Saturday, November 24, 2007

Was daar 'n tyd in die middel Tagtigs dat Chevey Chase hip was? Paul Simon moes so gedink het, of miskien was hulle groot maatjies, want daar sit Chevy lewensgroot langs Simon, en gee voor hy sing die lirieke vir You Can Call Me Al, die eerste liedjie wat die Graceland album vrygestel is as lokaas vir die radioluisteraarspubliek, en natuurlik die MTV generasie.

Dit was 'n goeie liedjie, catchy, it had a beat and you could dance to it, soos die Amerikaanse Top 40 radiostasies van die Sestigs hul popmusiek wou hê. Die ding was dat die liedjie hierdie eg Suid-Afrikaanse geur gehad het omdat die kitaar, baskitaar en tromme gespeel is deur Suid-Afrikaners. Wanneer laas het Suid-Afrikaners sulke prominente rolle gespeel in enige internasionale musiek?

Dat Graceland een van die albums van die Tagtigs is, is nie te betwyfel nie, en myns insiens is dit een van die beste Paul Simon albums ooit omdat dit mengsel van musiek en liriek so perfek pas en so intens plesierig is. Daar is nie een liedjie wat nie goed is nie en oorwegend is alles uitstekend.

Ongelukkig was daar destyds, en moontlik steeds, die groot skadu wat oor die album en oor Paul Simon gehang het weens die gewande verbreking van die kulturele boikot wat destyds van pas was en blykbaar nogal streng toegepas is. Wat hierdie situasie waarskynlik vererger het, is dat dit nie bloot 'n Wit Amerikaner was wat die boikot omseil het nie, maar dat sy medewerkers boonop Swart Suid-Afrikaners was, dus die mense wat veronderstel was om die onderdruktes te wees wat op die lang termyn by die boikot sou baat wanneer Apartheid tot 'n val sou kom. Vir een groep mense was Paul Simon op daardie tyd 'n skurk, al was hy waarskynlik totaal en al gekant teen Apartheid,en vir ander mense was hy 'n held. Ladysmith Black Mambazo het gebaat by die internasionale blootstelling, asook Ray Phiri en Bhagiti Khumalo, en moontlik ook 'n deel van die plaaslike musiekindustrie wat voorheen deur die Wit media geignoreer is.

Ek vermoed dit is weens die boikotverbreking dat soveel van die Graceland liedjies lugtyd gekry het op Suid-Afrikaanse radio, soos Radio 5 (soos dit destyds was) en selfs Radio Goeie Hoop (soos dit destyds was), wat gehelp het om die musiek onder ons mense te versprei en oor die algemeen Witmense 'n smakie te geen van mbaqanga, wat so inheems was soos boeremusiek of poetoepap by braaivleis.

My avonture in mbaqangaland het iewers in 1979 begin toe ek finaal gatvol geraak het vir die disco musiek wat Radio 5 in ons kele afgedruk het onder die leiding van Pieter Human, en oorgeskakel het na Radio Xhosa (soos dit destyds bekend was) wat ek per toeval ontdek het toe ek na oor die frekwensies heen op my radio geswerf het. Daar het ek die mees eksotiese, vreemde en opwindende musiek ontdek wat ek al ooit gehoor het. Galloppende tromme, kitare met herhalende treble klank vyf noot refreine laag teen die nek gespeel, en saxofone wat eweneens herhalende dog hipnotiese riffs gespeel het. Meestal was dit instrumentele musiek, maar elke nou en dan was daar 'n sanger wat herhalende lirieke gesing het in 'n taal wat ek nie verstaan het nie. Ek kon ook nie die advertensies verstaan nie en lank gedink die verwysing na King Korn het iets te doen gehad met King Kong, en i-Surf with Superblue was populêr. Op 'n manier was dit beter om na hordes advertensies te luister as mens nie die taal verstaan nie.

Ek het sommer vinnig omtrent slegs na Radio Xhosa geluister behalwe vir 'n tydperk in 1981 – 1982 toe ek Saterdae laat oggend na The Hobnailed Tacky Show op Radio Goeie Hoop geluister het, om allerlei interessante kontemporêre musiek te hoor wat nie op ander radiostasies aangebied is nie; en Audiomix op die Engelse sender waar Chris Prior baie gedoen het om my algemene musiek kennis te verbreed oor mense soos Van Morrison en groepe soos ZZ Top. Radio Xhosa het nie slegs mbaqanga gespeel nie, maar ook soul en R & B treffers van die oomblik en, verstommend genoeg, hulle het Fleetwood Mac se treffer Go Your Own Way baie gespeel.

Dus, toe ek snitte uit Graceland vir die eerste keer gehoor het, was ek nie totaal onbekend met die mbaqanga genre nie. Dit was besonder lekker om die reeds bekende styl te hoor in 'n ander tipe van konteks, veral met Paul Simon se hoogs literêre lirieke wat moontlik mense tot dieper nadenke kon stem, maar vir my hoofsaaklik bloot gevat en amusant was

You Can Call Me Al, Diamonds On The Soles Of Her Shoes en Homeless was seker die grootste treffers in daardie tyd, maar ek het die album werklik begin waardeer toe ek The Boy In The Bubble en die titelsnit gehoor het. The Boy In The Bubble is 'n goeie voorbeeld van die tipe van liedjie wat my hoendervleis gee elke keer as ek daardie openingsnote van die baskitaar hoor. Dit is voorwaar gatswaai musiek en een van die nommer een dansnommers wat by die Indaba Project gespeel is in die laat Tagtigs. My hart bokspring sommer as ek die liedjie hoor.

Baghiti Khumalo se fretlose baskitaarspel laat die liedjie Graceland soos 'n arend sweef oor die mitiese Mississippi delta waarna Paul Simon verwys in die woorde. Hy vertel 'n storie in sang en doen dit so moeitevry en met soveel goeie gees dat ek omtrent heeltyd 'n idiotiese glimlag van my gesig moet afweer terwyl ek daarna luister. Ek wil nie hê mense moet dink ek kwyl omdat ek breindood is nie.

Daar is dit: een van my gunsteling albums. Die enigste Paul Simon produk wat ek besit. 'n Puik versameling van uitstekende musiek en liriek. Die beste ding wat uit die kulturele boikot gekom het.

Friday, November 23, 2007

Sommige blou kepsies verstom my soms met hul kranige stommiteite. En dan is daar die bulbrigade wat immer kommer wek as hulle blaas en boosweg reageer op die geringste provokasie wat na bewering deur die handrathoenders veroorsaak word in die midde van die stryd om oorlewering en geskiedskrywing.

My webbladsy het die kenmerk van kwaliteit en die handelsmerk van vulgariteit. Tog nie werklik nie. As daar enigiemand is wat minder vulgaristies is as ek, dan vermoed ek onraad en onmag, en die oorwig van waarskynlikhede. Hoekom moet die mensdom dom wees of krom wees of stom wees, as die perdetelers hingste en merries laat flerrie met muile wat ongeveer niks te doen het met die histeriese agtergeblewenes nie. Almal dra bankvas by tot die algemene welsyn en tog is daar diesulkes wat alewig hamer op die gebrek aan rookkamers en bizarre aktualiteite prober verdedig as kulturele wapentuig.
DIt is juis om hierdie redes dat ek wil verstout wees en ou goud wees, en nimmer koud wees met 'n handvol boudvlees.

Wednesday, November 07, 2007

Hierdie Brent Is Nie Crude Oil Nie

EDEN BRENT     SOMETHING COOL (2003)

Soos ek die storie verstaan, het Valiant Swart vir Eden Brent in New Orlieans ontmoet terwyl hy besig was met die maak van 'n dokumentêr oor blues. Sy het saam met 'n antieke Swart bluesmusikant opgetree en die tweetjies het Valiant Swart totaal verstom. Die Swart ou is dood voordat hy Suid-Afrika kon besoek, maar Eden Brent het dit gemaak en by Aardklop gespeel, en moontlik ook ander plaaslike plekke. Hierdie album is soort van 'n "souvenir, novelty or party trick" aandenking van haar SA konneksie.

Brent is wat bekend staan as "the real deal," aan die jazz kant van blues, 'n musikant wat ses of sewe dae 'n week werk in nagklubs of kroeë en die geluk het om naby die oorspronklike bronne van jazz en blues te wees en direk die invloede in te neem, en ook 'n kans het om deur middel van daardie harde werk 'n talent te omskep in 'n gemaklike vaardigheid. Nie net het sy 'n rustige, stewige aanslag op die klavier nie, en boonop beheersing van haar genre, maar sy het ook daardie wonderlike, sterk, effens heserige stem wat baie help om die gevoel in haar sang te sit, veral in blues waar gevoel veel meer waarde en nut het as tegniese vaardigheid.

Die liedjies is 'n mengsel van "standards" soos "Midnight Train To Georgi" of "I'd Rather Drink Muddy Water" wat al honderde kere opgeneem is deur ander musikante, maar hier tog vars bly omdat Brent soveel hart en siel insit, en haar eie liedjies waarvan "Ain't Gonna Be Your Lonely Fool" en "South Africa" die hoogtepunte is, maar al haar eie komposisies is so uitstekend dat 'n mens wonder hoekom sy nog die moeite doen om "standards" op te neem. "Lonely Fool" is een van daardie klassieke liedjies wat by die heel eerste aanhoorslag klink soos iets wat jy al voorheen gehoor het en dan onmiddellik in jou kop vassteek. Dit bewys hoe belangrik dit is om goeie lirieke, 'n goeie melodie en 'n goeie stem bymekaar te bring. "South Africa" is moontlik die eerste "post struggle" jazz blues oor ons land en dit gaan oor Brent se liefde vir die land eerder as oor die politieke stryd, en dit is totaal meesleurend. Beide hierdie liedjies hoort op radio, en sommer dikwels ook.

Maar elke liedjie is ewe goed – dit is 'n album wat heeldag in 'n mens se CD speler kan rus, 'n bewys dat as basiese dinge goed gedoen word, daar niks in die wêreld is om blues te klop nie.


 

Dan Patlansky Op ‘n Stasie

STANDING AT THE STATION (2003)

Hier het ons SA musikante wat blues speel, blues wat hulle op albums gehoor het en nou namaak. Dis gewoonlik nie eers die oer blues nie en soos so vele aspirerende SA blues kitaarspelers, is daar 'n stewige inspuiting Stevie Ray Vaughan in Patlansky se spel, en hy gee ons selfs sy weergawes van "Empty Arms" en "Chitlins Con Carne." Eric Clapton is blykbaar die ander invloed, as 'n mens op weergawes van "Hideawy" en "While My Guitar Gently Weeps" kan peiltrek, alhoewel daar nie veel van Clapton se blues klank te bespeur is nie. "Hideaway" begin as 'n weergawe van 'n weergawe wat ons goed ken en dan later spring die Stevie Ray Vaughan styl sommer rofweg in.

Ek verstaan dat hierdie 'n demo opname is en dit verduidelik miskien die minder lekker klankmeng. Die ietwat stram ritmeseksie, veral die tromme, is te luid, en die orrel gans te sag. Vir hierdie jazz-gebaseerde Texas styl van blues – en vir blues oor die algemeen – moet die ritmeseksie kan "swing" en 'n subtiele agtergrondondersteuning wees, nie die oorwegende teenwoordigheid naas die kitaar nie. Patlansky se spel is van die suiwerste, vloeibare, gevoelvolle blues spel wat ek al in SA gehoor het en al is Vaughan 'n duidelike invloed, het Patlansky nie daardie selfde swaar aanslag op sy kitaarsnare nie. Hy neig tog om netsoveel note te wil speel, die onkeerbare nootstortvloed wat terselfdertyd (veral by Vaughan) indrukwekkend en irriterend kan wees, en dit is wat sy weergawe van "Sweet 16," 'n B B King spesialiteit, interessant en minder geslaagd maak. King speel met 'n styl waar relatief min note gespeel word, en seker gemaak word dat dit die regte note is. Patlansky gee ons die stortvloed wat die impak verdun.

Die kitaarspel is oorwegend 'n plesier, veral op "Mississppi Muther Blues" en "Mongolius' Blue Hanglider" (waar Patlansky klink soos 'n mengsel tussen ZZ Top se "Blue Jean Blues" en Vaughan se weergawe van "Little Wing") en Patlansky gaan 'n monster wees as hy so voortgaan en sy ooglopende beinvloeding kan agter laat, 'n unieke styl ontwikkel en ook leer om minder stokkerig te wees in sy ritmespel. Die grootste nadeel van hierdie liedjies is dat sy stem heeltemal te jonk en te dun is vir die taak. Hy werk hard en dit klink of iets soos "Sweet 16" baie later opgeneem is as, byvoorbeeld "Empty Arms," maar hy is op sy beste met 'n country rock styl liedjie (sterk herinnering aan The Eagles) soos "Standing at The Station" waar die ligheid van die stem nie afbreek doen aan die liedjie nie. Die weergawe van "While My Guitar Gently Weeps", alhoewel 'n aangename, verrassende keuse vir 'n blues album, werk nie, want Patlansky kan glad nie 'n greep op die melodie kry nie en die verwerking van die musiek is halfwas.

Daar is nie baie suiwer blues albums deur SA musikante nie en dus is dit moeilik om presies te sê waar Patlansky inpas, maar ek sou sê dat hy 'n hoë standaard gestel het wat moeilik geklop kan word. Sy taak nou is om sy eie musiek te skryf ("Mongolius" is 'n uitstekende wegwyser na die pad vorentoe), harder te werk aan 'n eiesoortige kitaarstyl en 'n beter, sterker stem te ontwikkel as hy daarop wil aandring om blues te sing. O, en sy ritmeseksie moet ook leer ontspan, meer rustig "swing" agter hom.

Ek kan dit nie nalaat om my irritasie met die tos naam uit te spreek nie. Hierdie mense kom nie uit Mississippi nie en die musiek het so te sê niks met Delta blues te make nie. Dis nog steeds net wit outjies wat ander wit outjies namaak en die styl is Texas blues met 'n goeie skoot rock daarby ingesluit.

VALIANT SWAK

Voetstoots (1998)

Hierdie album se naam is heeltemal gepas as waarskuwing vir die oningeligte koper. "Voetstoots", vat dit soos jy kry, met geen beskerming teen latente defekte. Die subtitel moet wees, "Twee Vervelige Aande In Die Dorpstraatteater."

Dit is 'n ge-ykte musieksêding dat die ware toets van 'n liedjie is dat as jy dit kan sing met slegs klavier of akoestiese kitaarbegeleiding, en die melodie kom sterk deur, dan het jy 'n klassieke liedjie wat die toets van die tyd sal deurstaan. Die getuienis van "Voetstoots" is dat Valiant Swart 'n uiters middelmatige talent is wat nie weet hoe om met 'n ordentlike deuntjie voor die dag te kom nie, en nie die stem het om die liggewig liedjies interessant te kan sing nie. Die enigste sprankie van talent is sy vernuf met woorde, alhoewel hy neig om "poëtiese" woorde aanmekaar te ryg sodat dit oppervlakkig diep en betekenisvol klink, sonder dat dit in werklikheid enigiets meer as mistiese tjol is. Waar sy lirieke werk, soos by "Liewe Lettie" of "Almal Maak Haar Mal" of "Weeskind van die Weste" bly Swart by die konkrete en vertel 'n storie wat sin maak.

Die swakplek van sy musiek is, ongelukkig, dat hy nie juis 'n treffende melodie kan skryf nie – basies dieselfde deuntjie oor en oor – en nog minder kan sing. "Die Mystic Boer" werk omdat hy hoofsaaklik die woorde opsê en net sing by die refrein, vaag soos die deuntjie mag wees. Die ander liedjies wat werk, is "Liewe Lettie" en "Anyway, Alex Jay" wat beide gelukkig so sterk is dat dit moeite sal kos om nie iets te maak met hulle nie. Die snaakse ding is dat ek gedurig, by verskeie liedjies, 'n heel ander melodie hoor en dikwels 'n sterker melodie as die een wat Swart "sing." Die kitaarspel is net so middelmatig en oninteressant. Die album is 'n vreemde projek. Miskien moes 'n mens daar gewees het, 'n dronk aanhanger, en dan sou sy manier van halfpraat halfsing – 'n truuk om meer gewig te verleen aan dun materiaal – jou beindruk het en aangemoedig het om hierdie album as herdenking aan te skaf. Swart self klink nie of hy vreeslike moeite doen nie.

Dit kom my voor dat Swart se liedjies op hulle beste gehoor word wanneer hy saam met 'n hele elektriese groep speel sodat die verwerkings en die loslit rock die tekortkomings kan verbloem. As 'n mens nie 'n deuntjie het nie, moet jy maar die tromme laat stamp, die baskitaar laat bons en die elektriese kitaar laat huil, sodat die mense kan dans.