In laat 1989 het Flip Swiegers vir 'n maand of wat my woonstel in die Tuine gedeel en het my versameling van kitare benut om homself te vermaak, en my ietsie te leer.
Ek het 'n Yamaha jumbo akoestiese kitaar gehad, die eerste ordentlike kitaar wat ek ooit besit het en 'n goedkoop elektriese kitaar van Duitse oorsprong (geen vervaardigersnaam) met 'n plank liggaam en heelwat swaarder nek wat die balans heeltemal uitgegooi het en wat mens deur hou hoëtroustel se klankversterker moes speel. Nie juis 'n konsertinstrument nie en die klank daarvan was na my mening effens aan die dofswaarplof klank. Dit kon nie eens ordentlik raas nie. in elk geval kon ek nie daarmee raas in die woonstel nie.
Flip, wat (soos ek dit verstaan het) iets soos 2 formele kitaarlesse gehad het en homself daarna die basiese dinge geleer het en besonder vaardig geklink het, het die elektriese kitaar gespeel en dit laat klink soos iets wat amper die moeite werd is. Dit was nie 'n Les Paul of Stratocaster nie, maar in Flip se hande kon mens amper glo dat dit op 'n verhoog sou pas mits mens jou hoëtroustel sou saamneem.
Flip se repertoire het bestaan uit 'n mengsel van ander mense se musiek, soos die versamelde werke van Kris Kristofferson, bekende ruk en rol nommers met woorde wat hyself geskryf het en van humoristies en/of satiries was, en sy eie komposisies.
Uit laasgenoemde groep was die wenner *by verre) 'n reggae beïnvloed liedjie genaamd "Die Hottentotte". Ek het mettertyd so half en half Flip se akkoordprogressie en reggae styl ritme aangeleer, maar kon nooit die liedjie sing nie. Die melodie was soos helium, soos 'n veertjie wat in die wind waai, en iets wat baie vinnig in jou kop bly vassteek het en dit tipe van ding waarvan mens meer en meer wil hoor. Ongelukkig het Flip op daardie tyd niks anders gehad wat enigsins op die vlak van "Die Hottentotte" was nie, nie eens naastenby nie. Dit was so suksesvol dat daar by verskeie geleenthede 'n versoek was van ons gemeenskaplike vriendin Margaret dat Flip die liedjie vir 'n klein gehoor moet speel. Soms was hy heel gewillig, soms minder so.
In die tyd dat Flip en ek saamgewoon het in my woonstel het ek die gewoonte gehad om my kantoor diktafoon, wat met gewone C60 of C90 audiokassette gewerk het, huistoe te bring om opnames te maak van myself en my swak pogings, of ek en Louis Herbert wat partykeer saamgespeel het, al was Louis ook myle beter as ek, en by een geleentheid Flip wat 'n paar van sy liedjies gedoen het, onder andere "Die Hottentotte". Ek het daardie kassetband iewers in 'n skoenboks en sou dit graag digitaal wou laat verenig indien dit enigsins moontlik is. Dit moet eendag 'n stuk geskiedenis wees, stukkie Africana.
Ewenwel, Flip as komponis het min of meer 'n besondere lae profiel gehou tot die vroeë jare van die een en twintigste eeu toe hy die storie, woorde en musiek geskryf het vir Black Label, 'n rugby kabaret. Die liedjies was op die man af oor allerlei van die donker gaatjies en agterstrate van die rugby kultuur en die melodieë was ongelooflik. Hierdie rugbyliedjies is soos die anti-Leon Schuster of anti-Bill Flynn omdat hulle vlymskerp bewoord is en die hemelse, verslawende wysies het. Nie juis die musiek wat mens by 'n braai sou speel nie.
Die kabaret is 'n paar keer op die planke gebring, maar sover ek weet bestaan daar geen opnames van enige optrede of van enige van die liedjies nie.
Margaret het nou 'n groot nuwe projek, 'n dokumentêre rolprent oor die sogenaamde Black Duchess of Bain Street, 'n Swart vrou wat in die Britse adelstand in getrou het en onder andere in Wellington gewoon het, digby Margaret se huis op die dorp. As deel van haar bemarkingspoging om fondse in te samel om die dokumentêr te maak, wat onder andere 'n navorsingbesoek aan Brittanje sal verg, het sy 'n 10 minuut voorskou saamgestel en het op die ingewing gekom om Flip te vra om 'n opname van Die Hottentotte te verskaf om daarin te gebruik as klankbaanmusiek.
Flip het geen opname van Die Hottentotte besit nie en ek sou raai dat hy dit lanklaas gespeel het en dit gou eers weer moes leer, maar gelukkig het hy op Stellenbosch mense ontmoet met 'n klankateljee wat hom die geleentheid gebied het om een opname daar te doen sodat hy 2 digitale kopieë van die liedjie kon maak. Die een opname is inderdaad op Margaret se voorskouprogrammetjie gebruik.
Flip het vir my die CD-R gebring sodat ek dit op my rekenaar kon rip. Een hele liedjie op 'n CD.
Die opname begin met geraas van stemme in die agtergrond en dan Flip wat die geykte "One, Two, Three, Four" aftelling doen voor hy die intro speel.
Dit klink vir my of Flip op 'n akoestiese kitaar speel en dus is die klank van die instrument radikaal anders as hoe ek die eerste weergawe onthou omdat die akoestiese kitaar 'n helderder klank het, heelwat meer "bright", as die elektriese kitaar weergawe al het hy laasgenoemde half soos 'n akoestiese kitaar gespeel omdat hy nie die klankversterker luid kon opdraai nie. Ek neem aan die kwaliteit van die mikrofoon in die nuutste opname is oneindig beter as die diktafoonmikrofoon wat ons destyds gebruik het. Dit moet om dieselfde rede wees dat Flip se stem ook harder en duideliker hoorbaar is.
'n Ander verskil, en moontlik speel my geheue parte, is dat die musiektempo van vroeëre opname effens vinniger en die stem 'n toonhoogte of wat hoër was. Ek neem aan die 20 jaar sou in die eerste plek 'n verskil in die stem gemaak het, en moontlik het Flip nou besluit om 'n effense ander aanslag op die lied te maak. Of ek onthou verkeerd.
Die eerste weergawe van "Die Hottentotte" was ligter, amper speels, en ongekunstel omdat daardie opname in my sitkamer gemaak is sonder enige formele rede anders as my idee dat die liedjie nie verlore moet gaan nie. Vir die nuutste weergawe is daar druk op Flip om iets te produseer wat "definitive" moet wees en met 'n doel aangevra is.
Wie het gedink die diktafoon weergawe sou ooit gehoor word deur enigiemand anders as ek en Flip? Nou is daar die kans dat allerlei potensiële beleggers in Margaret se projek die liedjie kan hoor, en dan boonop die verdere kans dat dit in die vollengte dokumentêr gebruik kan word, en die moontlikheid van meer uitgebreide blootstelling. Aan die ander kant, Flip sal waarskynlik 'n selfs nog meer professionele opname wil maak as "Die Hottentotte" nog steeds op die klankbaan van die dokumentêr gaan wees.
Die woorde van die lied is 'n mymering of bepeinsing oor die eeue heen oor die geskiedenis van die ontdekking en ontwikkeling van Suid-Afrika, en by implikasie Afrika as geheel, en die interessante rassemengsel wat hier ontstaan het deurdat die plaaslike bevolking, wat so te sê uitgewis is, met die kolonialiste geheul en gesosialiseer het. Europese bloed en Afrika bloed het nuwe skakerings van kreoolkinders voortgebring en dit is 'n verskynsel wat enersyds wesenlike probleme in die land veroorsaak het en andersyds een van die redes is hoekom Suid-Afrika op alle vlakke so 'n boeiende land kan wees.
Derhalwe pas die liedjie baie goed aan by Margaret se tema oor die Black Duchess of Bain Street.
(hierdie woorde word aangehaal met permissie van die lirikus, Philip Adriaan Swiegers)
DIE HOTTENTOTTE
die hottentotte
die hottentotte slaap in my bloed
my groot, groot ouma was 'n boesmanmeid
my oupa was 'n duitser en 'n seeman
ek dans die ritme van die khoisan tyd
beethoven se melodie
die hottentotte
die hottentotte slaap in my bloed
my vrou se dogters het kroeshare
my seun trek met sy swart vrou na australië
ek dans bedonnerd in die ysbeertydperk
vleg my broer se hangtou deur die jare
die hottentotte
die hottentotte slaap in my bloed
my klein, klein dogter is 'n platneusbaba
my oudste kind sê ons word soutpilare
ek dans van boere country al hoe verder weg
slinger met my hande deur my hare
die hottentotte
die hottentotte slaap in my bloed
my groot, groot ouma was 'n koningsdogter
my oupa was 'n tronkvoël van europa
ek dans makaber met 'n rubber necklace
swem na die suidpool
o, die hottentotte
o, die pikkewyne
die dolfyne
strandlopertjie voeltjietjies
nuclear submarines
Die eerste en laaste verse vertel die verhaal uit twee oogpunte. Die een oogpunt is die Eurosentriese Afrikaner baasskap benadering van die ouma as boesmanmeid met die neerhalende en rassistiese klem op die oënskynlik lae status van die inheemse vrou, in kontras met die meer verhewe status van die Duitse man wat klink soos iemand wat 'n avonturier is wat die wêreld verken en toegerus is met eeue se beskawing. Hierdie beskawingsnosie word versterk deur die sofistikasie van Beethoven se musiek te gebruik as kontras vir die oer Afrika ritmes van die Khoi-San mense wat vir die sogenaamde beskaafde Europeër uiters primitief gaan klink en waarskynlik verwerp word as gebrekkig aan enige musikaliteit.
Ek weet nie of Beethoven beskou sou word as die hoogtepunt van musiekervaring nie, maar die kontras is skril. 'n Dowe, hardkoppige en geniale Duitser se melodie en verwerkings gemeet teen die oënskynlike eentonige en herhalende voetstamp en tamboeryn ritmes van die Khoi-San en hul skril stemme en eensnaar instrumente wat nie klink soos enigiets wat die Europese oor sou waarmerk as die moeite werd om as musiek of musiekinstrumente geklassifiseer te word nie.
Daardie beeld van die teenstelling tussen primitiewe samelewing en beskawing word omgekeer in die laaste vers waar ons daarop gewys word dat die boesmanmeid van die Duitser se vlak persepsie eintlik van adelike afkoms is onder haar eie mense, terwyl die gewaande gesofistikeerde seevaarder niks meer as gewone matroos is wat moontlik op die seevaartberoep besluit het omdat sy toekoms in Europa beperk is vanweë sy tronkgeskiedenis, of moontlik omdat hy as uitgeworpene uit sy eie samelewing gedink het hy kan heerskappy gaan voer oor inboorlinge van Afrika wat nie sy voorgeskiedenis ken nie en wie hy kan domineer deur middel van wapenmag en geweld.
Wit gemors in Europa word wit heerser in Afrika. Khoi-San heerser in Afrika word boesman onderdanige in Afrika, en in lewensgevaar weens rasseslagting.
Ek weet dat Flip Swiegers se ouers in die destydse Suidwes-Afrika ontmoet het en getrou het, en dus waarskynlik daar gebore is, en na Suid-Afrika getrek het in die laat Sestigerjare, en dat daar wel Duitse wortels is vir die Swiegers familie, maar ek weet nou nie juis of daar 'n Duitse matroos onder Flip se voorouers was en of hy met die inboorlinge van Duits Suidwes ondertrou het nie. Dit kan poëtiese lisensie wees of biografie, maar dat dit 'n treffende beeldstel en kontras is, is nie te betwyfel nie.
In die laaste versie is daar nog ' n skrille kontras tussen die Khoi-San dans, wat ritueel kan verteenwoordig of moontlik sommer net vir die lekker kan wees, en die geweldadige, eg Suid-Afrikaanse marteldood wat ontstaan het in die onlusgeteisterde townships sedert 1976, naamlik die metode van 'n rubber buiteband om die slagoffer se skouers af forseer sodat hy of sy hulpeloos is, die gooi van petrol oor die liggaam en die aan die brand steek van die brandstof met die gevolglike aaklige en pynlike dood, of derdegraadse brandwonde as die persoon oorleef.
Die slagoffer van 'n rubber necklace se dans is 'n wriemeling van intense pyn en dit is 'n ritueel, maar daar is geen uitdrukking van plesier in die bewegings nie en as daar klank is, is dit die martelaar se smartkrete. Dit is inderdaad 'n spektakel dog 'n vergrypingspektakel geskep deur individue wat klaarblyklik geen respek vir menselewens het nie en so gebrutaliseer is dat hulle hierdie tipe van wrede teregstelling, dikwels op blote agterdog, met hoogheiligheid kan regverdig.
In vervloë dae is ketters en hekse verbrand. Dis 'n straf wat opgelê is deur beweerde beskaafde mense en gesofistikeerde regstelsels. In Suid-Afrika was die bewering dat die rubber necklace net weereens benadruk hoe barbaars en sonder enige remediërende eienskappe Swart mense is. Maak dit die straf enigsins meer aanvaarbaar as dit opgelê is deur een of ander vorm van regsgesag eerder as deur eenparige groepsgesag?
In die tweede vers het die singer se vrou se dogters kroeshare en dit laat mense wonder, veral as die uitgangspunt is dat die sanger Wit is, aangesien Flip Wit is, of hierdie dogters stiefkinders is, of is dit bloot een of ander Khoi-San gene wat via Flip se voorouers in sy kinders tot uiting kom? Meer interessant is die konsep van die verligte, bevryde Wit man wat met 'n Swart vrou getroud is en tog steeds nie tuis voel in sy geboorteland nie en eerder verkas na Australië wat veronderstel is om amper soos Suid-Afrika te wees in klimaat en kultuur, en tog ook nie is nie, en verder ook sy eie geskiedenis het van rasseslagting teenoor die Aborigines, wie tot vandag toe as 'n ondergeskikte spesie beskou word.
Die verskil vir die immigrant uit Suid-Afrika is seker dat die Australiërs daarin geslaag het om hul inboorlingprobleem so te sê op te los sodat die inboorlinge amper onsigbaar is en die mense op straat hoofsaaklik Wit is, terwyl Suid-Afrikaanse Witmense wat nie in hul geboorteland tuis voel nie, gepla word daardeur dat hulle in die verre minderheid is en altyd gaan bly.
Dit is ook natuurlik moontlik dat die tweede vers gesing word uit die perspektief van 'n Khoi-San wat al die struwelinge en stryd en die apartheidjare oorleef het, en dus positief moet wees oor sy eie toekoms in sy eie land, maar wie se seun nie so optimisties is nie.
Moontlik is enige land buite Suid-Afrika vir enige Suid-Afrikaner 'n beter vooruitsig as die geboorteland, weens misdryf, gebrek aan vooruitgang, die heersende kultuur van verryking en boetie-boetie deur die oligargie wat ons regeer, en die algemene gevoel dat die Afrika toekoms eintlik 'n toekoms van agteruitgang is en dat mense eerder moet padgee as om te wag vir die onvermydelike ongelukkige einde.
Die eerste verwysing na geweldadige, gewettigde wraakmoord is die laaste versreël van die tweede vers, naamlik die vermelding van die hangtou. Tot 1994 was die doodstraf op die Suid-Afrikaanse wetboek, vir moord en erg verkragting of aanranding, en natuurlik vir hoogverraad. Die hangdood was die straf. Die doodstraf is altyd gesien as barbaars en onmenslik, veral die idee dat een persoon kan besluit dat 'n ander persoon, ongeag van sy misdaad, ter dood veroordeel moet word. Dit was ook so dat nie-Witmense die meerderheid van tereggesteldes uitgemaak het. Wit geregtigheid het geseëvier en die inboorlinge het daaronder gelei.
Die kontras en konkretisering van die konsep is die verband net die dood as gevolg van die rubber necklace. Die geregtelike teregstelling deur middel van die hangtou is op die ou einde nie heeltemal uniek in die Suid-Afrikaanse konteks nie omdat die rubber necklace dikwels ook 'n vonnis was, alhoewel heelwat meer informeel opgelê. Die ding is dat institusionele geweld of straatgeweld steeds geweld bly en waar die beskawing verg dat die doodsvonnis verantwoord moet word deur deeglike ondersoek, lei van getuienis en weldeurdagte bepeinsing en oorweging van feite en omstandighede, is die uiteinde nog altyd die besluit van 'n mens oor 'n ander mens en op 'n manier killer en meer angswekkend in die neutrale brutaliteit, as die besluit van enige straatkomitee of oproerige skare waar mens op 'n manier die gevolge van opgesweepte emosie kan vergoelik. Aan die ander kant moet mens waarskynlik nie iets goedpraat wat sogenaamd instinktief en sonder oënskynlike rasionaliteit plaasvind bloot omdat die daders na bewering minder gesofistikeerd is nie. Brutale dood is brutale dood, ongeag van die sanksionering daarvan.
Die danselement in die lied is enersyds 'n kommentaar oor die algemene nut van musiek as opwekker van gelukkige emosies of as bron van ritueel en die dans self kan die hart en siel lig maak, die meganisme wees vir versugting en gebed of 'n parodie van gelukkige tye waar die brandende rondtrippel en val soos 'n wafferse shaman skoffelaar terwyl hy of sy terselfdertyd 'n uiters pynlike dood sterf.
Die dans is veronderstel om net soveel betekenis te hê onder gepaste omstandighede as wat dit bloot breinlose uiting van dronk plesier kan wees. Met dans kan mens poog om hoër te reik na verhewe emosies. As iemand goed kan dans, is hy of sy veronderstel om goed in die bed te wees. As jy dans, kan jy die gode betower, besweer of bloot oortuig om jou pleidooi vir reën of groot oeste of baie wild met positiewe erkenning te aanvaar.
Die Wit Suid-Afrikaner gaan seker nie juis die Khoi-San skoffel aanleer nie en sal glad nie die rubber necklace dans wil doen nie, maar die dans op die maat van populêre musiek is plesierig. Daar is 'n goeie woordspeling hier wat die musiek van die volk, wat Boere country klanke kan wees, ook vereenselwig met die vaderland. Selfs Afrikaners, die Boere, verlaat op 'n streep die tuisland in Afrika en wyk uit, na Australië, maar ook na Kanada, Brittanje en die VSA. Al hierdie lande het ook 'n kultuur van Country musiek, maar dis nie Boere country nie. Die dans is ook nie sakkie-sakkie nie. Boere country was in die Tagtigerjare besonder populêr, met name soos Cora Marie, Kupido, Lance James, en meer, in die bar jare van laat apartheid voor die ontploffing van Afrikaanse rock en disko-pop musiek in die huidige millennium, en dis hierdie Bapsfonteinkultuur wat agtergelaat is deur Wit werkers wat die buiteland opgesoek het vir 'n bestaan ver weg van die onderdrukkende nuwe Swart regime wat goeie Boeremense vreemdelinge in hul eie land gemaak het, waar hul verdring gevoel het. Dit is baie net soos hul voorsate destyds die Khoi-San verdring het en onderdruk het. Om nie van die amperse uitwissing te praat nie.
Daar is nog steeds musikante van Boere countrymusiek maak en hulle het nog steeds 'n gehoor, maar dis wragtigwaar nie meer die mainstream in Afrikaanse musiek nie.
Die storie van Lot se vlug uit Sodom of Gomorra eindig met sy vrou wat terugkyk na die wonderlike plek waarvandaan sy wegvlug, omdat sy eintlik terughunker ten spyte van die verdoemenis wat die bose stede gaan tref. Sy was dom. Sy het die kans gehad om te ontsnap na 'n nuwe, beter lewe, maar kon dit nie oor haar hart kry om nie nog net een laaste nostalgiese oomblik te beleef nie.
Vir my is die simboliek hier op een vlak die Afrikaners, en ander genote onder die Witmense, wat nog al die jare terugkyk na die goeie, vet jare onder apartheid toe 'n Witman in sy eie land kon heerskappy vier en die nie-Wittes hul plek geken het. Tot 'n mate is Suid-Afrika vandag honderde maal meer welaf en in 'n beter toestand as wat dit voor 1994 was, en tog is daar diegene wat weier om dit te aanvaar en nie 'n kans laat verbygaan om te hunker na die donker verlede nie. Dan is daar die emigrante wat in Australië en elders sit, en ook steeds immer terugkyk na Suid-Afrika en met mede-emigrante nostalgies raak oor die ou dae toe dinge beter en lekkerder was, voor hulle gedwonge gevoel het om die land te verlaat. Die hunkerendes verdien om verewig verstar te word as soutpilare. Bar, nutteloos, monumente vir die gebrek aan toekomsvisie en begrip.
Die verwysing na die ysbeertydperk en die suidpool is nie vir my heeltemal so klinkklaar duidelik nie. Die suidpool is moontlik bloot simbolies nog 'n afgeleë vasteland waarnatoe mens kan ontvlug, en saam met die ysbere (of is hulle net by die noordpool?) of pikkewyne gaan woon sonder dat daar veel mense gaan wees om jou te terroriseer of te onderdruk of selfs net ligweg te pla. Die wit van die ys is ook simbolies vir reinheid en onskuld en tog ook 'n barheid en steriliteit. Soos swart is wit die afwesigheid van kleur. Moontlik die afwesigheid van kleurbewussyn. Dis ook besonder koud en nie heeltemal die warm klimaat van Suid-Afrika nie, wat dit leen tot die buiteluglewe van sonneskyn, braaivleis en Chevrolet.
Hedendaags, 20 jaar nadat "Die Hottentotte" geskryf is, is daar ook die gevaar en effek van aardbolverwarming en die gepaardgaande vermindering van die ysvasteland omdat die pakys stadig maar seker besig is om te smelt. Daar is ook die risiko van meer drywende ysberge as ooit tevore wat 'n gevaar vir skepe op die suidelike roete kan wees. En die gevaar dat die watervlak langs ons kuste gaan styg sodat die herwinde deel van Kaapstad se strandgebied dalk binnekort weer onder see-oppervlak gaan lê en die seewater teen Clifton woonstelle se sitkamervensterbanke gaan klots.
Uit daardie perspektief gesien, is die ontvlugting na die suidpool nie juis meer 'n houdbare opsie nie. Een van die dae is daar nêrens op daardie vasteland enige plek om te skuil nie.
Die dans in die ysbeertydperk kan ook 'n verwysing na die ystydperke wees wat duisende jare gelede die wêreld geknel het en is dus 'n verbinding tot die oeroue ontstaan en bestaan van die Khoi-San wat min of meer die Eerste Mense was. Die danse wat hul oervoorouers gedans het, is waarskynlik baie dieselfde as die danse wat hul steeds dans.
Die bedonnerdheid is enersyds waarskynlik woede teenoor die omstandighede, woede as gevolg van die sielsvernietigende verontagsaming van die menswaardigheid van die Khoi-San of selfs bloot die inwoners van Suid-Afrika onder die apartheid regime. Andersyds beteken bedonnerd sommer ook om gekul te wees. Soos wat die wat Khoi-San, en ander inboorlinge die wêreld oor, deur Wit setlaars uit hul grond en regte gekul is. Die oorspronklike kullery was gewoonlik oor die sogenaamde wettige aankoop van grond en die verplasing van die inboorlinge na minder goeie weivelde en minder vrugbare landbougrondgebied. Hierdie kullery is voortgesit in die sogenaamde nuwe bedeling wat die Nasionalistiese regering in die vroeë Tagtigerjare ingevoer met 'n Driekamer parlementêre stelsel waar al die verskillende rassegroepe stemreg gehad slegs vir hul eie kamer in parlement en die Swart bevolking mooi netjies uitgelaat is, met die gevolg dat die proporsionele bevolkingsgetalle steeds die Wit regering bevoordeel het en vir hul die meerderheidshuis gegee het en die Nasionale Party dus steeds die land bly regeer het. Boereverneukery deur die boere.
Die dolfyne, pikkewyne en strandloper voëltjies gee vir ons 'n beeld van strandparadys, 'n omgewing van rustigheid en bepeinsing. Ek weet nie van strandloper voëltjies nie, maar die dolfyne en pikkewyne is egter ook bedreigde spesies. Die pikkewyne is gedurig slagoffers van olievermorsing langs die kuste van die aardbol en dolfyne word gevang in reuse diepsee nette wat eintlike vir ander vissoorte bedoel is, maar die dolfyn sterf in elk geval. En ek vermoed daar is ook 'n mark vir dolfynvleis. Hulle is veronderstel om hoogs intelligent te wees en derhalwe is dit meer van 'n skande om hulle uit te wis as tuna, of stokvis, of wat ook al die teiken van die vissers is. Tog snaaks dat mense diskrimineer op die grond van gewaande vis intelligensie. Daar is nie 'n probleem met die vang en eet van tuna per se nie, bloot die feit dat daar 'n gevaar is dat tuna bronne uitgewis gaan word omdat daar geen perke is aan die vangste nie. Hoekom sou die lewe van 'n dolfyn meer werd wees bloot omdat dit sogenaamd intelligent is en 'n tuna na bewering nie?
Die simboliese verbintenis met strandlopertjie voëls is natuurlik dat die Khoi-San as strandlopers geklassifiseer is toe die Portugese en Hollandse seevaarders vir die eerste keer met hulle te doen gekry het. Nog later is die strandlopers Hottentotte genoem, en die hele begrip van Khoi-San is eers heelwat later, eeue later, gekonseptualiseer om 'n meer akkurate omskrywing en klassifikasie van hierdie inboorling bewoners van Suider-Afrika te gee.
Die tegnologie van 'n nuclear submarine is omtrent so ver verwyder van die Khoi-San lewensstyl as wat mens kan kom en dis 'n kil simbool van iets wat terselfdertyd 'n toppunt van beskawing en tegnologie verteenwoordig en ook 'n dodelike wapen is, die ne plus ultra van stil en dodelik en onkeerbaar, in elk geval in die jare voordat interkontinentale missiele die hoogtepunt van gesofistikeerde massa vernietiging geword het. Die ding met die kernduikboot is dat dit blykbaar vir baie lang tye onder water kan bly, veel langer as konvensionele duikbote, sonder om nuwe brandstof of suurstof of proviand in te neem. So 'n duikboot kan duik en vir etlike maande uit die sig verdwyn. Dis die stille, onbespeurde gevaar wat op enige plek en enige tyd kan toeslaan met groot vernietigingskrag. Die diepsee is die mees onbekende deel van ons planeet. Wie weet wat werklik daar skuil?
Die hottentotte het op die strand geloop, maar sover ek weet, het nulle nie enige skeepvaart beoefen nie, selfs nie eens as vissers nie. Hulle het nie die verbeelding of nering of tegnologie gehad om kolonialiste te word nie. Hulle het nie na nuwe wêrelde gereis op soek na avontuur, weelde of ontsnapping nie. Hulle was wie hulle was en het gewoon waar hulle gewoon het. En dit sou moontlik steeds so gewees het, sou nog die Portugese nog die Hollanders ooit die moeite gedoen het om die kus van Afrika te verken of voet aan wal te sit.
Of ons dit verwens of verwelkom, die huidige Suid-Afrika is 'n produk van tronkvoëlseevaarders wat hier nedersettings gestig het, ondertrou het met die plaaslike bevolking, sommige van hulle uitgewis het en oor die algemeen 'n heel nuwe nasie tot stand gebring. Ons is 'n nasie van immigrante, slawe, migrante en tuisblyers. Daar was vreedsame besetting, geweldadige oorname, kolonialisering, verowering, daar was oorlog en vrede, en daar was onderdrukking en bevryding, daar was armoede en landelike fokus, nou is daar rykdom en verstedeliking. Die Afrikaner elite het hul mag verloor, herwin en prysgegee. Die nie-Afrikaner elite bedryf besigheid soos gewoonlik, maak geld en trek die toutjies agter die skerms. Die Swart elite is onderdruk, het hul mag teruggekry as gevolg van gewapende stryd wat gelei het tot die ineenstorting van Afrikaner moraal en amper in duie storting van die landsekonomie en nou is hulle besig om hulself te verryk ten koste van die agtergeblewenes wat nooit sal opvang nie.
Die Khoi-San gaan waarskynlik nooit weer in hul eie land, hul oergeboorteland, die heersers of meesters van hul eie noodlot wees nie. Hulle mag konings en koningskinders gewees het, of steeds wees, maar hierdie titels is effens hol en niksbeduidend. Hulle is die slagoffers van wrede geskiedenis. Hulle het hul tyd gehad. Hulle het hul alleenheerskappy gehad in 'n land waar daar geen kompetisie was nie.
Nou het hulle bloot die cold comfort of a concurrent claim.