke te skep wat diep klink, en tog toeganklik is. Deels baie gevat en snaaks, deels pseudo-ernstig. Die aspek wat my die meeste gepla het en daadwerklik teen die bors gestuit het, was die "Boer in Beton" vereenselwiging met 'n mitiese plaas-Afrikaner erfenis waarvan ek nooit deel was of ooit deel van gevoel en in die laat Tagtigs was ek besonder vervreemd en ver verwyder daarvan.

Dus was ek nie deel van die studente proteste op Stellenbosch toe die Rektor, in nabye samewerking met ander gesagsfigure op die dorp, die Voëlvry optrede wat op kampus sou plaasvind, verbied het weens gewaande vrese van onlus, openbare dronkenskap, ontug en sedisie. Die aangevoerde redes was destyds al lagwekkend en 20 jaar later is die aburditeit van die poging om die jeug in toom te hou, skreiend absurd, gegewe die politieke verwikkelinge oor die volgende 12 maande daarna. Op die tyd het ek egter nie gevoel ek moet my Stellenboshc haas om my skouer aan die wiel te sit ter ondersteuning van die radikale studente van my alma mater nie. Die beste wraak was om eenvoudig die verbod te ignoreer en met minagting te bejeën en na die Drie Geuwels hotel te gaan om die jol by te woon.

Dit is waarskynlik so dat die organiseerders van die toer en die deelnemers daaraan potensieël sleg getref kon gewees het deur die verbond, maar aan die einde van die dag het alles tog goed afgeloop. Die Drie Geuwels konsert was waarskynlik veel meer van 'n triomf en duidelike oorwinning vir die 'beweging' as wat die konsert op die kampus sou wees.

Hierdie verbod, en allerhande soortgelyke aksies op andere dorpe, het meer publisiteit aan Voëlvry verleen as wat die organiseerders sou kon koop. En daar was geen keer aan die jeug nie.

My herinneringe van die drie (altesaam) konserte wat ek bygewoon het, is vaag na soveel jare. Ek het nie destyds notas gemaak van my ervarings by die konserte nie en dus moet ek op my geheue staatmaak. Al wat ek oor het, is indrukke. Daar is die teleurstelling met Koos Kombuis se temerige akkoestiese musiek, behalwe vir een liedjie (by Drie Gewels) waar iets soos 'n elektroniese trom bietjie meer gewig en tekstuur verleen het aan die betrokke liedjie. Daar is die eerste adrenalien rush van opwinding toe Die Gereformeerde Blues Band begin speel het, en die stadige, dog sekere, bittere gewaarwording dat Johannes Kerkorrel se manewales en snaakse stemme eintlik niks meer was as 'n manifestasie van kabaretkunstenaar wat voorgee om te ruk en rol terwyl hy eintlik "diep" ballades met "sensitiewe" klavierbegeleiding wil speel nie. En die besef, die volgende jaar toe Kerkorrel die hele Voëlvry konsep vir homself toegeien het, dat die Gereformeerede Blues Band eintlik net schtick was en nie 'n ernstige Afrikaanse rock groep nie. Ek kan glad nie onthou dat Bernoldus Niemand iby Drie Gewels of Three Arts opgetree het nie. Ek verbeel my Khaki Monitor was by Three Arts, wat vreemd was omdat hulle slegs een Afrikaanse liedjie in hul repertoire gehad het, maar Tania Selley (en moontlik die ander lede van die groep) het konneksies met James Phillips en die Shifty Records groep gehad, en Tania was Karla Krimpelien die agtergrondsanger.

Politieke drukgroepe soos End Conscription Campaign het ook aangehaak en stalletjies by die vertonings gehad. Dit het al hoe meer 'n fenomeen geword dat jong mans wat disnspligtig was, geweier het om aan te meld, en in daardie tye het selfs goeie Afrikanerseuns dit begin doen. Hulle was in 'n wesenlike minderheid, maar nogtans. Dit was nie 'n heeltemal nuwe verskynsel onder Afrikaanssprekendes nie, maar voorheen was die weieraars gewoonlik deur godsdienstige oorwegings gemotiveer en nie soseer suiwer politiese oorwegings nie. In elk geval het 'n groot gros weieraars ontduikers geword deur die land te verlaat. In 1989 was daar meer van 'n gevoel dat mens nou kon weier sonder dat die regering so hardhandig en genadelooos sou optree as byvoorbeeld in die vroeë Tagtigerjare. Alhoewel dit dus braaf was om in die openbaar aan te kondig dat jy nie vir diensplig gaan aanmeld nie, was dit heelwat minder riskant as op die hoogtepunt van die Totale Aanslag. De FW de Klerk regering was meer tegemoetkomend en het in elk geval waarskynlik moeiliker tameletjies gehad om te hanteer. Ek vermoed die regering se beste plan was om die weieraars te ignoreer en so min moontlik publisiteit aan hulle te verleen.

Daar was dus 'n rebelsheid, maar ek het dit nie ervaar as doodsgevaarlike rebellie nie. Die moontlike nagevolge was relatief mild en sag.

Die entoesiasme vir die konsep van Afrikaanse rock musiek en die gevoel van 'n nuwe vryheid was veral by Three Arts baie sigbaar, hoorbaar en tasbaar, moontlik omdat Kaapstad nie juis die hartland van Afrikanerstrewes, wat nog te sê jong Afrikaanssprekende strewes, was nie. Daar was en is 'n beduidenisvolle Afrikaanssprekende stadsbevolking, veral in die City Bowl area, maar in daardie jare het hulle min plekke of geleentheid gehad om enigsins alternatiwe Afrikaanse musiek te maak of te hoor en myns insiens was die algemene neiging om na Engelse musiek te kyk, selfs plaaslike Engelse musiek, as die bron van kreatiwiteit en aanvaarding onder die groter Kaapse jongmens gehoor.

Dit is waarskynlik een van die groot nalatenskappe van die aanloop tot Voëlvry, die toer en die artmosfeer wat dardeur geskep mis, dat Koos Kombuis, soos hy toe geword het, met groot sukses in sentrale Kaapstad kon optree, en dat Valiant Swart na hom ook in die middestad klubs kon optree en goeie gehore trek.

Ewenwel, by die Three Arts was daar een uitbundige jong man wat op die dak van 'n Volkswage Kombi gestaan het en luidkeels verkondig het hoe goed dit was om vir 'n slag trots Afrikaans te wees en om musiek waarvan jy hou in jou taal te hoor en hoe die toekoms behoort aan hom en ander eendersdenkendes. Niemand om hom het daarmee gestry nie.

Ek neem aan daar was min of meer dieselfde gevoel onder die konsertbywoners al het almal dit nie so direk en luidkeels geartikuleer nie. Die ding wat my geinteresseer het, was hoe baie van die gesigte by die optredes, veral by Three Arts, vir my so bekend was. Ons was almal deel van die gemeenskap mense wat al die plaaslike groepe ondersteun het. Ek het dus geweet dat die "hip" Kaapenaars die nuwe Afrikaanse musiek ondersteun, of ten minste dat hul teenwoordigheid moes beteken dat hierdie musiek "cool" moes wees.

Ek het my nie daaraan gesteur of dit "cool" was of nie omdat ek nie enigsins deel was van vriendekringe waar sulke dinge belangrik was nie en in elk geval was my vriendekring op daardie tydstip van my lewe amper uitsluitlik Engelssprekend. Alhoewel sommige van hulle kennis geneem het van die fenomeen, het die oorsaak, verloop en uitwerking daarvan hulle koud gelaat. Dit was eenvoudig nie hul kulturele ervaring en belewenis nie en as dit vir hulle interessant was dat sommige jong Afrikaners enigsins rebelsheid begin toon het, was my Engelse vriende meewarig genoeg daaroor om uit te wys dat hulle al lankal anti-Boere establishment was en lankal die anti-outoritêre houidng openbaar het en geleef het, wat die "alternatiewe Afrikaners" nou so versigtig besig was om te aanvaar.

Dis die ding wat my agterna so getref het. Mens kan seker argumenteer dat die "alternatiewe Afrikaners' die begin van die einde van die Nasionale Party en apartheid en Wit oorheersing in werking gestel het, maar my gevoel is eerder dat "alternatiewe Afrikaners" hul kop bo die loopgrawe kon uitsteek omdat hulle besef het dat dit veilig is, dat hulle nie geskiet sou word nie en dat die dae van Afrikaner hegemonie vinnig op pad einde se kant toe gestaan het. Hierdie was 'n protes wat gemaak is lank nadat die nie meer werklik saak gemaak het nie en was 'n gevolg van die veranderende tye en nie die oorsaak daarvan nie. Die damwal het op verskeie plekke begin lek, en populêre kultuur was maar een so 'n lekplek.

Ek neem aan dat die deelnemers (musikante, organiseerders, ondersteuningspersoneel) 'n ander perspektief op dinge het en dit is seker gaaf om "deelname aan Voëlvrytoer" op jou CV te hê as jy enigsins by Suid-Afrikaanse populêre kultuur betrokke is, nou al aanstap in jare en hoop dat jou naam darem iewers in 'n geskiedskrywing van die tye gemeld gaan word sodat daar bewys is van jou bestaan en jou dade.

James Phillps en Johannes Kerkorrel is reeds nie meer met ons nie. Phillips is in Julie 1995 dood as gevolg van onbespeurde of onbehandelde nagevolge van 'n motorbotsing en Kerkorrel het in November 2002 selfmoord gepleeg omdat hy nie meer kans gesien het vir sy lewe nie.

In die 20 jaar sedert Voëlvry het André Letoit / Koos Kombuis beweeg van armoedige outsider en rebel tot welaf deel van die establishment. Twintig jaar gelede het Kombuis te velde getrek teen die Nasionale Party regering en hul hegemonie; vandag trek hy te velde teen die ANC en hul soustreinmaatjies en mislukking om tog 'n vreedsame, welaf gemeenskap vir almal te skep en selfs Witmense veilig te hou.

Koos Kombuis is by wyse van spreke die Semior Statesman van die Voëlvrybeweging. Wie weet wat van die ander deelnemers geword het? Ek weet Jannie (Hanepoot) van Tonder is nou baie meer betrokke by big band jazz en swing musiek in Kaapstad en Willem Möller bedryf 'n klankateljee in Gauteng en speel moontlik nog kitaar vir allerlei musikante. Ek neem aan Lloyd Ross het ook nog sy klankateljee besigheid. Gary Herselman (Piet Pers) is blykbaar nog in die musiekbedryf en het na Voëlvry en die demokratiese veranderinge in Suid-Afrika in 1994 sy ou groep, The Kêrels, teruggebring en 'n tweede album vrygestel, sonder reuse sukses op die komeersiële of artistieke front.

The Kêrels is 'n goeie voorbeeld van hoe die hele Voëlvry "beweging" geskep is uit iets wat kunsmatig vervaardig is. In die laat Tagtigs was The Kêrels 'n post punk rock groep met rukkerige funk ritmes, geen deuntjies om van dit praat nie, baie energie en een Afrikaanse liedjie. Dit is daardie Afrikaanse liedjie wat op die Voëlvry album ingesluit is asof dit verteenwoor4idigend is van 'n hele ouevre. Alhoewel daar Afrikaanssprekende persone in die groep mag gewees het en dit in daardie jare cool was om een enkele armsalige Afrikaanse lied in jou repeertoire in te sluit (ten minste onder 'n seker komponenent van "hip" musikante), was daar geen aanduiding, ten minste uit my ervaring, dat The Kêrels Afrikaanse rock musiek wou maak of bevorder of dat hulle enigsins die Afrikaanse taal en kultuur wou bevorder nie.

As dit werklik so 'n sterk beweging was, wonder mens hoekom die stryders nie juis almal agterna dieselfde prominensie in die kultuur bereik het nie.

Nou, 20 jaar later is daar die Pat Hopkins boek oor die "beweging" met dokumentêre rolprent ingesluit in die pakker, Koos Kombuis se Short Drive to Freedom (die Afrikaanse weergawe is Tyd van die Kombi's), wat sy langverwagte memoir oor daardie dae is, en ook 'n album Voëlvry: Die Toer (2002), met konsertopnames uit daardie tye, van die drie hoofdeelnemers: Koos Kombuis, Gereformeerde Blues band en (James Phillips) Bernoldus Niemand.

Dit was destyds nie juis vir my duidelik wat die nagevolge en impak van die Voëlvry ding was op die breë kultuur of die eng musiekkultuur nie. Dis nie asof daar skielik 'n stortvloed van Afrikaanse alternatiewe musiek verskyn het nie. Valiant Swart was die eerste belangrike rock musikant wat post-Voëlvry sy merk gemaak het, maar daar was nie juis veel soos hy nie.

Koos Kombuis het natuurlik gedurende die Negentigs gereeld albums vrygestel en, soos voormeld, stadig maar seker deel geword van die establshment. Met Madiba Bay (1998)was hy 'n ondersteuner van die nuwe demokrasie en met Bloedrivier (2009) geisel hy die demokratiese regering en is dit duidelik dat hy nou ook maar soos enige Wit middelklas Afrikaner klink.

Piet Botha was die eerste musikant na Valiant Swart om iets wesenlik met Afriknaase rock te maak, al het hy ook hierdie vreemde Boersgeit openbaar wat te veel na terughunkering na die dae van Wit heerskappy klink, al word dit ingekleed as meer van 'n protes teen die Engelse oorheersing. Moontlik was dit deel van die algemene poging om die Boere as die eerste vrydheidstryders van Afrika te vereer. Wat in elk geval nonsens is, maar nou ja.

Die vloedgolf van Afrikaanse rock (ek onderskei dit duidelik van Afrikaanse pop en die laagste gemene deler) wat mens kan beskryf as anti-establishment en ietwat rebels, het eers losgebars nadat Fokofpolisiekar die bres in die muur geslaan het. Met die skepping van MK televisiemusiekkanaal is die hele Afrikaanse rock omgewing egter al weer gefomaliseer en onder die kader van 'n institusie gebring. Nou wil die mense nie meer so rebels wees at hulle nie op televisie kan verskyn nie. Dit gaan nie oor revolusie nie, dit gaan oor geldsukses en algemene aanvaarding.

Moontlik is daar nog boheemse Afrikaanse musikante daar buite wat rondboemel en op die rand van die samelewing heen beweeg terwyl hulle hul musek maak, maar ek vermoed dat daardie tye nie meer bestaan nie. Omdat rock musek nou soveel deel is van die Afriknaanse musiekgeselskap, en dit bloot 'n kwessie is van graderings van rofheid, is daar geen rede hoekom die jong musikante nie so gou as wat hulle kans sien deel kan word van die openbare aanbod nie. In elk geval is daar min kans dat die
Witmens nog kan probeer om die regering te trotseer op enige betekenisvolle vlak wat nog te sê met taal en kultuur. Afrikaans se grootste stryd is om homself te handhaaf en te oorleef en daardie stryd is so intern en parogiaal van aard dat daar geen verdere energie kan wees om die res van die land en sy huidige politieke heersers die stryd aan te sê nie.

Die mense wat die Afrikaanse taal en kultuur bedryf en beskryf het oor die jare heen het 'n voorliefde vir die "beweging" so half asof 'n beweging 'n gebeurtenis of fenomeen meer gewig moet gee; dat iets wat net inderwarheid uit 'n klein groepie bestaan het, meer gesag kan dra en langtermyn meer ontsag gaan inboesem as mens dit 'n beweging noem. Die meeste sulke bewegings was in die litirêre sfeer, soos die Dertigers, die Vyftigers, die Sestigers, die Kaapse Groep, Die Beweging van Tagtig, en diesmeer. Dit is dus 'n kort sprong om 'n nuwe "beweging" te vind, wat die post-Tagtigs era van Afrikaans kon dra en dis seker 'n teken van die tye dat hierdie beweging, alhoewel dit wortels in hoge kultuur gehad het (Andre Letoit het gedigte en romans gepubliseer, hy en Kerkorrel het kabaret geskryf) was dit basies 'n musiekbeweging en dus 'n beweging wat uit en van populêre kultuur gebore is en gemik is na die jongmense vir wie hoge Afikaanse kultuur anatema geword het.

Die opnames op Voëlvry: Die Toer is blykbaar by die Universiteit van Pretoria gemaak, dit wil sê redelik vroeg in die toer en moontlik voor die volle storm van die kontroversie losgebars het.

Die belangrikheid van Die Gereformeerde Blues Band op die toer word waarskynlik beklemtoon deur die feit dat hulle die oorgrootte meerderheid van liedjies het, met Johannes Kerkorrel se besondere irriterende manier van sing-praat en affektasies wanneer hy verhoogaankondigings maak en sing, asof hy absoluut geknetter was of miskien almal se been trek of bloot gedink het dat dit die atmosfeer aanhelp as hy soos 'n tosser klink. Moontlik was dit alles 'n parodie. Selfs in daardie jare het hierdie maniërismes my geirriteer en op CD is dit nog erger.

Koos Kombuis, as solo troebadoer met akoestiese kitaar, het die volgende meeste liedjies. Hy was heel eerste op die verhoog met sy bottel wyn, kitaar en boek met lirieke en grappies oor al sy girlfriends in die gehoor en het 'n kort optrede gelewer wat vir my geklink en gelyk het soos die optrede van iemand wat alles baie vinnig agter die rug wou kry, of moontlik om een of ander duistere rede nou 'n tweedeklas burger was in die beweging wat hy help skep het. Moontlik wou hy net sy deel van die aand so gou as moontlk agrer die rug kry omdat hy wou gaan drink en joints rook.

Bernoldus Niemand kry 3 liedjies en dis nogal jammer aangesien Niemand besondere interessante musiek gemaak het op sy enigste album en meer aandag regverdig het. Natuurlik was hy eintlik nie 'n Boerseun nie, ten spyte van sy Oos-Rand oorsprong en hy het selfs meer as Kerkorrel waarlikwaar 'n uitgebreide musikale parodie geskep. Dit het myns insiens niks veel te doen gehad met die konsep van altenatiewe Afrikaans nie, ten minste nie in die sin wat Kerkorrel on Kombuis sou gebruik nie, en die gebruik van Afrikaans was bloot 'n raamwerk vir die parodie, synde die taal en lewensuitkyk van die tipiese Afrikaner wat so maklik as 'n rockspider utgekryt is deur die Engelssprekendes van die tyd.

Daar is baie humor in die lirieke, baie raak sosiale kommentaar en politieke verwysings wat nou al so ver in die verlede is dat die nuwe geslag nie die vaagste idee het waaroor dit alles gegaan het of hoekom dit ooit belangrik kon gewees het nie.

Aan die ander kant klink die musiek nie so opwindend nie. Dis nie dat die musikante nie weet wat hulle doen nie en of nie ingeoefen genoeg is nie (ten minste ek dink so), maar daar is 'n vaalheid en platheid wat ek nie onthou van die optredes wat ek bygewoon het nie. Dit maak seker 'n verskil dat mens die musiek nie weer in die atmosfeer van 'n opgewonde skare ervaar en teen 'n luider volume as op CD. Die klankkwaliteit is te suiwer en te foutloos om werklik enige van die energie en entoesiasme oor te dra. En dan is daar Johannes Kerkorrel se Sondagskoolkonserthoudings.

Die ding is dat Koos Kombuis beter klink op CD as wat hy destyds op die verhoog geklink het. Hy is snaaks, pittig en sing sterk. Ek vermoed dit was makliker om een stem en een kitaar op te neem en goed te laat klink as die harde ruk en rol van die ander groepe. Hy doen 'n drietal liedjies wat op Niemandsland ... en beyond vrygestel is, en 'n klompie nommers wat nooit andersins vrygestel is nie, hoofsaaklik, vermoed ek, omdat hulle so eie aan die tyd was met kommentaar oor politieke gebeure dat hulle binne 'n jaar twee so ou nuus was dat niemand meer belanggestel het nie. Toe was die parmantigheid waarskynlikh wesenlik opwindend vir musikant en gehoor.

Bernoldus Niemand se 3 nommers is die swakste aanbiedinge en mens wonder hoekom daar so min vn hom te hoor is op die album. Is dit omdat die kwaliterit van die klankopnames so swak was of was die uitvoering van die liedjies substandaard? "Hou My Vas, Korporaal" is moontlik James Phillips se beste lied ooit en hy verkrag dit effens hier. "My Broken Heart" mag sardonies amusant wees en 'n skreiende satire wees op Countrymusiek se snot en trane aanslag, maar dit klink nie snaaks nie en mens wens Niemand wil dit kortknip. "Snor City" is in sy ateljee weergawe 'n puik stukkie wit funk en het 'n ondertoon van boosheid en euwel wat glad nie tot uiting kom op die verhoog nie. Weereens klink dit bloot soos 'n moerse grap en niks van die verdoemenis en misnoeë met Afrikanerkultuur is te bespeur nie. Waar Bernoldus Niemand oorspronklik 'n skerp, geamuseerde en tog simpatieke observeerder was van die Suid-Afikaanse wit werker, klink hy op die verhoog bloot asof hy honend spot met die onderwerp van sy liedje.

Die Gereformeerde Blues Band is natuurlik nie juis 'n bluesgroep nie. Kerkorrel mag 'n goeie stem hê en weet hoe om daarmee te werk, maar hy is nie 'n blues sanger nie. Okay, ek besef dat die naam van die groep waarskynlik 'n stukkie ironie was. Daar is tog 'n paar shuffle ritmes te bespeur en Willem Möller kan blues kitaar speel. Dis net dat Kerkorrel se amper skril en uiters gauche teatrikaliteit my afsit. Dis asof die man skoolkonsert hou. Die woorde van liedjies soos "Tronk" klink deesdae ook effens te erg, en ek sou dink dat selfs in 1989 daardie sentimente ietwat sentimenteel was.

Aan die ander kant is dit moontlik dat Kerkorrel en Kombuis se rebellie styl en aanvalle op die establishment so nuut en vars was omdat dit in Afrikaans gelewer is, dat ek die punt mis. Ek was nie deel van die "beweging" nie en het nie besonder bevry gevoel daardeur nie. Nie Kerkorrel of Kombuis het my iets geleer wat ek nie reeds geweet en ge-internaliseer het nie. Dit was net lekker om hierdie goed in Afrikaans te hoor, gekoppel aan 'n styl van musiek wat ek kon waardeer. Dit was nie musiek en liriek nie, of boere country nie, of sakkie-sakkie sokkiejol musiek nie, maar iets wat ten minste soos ruk en rol geklink het.

Koos Kombuis het kort voor Voëlvry die beste album van sy loopbaan vrygestel (Niemandsland), onder die Shifty Records sambreel en hy is op sy daaropvolgende toer begelei deur al, of meeste van, die musikante op die album, insluitende James Phillips op kitaar. Dit was 'n puik groep musikante en hulle bet betowerende optredes in die Kaapstad omgewing gelewer.

Ek sou bittergraag konsertopnames van daardie toer wou beluister. Ek was by al die Kaapse optredes; ten minste, ek dink so Dit was werklik die begin van Afrikaanse rock.

Koos Kombuis het nog 2 goeie albums in hom gehad in Elke Boemelaar se Droom (1994) en Madiba Bay (1998)(en moontlik ook Blame It On Aparthied). Daarna het hy sy schtick begin herhaal (en al hoe meer en meer ou treffers in nuwe weergawes begin vrystel) en mettertyd verval in die luiheid van die kunstenaar wat sy merk gemaak het, nou sonder veel kritiek aanvaar word as iets soos 'n genie en nie meer nodig het om te sukkel en te struwel nie. Hy het vet geword, getrou, kinders verwek en die middeklas bestaan waarteen hy so lank geskop het, heelhartig ge-internaliseer en aangeneem. En die Bloedrivier album vrygestel waar hy nou klink soos die tipe Afrikaner, of Wit Siud-Afrikaner, teen wie hy 20 jaar gelede die revolusie gepoog stook het.

Nog erger, hy het die establishment kunstenaarspraktyk begin aanhang van samewerking met ander artieste, soos Valiant Swart ('n Jaar in Die Son), en gaskunstenaars op sy nuutse vrystelling Koos Kombuis (2009). Hy het selfs al by die Huisgenoot Skouspel aanbieding opgetree. As dit nie 'n teken van hoofstroom aanvaarding is nie, weet ek nie. Ek sien uit na die "duette album" met Kurt Darren, Bobby van Jaarsveld, Nicholis Louw en Bok van Blerk.

Na Voëlvry II het Kerkorrel homself meer toegewy aan "behoorlike" kabaret en wat mens as gesofistikeerde pop musiek kan beskryf. Sy strewe was klaarblyklik om iets beter en groter te wees as iemand wat op sy louere en die glories van die rebelliejare wou rus. Hy het klaarblyklik ambisie gehad om vinniger en verder in die hoofstroom te vorder as sy strydmakker Kombuis. Kerkorrel het verskeie albums vrygestel, in Europa opgetree en was, so ver ek kon vasstel, op sy manier suksesvol, maar hy het nooit in sy leeftyd, of selfs ooit, volksbesit geword soos Koos Kombuis nou is nie. En Kerkorrel was troebel genoeg om sy eie lewe te neem na terugslae wat hy blykbaar nie kon verwerk nie.

Ek moet erken dat ek nou al 'n paar keer na die dubbel CD versameling van sy grootste treffers geluister het en nie vat daaraan kon kry nie. Ek gee Johannes Kerkorrel kudos vir sy talent en vindingrykheid. Hy was 'n baanbreker en hy was 'n leidende figuur in moeilike jare. Sy styl van musiek is egter nie die soort van ding wat my roer nie. Dit het vir my te berekend gevoel en gebrekkig aan ware emosionele diepte. Hy het geweet watter knoppies om te druk, dis al.

James Phillips is ook "tragies vroeg" oorlede en dit net kort na demokrasie in Suid-Afrika gevestig is. Na Voëlvry het hy die Bernoldus Niemand karakter finaal vaarwel geroep en selfs die Cherry Faced Lurchers ontbind en beslut om hiper gesofistikeerde jazzerige rock te maak. Sy laaste testament is dan die Sunny Skies album onder die groepnaam The Lurchers, wat bloot die versamelnaam is van die groot groep musikante wat op die snitte speel. Ek pes hierdie album soos ek Live at Jamesons pes, vir ietwat verskillende redes. Sunny Skies klink soos die produk van harde werk en toewyding en ek kan nie Phillips se ambisie verkwalik nie. Ek kan net nie met enige plesier daarna luister nie. Ek hou nie van die Afrika jazz funk rock idioom nie, daar is geen goeie deuntjies nie en meeste van die lirieke suig.


 

As Sunny Skies James Phillips se ideale konsep was van die tipe musiek wat hy die graagste wou maak, is ek van mening dat dit miskien die beste ding vir sy loopbaan was dat dit ontydig kortgeknip is.

Monday, June 21, 2010

Philip Swiegers se Hottentotte

In laat 1989 het Flip Swiegers vir 'n maand of wat my woonstel in die Tuine gedeel en het my versameling van kitare benut om homself te vermaak, en my ietsie te leer.

Ek het 'n Yamaha jumbo akoestiese kitaar gehad, die eerste ordentlike kitaar wat ek ooit besit het en 'n goedkoop elektriese kitaar van Duitse oorsprong (geen vervaardigersnaam) met 'n plank liggaam en heelwat swaarder nek wat die balans heeltemal uitgegooi het en wat mens deur hou hoëtroustel se klankversterker moes speel. Nie juis 'n konsertinstrument nie en die klank daarvan was na my mening effens aan die dofswaarplof klank. Dit kon nie eens ordentlik raas nie. in elk geval kon ek nie daarmee raas in die woonstel nie.

Flip, wat (soos ek dit verstaan het) iets soos 2 formele kitaarlesse gehad het en homself daarna die basiese dinge geleer het en besonder vaardig geklink het, het die elektriese kitaar gespeel en dit laat klink soos iets wat amper die moeite werd is. Dit was nie 'n Les Paul of Stratocaster nie, maar in Flip se hande kon mens amper glo dat dit op 'n verhoog sou pas mits mens jou hoëtroustel sou saamneem.

Flip se repertoire het bestaan uit 'n mengsel van ander mense se musiek, soos die versamelde werke van Kris Kristofferson, bekende ruk en rol nommers met woorde wat hyself geskryf het en van humoristies en/of satiries was, en sy eie komposisies.

Uit laasgenoemde groep was die wenner *by verre) 'n reggae beïnvloed liedjie genaamd "Die Hottentotte". Ek het mettertyd so half en half Flip se akkoordprogressie en reggae styl ritme aangeleer, maar kon nooit die liedjie sing nie. Die melodie was soos helium, soos 'n veertjie wat in die wind waai, en iets wat baie vinnig in jou kop bly vassteek het en dit tipe van ding waarvan mens meer en meer wil hoor. Ongelukkig het Flip op daardie tyd niks anders gehad wat enigsins op die vlak van "Die Hottentotte" was nie, nie eens naastenby nie. Dit was so suksesvol dat daar by verskeie geleenthede 'n versoek was van ons gemeenskaplike vriendin Margaret dat Flip die liedjie vir 'n klein gehoor moet speel. Soms was hy heel gewillig, soms minder so.

In die tyd dat Flip en ek saamgewoon het in my woonstel het ek die gewoonte gehad om my kantoor diktafoon, wat met gewone C60 of C90 audiokassette gewerk het, huistoe te bring om opnames te maak van myself en my swak pogings, of ek en Louis Herbert wat partykeer saamgespeel het, al was Louis ook myle beter as ek, en by een geleentheid Flip wat 'n paar van sy liedjies gedoen het, onder andere "Die Hottentotte". Ek het daardie kassetband iewers in 'n skoenboks en sou dit graag digitaal wou laat verenig indien dit enigsins moontlik is. Dit moet eendag 'n stuk geskiedenis wees, stukkie Africana.

Ewenwel, Flip as komponis het min of meer 'n besondere lae profiel gehou tot die vroeë jare van die een en twintigste eeu toe hy die storie, woorde en musiek geskryf het vir Black Label, 'n rugby kabaret. Die liedjies was op die man af oor allerlei van die donker gaatjies en agterstrate van die rugby kultuur en die melodieë was ongelooflik. Hierdie rugbyliedjies is soos die anti-Leon Schuster of anti-Bill Flynn omdat hulle vlymskerp bewoord is en die hemelse, verslawende wysies het. Nie juis die musiek wat mens by 'n braai sou speel nie.

Die kabaret is 'n paar keer op die planke gebring, maar sover ek weet bestaan daar geen opnames van enige optrede of van enige van die liedjies nie.

Margaret het nou 'n groot nuwe projek, 'n dokumentêre rolprent oor die sogenaamde Black Duchess of Bain Street, 'n Swart vrou wat in die Britse adelstand in getrou het en onder andere in Wellington gewoon het, digby Margaret se huis op die dorp. As deel van haar bemarkingspoging om fondse in te samel om die dokumentêr te maak, wat onder andere 'n navorsingbesoek aan Brittanje sal verg, het sy 'n 10 minuut voorskou saamgestel en het op die ingewing gekom om Flip te vra om 'n opname van Die Hottentotte te verskaf om daarin te gebruik as klankbaanmusiek.

Flip het geen opname van Die Hottentotte besit nie en ek sou raai dat hy dit lanklaas gespeel het en dit gou eers weer moes leer, maar gelukkig het hy op Stellenbosch mense ontmoet met 'n klankateljee wat hom die geleentheid gebied het om een opname daar te doen sodat hy 2 digitale kopieë van die liedjie kon maak. Die een opname is inderdaad op Margaret se voorskouprogrammetjie gebruik.

Flip het vir my die CD-R gebring sodat ek dit op my rekenaar kon rip. Een hele liedjie op 'n CD.

Die opname begin met geraas van stemme in die agtergrond en dan Flip wat die geykte "One, Two, Three, Four" aftelling doen voor hy die intro speel.

Dit klink vir my of Flip op 'n akoestiese kitaar speel en dus is die klank van die instrument radikaal anders as hoe ek die eerste weergawe onthou omdat die akoestiese kitaar 'n helderder klank het, heelwat meer "bright", as die elektriese kitaar weergawe al het hy laasgenoemde half soos 'n akoestiese kitaar gespeel omdat hy nie die klankversterker luid kon opdraai nie. Ek neem aan die kwaliteit van die mikrofoon in die nuutste opname is oneindig beter as die diktafoonmikrofoon wat ons destyds gebruik het. Dit moet om dieselfde rede wees dat Flip se stem ook harder en duideliker hoorbaar is.

'n Ander verskil, en moontlik speel my geheue parte, is dat die musiektempo van vroeëre opname effens vinniger en die stem 'n toonhoogte of wat hoër was. Ek neem aan die 20 jaar sou in die eerste plek 'n verskil in die stem gemaak het, en moontlik het Flip nou besluit om 'n effense ander aanslag op die lied te maak. Of ek onthou verkeerd.

Die eerste weergawe van "Die Hottentotte" was ligter, amper speels, en ongekunstel omdat daardie opname in my sitkamer gemaak is sonder enige formele rede anders as my idee dat die liedjie nie verlore moet gaan nie. Vir die nuutste weergawe is daar druk op Flip om iets te produseer wat "definitive" moet wees en met 'n doel aangevra is.

Wie het gedink die diktafoon weergawe sou ooit gehoor word deur enigiemand anders as ek en Flip? Nou is daar die kans dat allerlei potensiële beleggers in Margaret se projek die liedjie kan hoor, en dan boonop die verdere kans dat dit in die vollengte dokumentêr gebruik kan word, en die moontlikheid van meer uitgebreide blootstelling. Aan die ander kant, Flip sal waarskynlik 'n selfs nog meer professionele opname wil maak as "Die Hottentotte" nog steeds op die klankbaan van die dokumentêr gaan wees.

Die woorde van die lied is 'n mymering of bepeinsing oor die eeue heen oor die geskiedenis van die ontdekking en ontwikkeling van Suid-Afrika, en by implikasie Afrika as geheel, en die interessante rassemengsel wat hier ontstaan het deurdat die plaaslike bevolking, wat so te sê uitgewis is, met die kolonialiste geheul en gesosialiseer het. Europese bloed en Afrika bloed het nuwe skakerings van kreoolkinders voortgebring en dit is 'n verskynsel wat enersyds wesenlike probleme in die land veroorsaak het en andersyds een van die redes is hoekom Suid-Afrika op alle vlakke so 'n boeiende land kan wees.

Derhalwe pas die liedjie baie goed aan by Margaret se tema oor die Black Duchess of Bain Street.

(hierdie woorde word aangehaal met permissie van die lirikus, Philip Adriaan Swiegers)

DIE HOTTENTOTTE

die hottentotte

die hottentotte slaap in my bloed

my groot, groot ouma was 'n boesmanmeid

my oupa was 'n duitser en 'n seeman

ek dans die ritme van die khoisan tyd

beethoven se melodie

die hottentotte

die hottentotte slaap in my bloed

my vrou se dogters het kroeshare

my seun trek met sy swart vrou na australië

ek dans bedonnerd in die ysbeertydperk

vleg my broer se hangtou deur die jare

die hottentotte

die hottentotte slaap in my bloed

my klein, klein dogter is 'n platneusbaba

my oudste kind sê ons word soutpilare

ek dans van boere country al hoe verder weg

slinger met my hande deur my hare

die hottentotte

die hottentotte slaap in my bloed

my groot, groot ouma was 'n koningsdogter

my oupa was 'n tronkvoël van europa

ek dans makaber met 'n rubber necklace

swem na die suidpool

o, die hottentotte

o, die pikkewyne

die dolfyne

strandlopertjie voeltjietjies

nuclear submarines


 

Die eerste en laaste verse vertel die verhaal uit twee oogpunte. Die een oogpunt is die Eurosentriese Afrikaner baasskap benadering van die ouma as boesmanmeid met die neerhalende en rassistiese klem op die oënskynlik lae status van die inheemse vrou, in kontras met die meer verhewe status van die Duitse man wat klink soos iemand wat 'n avonturier is wat die wêreld verken en toegerus is met eeue se beskawing. Hierdie beskawingsnosie word versterk deur die sofistikasie van Beethoven se musiek te gebruik as kontras vir die oer Afrika ritmes van die Khoi-San mense wat vir die sogenaamde beskaafde Europeër uiters primitief gaan klink en waarskynlik verwerp word as gebrekkig aan enige musikaliteit.

Ek weet nie of Beethoven beskou sou word as die hoogtepunt van musiekervaring nie, maar die kontras is skril. 'n Dowe, hardkoppige en geniale Duitser se melodie en verwerkings gemeet teen die oënskynlike eentonige en herhalende voetstamp en tamboeryn ritmes van die Khoi-San en hul skril stemme en eensnaar instrumente wat nie klink soos enigiets wat die Europese oor sou waarmerk as die moeite werd om as musiek of musiekinstrumente geklassifiseer te word nie.

Daardie beeld van die teenstelling tussen primitiewe samelewing en beskawing word omgekeer in die laaste vers waar ons daarop gewys word dat die boesmanmeid van die Duitser se vlak persepsie eintlik van adelike afkoms is onder haar eie mense, terwyl die gewaande gesofistikeerde seevaarder niks meer as gewone matroos is wat moontlik op die seevaartberoep besluit het omdat sy toekoms in Europa beperk is vanweë sy tronkgeskiedenis, of moontlik omdat hy as uitgeworpene uit sy eie samelewing gedink het hy kan heerskappy gaan voer oor inboorlinge van Afrika wat nie sy voorgeskiedenis ken nie en wie hy kan domineer deur middel van wapenmag en geweld.

Wit gemors in Europa word wit heerser in Afrika. Khoi-San heerser in Afrika word boesman onderdanige in Afrika, en in lewensgevaar weens rasseslagting.

Ek weet dat Flip Swiegers se ouers in die destydse Suidwes-Afrika ontmoet het en getrou het, en dus waarskynlik daar gebore is, en na Suid-Afrika getrek het in die laat Sestigerjare, en dat daar wel Duitse wortels is vir die Swiegers familie, maar ek weet nou nie juis of daar 'n Duitse matroos onder Flip se voorouers was en of hy met die inboorlinge van Duits Suidwes ondertrou het nie. Dit kan poëtiese lisensie wees of biografie, maar dat dit 'n treffende beeldstel en kontras is, is nie te betwyfel nie.

In die laaste versie is daar nog ' n skrille kontras tussen die Khoi-San dans, wat ritueel kan verteenwoordig of moontlik sommer net vir die lekker kan wees, en die geweldadige, eg Suid-Afrikaanse marteldood wat ontstaan het in die onlusgeteisterde townships sedert 1976, naamlik die metode van 'n rubber buiteband om die slagoffer se skouers af forseer sodat hy of sy hulpeloos is, die gooi van petrol oor die liggaam en die aan die brand steek van die brandstof met die gevolglike aaklige en pynlike dood, of derdegraadse brandwonde as die persoon oorleef.

Die slagoffer van 'n rubber necklace se dans is 'n wriemeling van intense pyn en dit is 'n ritueel, maar daar is geen uitdrukking van plesier in die bewegings nie en as daar klank is, is dit die martelaar se smartkrete. Dit is inderdaad 'n spektakel dog 'n vergrypingspektakel geskep deur individue wat klaarblyklik geen respek vir menselewens het nie en so gebrutaliseer is dat hulle hierdie tipe van wrede teregstelling, dikwels op blote agterdog, met hoogheiligheid kan regverdig.

In vervloë dae is ketters en hekse verbrand. Dis 'n straf wat opgelê is deur beweerde beskaafde mense en gesofistikeerde regstelsels. In Suid-Afrika was die bewering dat die rubber necklace net weereens benadruk hoe barbaars en sonder enige remediërende eienskappe Swart mense is. Maak dit die straf enigsins meer aanvaarbaar as dit opgelê is deur een of ander vorm van regsgesag eerder as deur eenparige groepsgesag?

In die tweede vers het die singer se vrou se dogters kroeshare en dit laat mense wonder, veral as die uitgangspunt is dat die sanger Wit is, aangesien Flip Wit is, of hierdie dogters stiefkinders is, of is dit bloot een of ander Khoi-San gene wat via Flip se voorouers in sy kinders tot uiting kom? Meer interessant is die konsep van die verligte, bevryde Wit man wat met 'n Swart vrou getroud is en tog steeds nie tuis voel in sy geboorteland nie en eerder verkas na Australië wat veronderstel is om amper soos Suid-Afrika te wees in klimaat en kultuur, en tog ook nie is nie, en verder ook sy eie geskiedenis het van rasseslagting teenoor die Aborigines, wie tot vandag toe as 'n ondergeskikte spesie beskou word.

Die verskil vir die immigrant uit Suid-Afrika is seker dat die Australiërs daarin geslaag het om hul inboorlingprobleem so te sê op te los sodat die inboorlinge amper onsigbaar is en die mense op straat hoofsaaklik Wit is, terwyl Suid-Afrikaanse Witmense wat nie in hul geboorteland tuis voel nie, gepla word daardeur dat hulle in die verre minderheid is en altyd gaan bly.

Dit is ook natuurlik moontlik dat die tweede vers gesing word uit die perspektief van 'n Khoi-San wat al die struwelinge en stryd en die apartheidjare oorleef het, en dus positief moet wees oor sy eie toekoms in sy eie land, maar wie se seun nie so optimisties is nie.

Moontlik is enige land buite Suid-Afrika vir enige Suid-Afrikaner 'n beter vooruitsig as die geboorteland, weens misdryf, gebrek aan vooruitgang, die heersende kultuur van verryking en boetie-boetie deur die oligargie wat ons regeer, en die algemene gevoel dat die Afrika toekoms eintlik 'n toekoms van agteruitgang is en dat mense eerder moet padgee as om te wag vir die onvermydelike ongelukkige einde.

Die eerste verwysing na geweldadige, gewettigde wraakmoord is die laaste versreël van die tweede vers, naamlik die vermelding van die hangtou. Tot 1994 was die doodstraf op die Suid-Afrikaanse wetboek, vir moord en erg verkragting of aanranding, en natuurlik vir hoogverraad. Die hangdood was die straf. Die doodstraf is altyd gesien as barbaars en onmenslik, veral die idee dat een persoon kan besluit dat 'n ander persoon, ongeag van sy misdaad, ter dood veroordeel moet word. Dit was ook so dat nie-Witmense die meerderheid van tereggesteldes uitgemaak het. Wit geregtigheid het geseëvier en die inboorlinge het daaronder gelei.

Die kontras en konkretisering van die konsep is die verband net die dood as gevolg van die rubber necklace. Die geregtelike teregstelling deur middel van die hangtou is op die ou einde nie heeltemal uniek in die Suid-Afrikaanse konteks nie omdat die rubber necklace dikwels ook 'n vonnis was, alhoewel heelwat meer informeel opgelê. Die ding is dat institusionele geweld of straatgeweld steeds geweld bly en waar die beskawing verg dat die doodsvonnis verantwoord moet word deur deeglike ondersoek, lei van getuienis en weldeurdagte bepeinsing en oorweging van feite en omstandighede, is die uiteinde nog altyd die besluit van 'n mens oor 'n ander mens en op 'n manier killer en meer angswekkend in die neutrale brutaliteit, as die besluit van enige straatkomitee of oproerige skare waar mens op 'n manier die gevolge van opgesweepte emosie kan vergoelik. Aan die ander kant moet mens waarskynlik nie iets goedpraat wat sogenaamd instinktief en sonder oënskynlike rasionaliteit plaasvind bloot omdat die daders na bewering minder gesofistikeerd is nie. Brutale dood is brutale dood, ongeag van die sanksionering daarvan.

Die danselement in die lied is enersyds 'n kommentaar oor die algemene nut van musiek as opwekker van gelukkige emosies of as bron van ritueel en die dans self kan die hart en siel lig maak, die meganisme wees vir versugting en gebed of 'n parodie van gelukkige tye waar die brandende rondtrippel en val soos 'n wafferse shaman skoffelaar terwyl hy of sy terselfdertyd 'n uiters pynlike dood sterf.

Die dans is veronderstel om net soveel betekenis te hê onder gepaste omstandighede as wat dit bloot breinlose uiting van dronk plesier kan wees. Met dans kan mens poog om hoër te reik na verhewe emosies. As iemand goed kan dans, is hy of sy veronderstel om goed in die bed te wees. As jy dans, kan jy die gode betower, besweer of bloot oortuig om jou pleidooi vir reën of groot oeste of baie wild met positiewe erkenning te aanvaar.

Die Wit Suid-Afrikaner gaan seker nie juis die Khoi-San skoffel aanleer nie en sal glad nie die rubber necklace dans wil doen nie, maar die dans op die maat van populêre musiek is plesierig. Daar is 'n goeie woordspeling hier wat die musiek van die volk, wat Boere country klanke kan wees, ook vereenselwig met die vaderland. Selfs Afrikaners, die Boere, verlaat op 'n streep die tuisland in Afrika en wyk uit, na Australië, maar ook na Kanada, Brittanje en die VSA. Al hierdie lande het ook 'n kultuur van Country musiek, maar dis nie Boere country nie. Die dans is ook nie sakkie-sakkie nie. Boere country was in die Tagtigerjare besonder populêr, met name soos Cora Marie, Kupido, Lance James, en meer, in die bar jare van laat apartheid voor die ontploffing van Afrikaanse rock en disko-pop musiek in die huidige millennium, en dis hierdie Bapsfonteinkultuur wat agtergelaat is deur Wit werkers wat die buiteland opgesoek het vir 'n bestaan ver weg van die onderdrukkende nuwe Swart regime wat goeie Boeremense vreemdelinge in hul eie land gemaak het, waar hul verdring gevoel het. Dit is baie net soos hul voorsate destyds die Khoi-San verdring het en onderdruk het. Om nie van die amperse uitwissing te praat nie.

Daar is nog steeds musikante van Boere countrymusiek maak en hulle het nog steeds 'n gehoor, maar dis wragtigwaar nie meer die mainstream in Afrikaanse musiek nie.

Die storie van Lot se vlug uit Sodom of Gomorra eindig met sy vrou wat terugkyk na die wonderlike plek waarvandaan sy wegvlug, omdat sy eintlik terughunker ten spyte van die verdoemenis wat die bose stede gaan tref. Sy was dom. Sy het die kans gehad om te ontsnap na 'n nuwe, beter lewe, maar kon dit nie oor haar hart kry om nie nog net een laaste nostalgiese oomblik te beleef nie.

Vir my is die simboliek hier op een vlak die Afrikaners, en ander genote onder die Witmense, wat nog al die jare terugkyk na die goeie, vet jare onder apartheid toe 'n Witman in sy eie land kon heerskappy vier en die nie-Wittes hul plek geken het. Tot 'n mate is Suid-Afrika vandag honderde maal meer welaf en in 'n beter toestand as wat dit voor 1994 was, en tog is daar diegene wat weier om dit te aanvaar en nie 'n kans laat verbygaan om te hunker na die donker verlede nie. Dan is daar die emigrante wat in Australië en elders sit, en ook steeds immer terugkyk na Suid-Afrika en met mede-emigrante nostalgies raak oor die ou dae toe dinge beter en lekkerder was, voor hulle gedwonge gevoel het om die land te verlaat. Die hunkerendes verdien om verewig verstar te word as soutpilare. Bar, nutteloos, monumente vir die gebrek aan toekomsvisie en begrip.

Die verwysing na die ysbeertydperk en die suidpool is nie vir my heeltemal so klinkklaar duidelik nie. Die suidpool is moontlik bloot simbolies nog 'n afgeleë vasteland waarnatoe mens kan ontvlug, en saam met die ysbere (of is hulle net by die noordpool?) of pikkewyne gaan woon sonder dat daar veel mense gaan wees om jou te terroriseer of te onderdruk of selfs net ligweg te pla. Die wit van die ys is ook simbolies vir reinheid en onskuld en tog ook 'n barheid en steriliteit. Soos swart is wit die afwesigheid van kleur. Moontlik die afwesigheid van kleurbewussyn. Dis ook besonder koud en nie heeltemal die warm klimaat van Suid-Afrika nie, wat dit leen tot die buiteluglewe van sonneskyn, braaivleis en Chevrolet.

Hedendaags, 20 jaar nadat "Die Hottentotte" geskryf is, is daar ook die gevaar en effek van aardbolverwarming en die gepaardgaande vermindering van die ysvasteland omdat die pakys stadig maar seker besig is om te smelt. Daar is ook die risiko van meer drywende ysberge as ooit tevore wat 'n gevaar vir skepe op die suidelike roete kan wees. En die gevaar dat die watervlak langs ons kuste gaan styg sodat die herwinde deel van Kaapstad se strandgebied dalk binnekort weer onder see-oppervlak gaan lê en die seewater teen Clifton woonstelle se sitkamervensterbanke gaan klots.

Uit daardie perspektief gesien, is die ontvlugting na die suidpool nie juis meer 'n houdbare opsie nie. Een van die dae is daar nêrens op daardie vasteland enige plek om te skuil nie.

Die dans in die ysbeertydperk kan ook 'n verwysing na die ystydperke wees wat duisende jare gelede die wêreld geknel het en is dus 'n verbinding tot die oeroue ontstaan en bestaan van die Khoi-San wat min of meer die Eerste Mense was. Die danse wat hul oervoorouers gedans het, is waarskynlik baie dieselfde as die danse wat hul steeds dans.

Die bedonnerdheid is enersyds waarskynlik woede teenoor die omstandighede, woede as gevolg van die sielsvernietigende verontagsaming van die menswaardigheid van die Khoi-San of selfs bloot die inwoners van Suid-Afrika onder die apartheid regime. Andersyds beteken bedonnerd sommer ook om gekul te wees. Soos wat die wat Khoi-San, en ander inboorlinge die wêreld oor, deur Wit setlaars uit hul grond en regte gekul is. Die oorspronklike kullery was gewoonlik oor die sogenaamde wettige aankoop van grond en die verplasing van die inboorlinge na minder goeie weivelde en minder vrugbare landbougrondgebied. Hierdie kullery is voortgesit in die sogenaamde nuwe bedeling wat die Nasionalistiese regering in die vroeë Tagtigerjare ingevoer met 'n Driekamer parlementêre stelsel waar al die verskillende rassegroepe stemreg gehad slegs vir hul eie kamer in parlement en die Swart bevolking mooi netjies uitgelaat is, met die gevolg dat die proporsionele bevolkingsgetalle steeds die Wit regering bevoordeel het en vir hul die meerderheidshuis gegee het en die Nasionale Party dus steeds die land bly regeer het. Boereverneukery deur die boere.

Die dolfyne, pikkewyne en strandloper voëltjies gee vir ons 'n beeld van strandparadys, 'n omgewing van rustigheid en bepeinsing. Ek weet nie van strandloper voëltjies nie, maar die dolfyne en pikkewyne is egter ook bedreigde spesies. Die pikkewyne is gedurig slagoffers van olievermorsing langs die kuste van die aardbol en dolfyne word gevang in reuse diepsee nette wat eintlike vir ander vissoorte bedoel is, maar die dolfyn sterf in elk geval. En ek vermoed daar is ook 'n mark vir dolfynvleis. Hulle is veronderstel om hoogs intelligent te wees en derhalwe is dit meer van 'n skande om hulle uit te wis as tuna, of stokvis, of wat ook al die teiken van die vissers is. Tog snaaks dat mense diskrimineer op die grond van gewaande vis intelligensie. Daar is nie 'n probleem met die vang en eet van tuna per se nie, bloot die feit dat daar 'n gevaar is dat tuna bronne uitgewis gaan word omdat daar geen perke is aan die vangste nie. Hoekom sou die lewe van 'n dolfyn meer werd wees bloot omdat dit sogenaamd intelligent is en 'n tuna na bewering nie?

Die simboliese verbintenis met strandlopertjie voëls is natuurlik dat die Khoi-San as strandlopers geklassifiseer is toe die Portugese en Hollandse seevaarders vir die eerste keer met hulle te doen gekry het. Nog later is die strandlopers Hottentotte genoem, en die hele begrip van Khoi-San is eers heelwat later, eeue later, gekonseptualiseer om 'n meer akkurate omskrywing en klassifikasie van hierdie inboorling bewoners van Suider-Afrika te gee.

Die tegnologie van 'n nuclear submarine is omtrent so ver verwyder van die Khoi-San lewensstyl as wat mens kan kom en dis 'n kil simbool van iets wat terselfdertyd 'n toppunt van beskawing en tegnologie verteenwoordig en ook 'n dodelike wapen is, die ne plus ultra van stil en dodelik en onkeerbaar, in elk geval in die jare voordat interkontinentale missiele die hoogtepunt van gesofistikeerde massa vernietiging geword het. Die ding met die kernduikboot is dat dit blykbaar vir baie lang tye onder water kan bly, veel langer as konvensionele duikbote, sonder om nuwe brandstof of suurstof of proviand in te neem. So 'n duikboot kan duik en vir etlike maande uit die sig verdwyn. Dis die stille, onbespeurde gevaar wat op enige plek en enige tyd kan toeslaan met groot vernietigingskrag. Die diepsee is die mees onbekende deel van ons planeet. Wie weet wat werklik daar skuil?

Die hottentotte het op die strand geloop, maar sover ek weet, het nulle nie enige skeepvaart beoefen nie, selfs nie eens as vissers nie. Hulle het nie die verbeelding of nering of tegnologie gehad om kolonialiste te word nie. Hulle het nie na nuwe wêrelde gereis op soek na avontuur, weelde of ontsnapping nie. Hulle was wie hulle was en het gewoon waar hulle gewoon het. En dit sou moontlik steeds so gewees het, sou nog die Portugese nog die Hollanders ooit die moeite gedoen het om die kus van Afrika te verken of voet aan wal te sit.

Of ons dit verwens of verwelkom, die huidige Suid-Afrika is 'n produk van tronkvoëlseevaarders wat hier nedersettings gestig het, ondertrou het met die plaaslike bevolking, sommige van hulle uitgewis het en oor die algemeen 'n heel nuwe nasie tot stand gebring. Ons is 'n nasie van immigrante, slawe, migrante en tuisblyers. Daar was vreedsame besetting, geweldadige oorname, kolonialisering, verowering, daar was oorlog en vrede, en daar was onderdrukking en bevryding, daar was armoede en landelike fokus, nou is daar rykdom en verstedeliking. Die Afrikaner elite het hul mag verloor, herwin en prysgegee. Die nie-Afrikaner elite bedryf besigheid soos gewoonlik, maak geld en trek die toutjies agter die skerms. Die Swart elite is onderdruk, het hul mag teruggekry as gevolg van gewapende stryd wat gelei het tot die ineenstorting van Afrikaner moraal en amper in duie storting van die landsekonomie en nou is hulle besig om hulself te verryk ten koste van die agtergeblewenes wat nooit sal opvang nie.

Die Khoi-San gaan waarskynlik nooit weer in hul eie land, hul oergeboorteland, die heersers of meesters van hul eie noodlot wees nie. Hulle mag konings en koningskinders gewees het, of steeds wees, maar hierdie titels is effens hol en niksbeduidend. Hulle is die slagoffers van wrede geskiedenis. Hulle het hul tyd gehad. Hulle het hul alleenheerskappy gehad in 'n land waar daar geen kompetisie was nie.

Nou het hulle bloot die cold comfort of a concurrent claim.